Stel geeste op die proef

STEL GEESTE OP DIE PROEF
Beeld, ongedateer

Ons hou daarvan om te sê dat ons vir onsself dink. Miskien glo onsself dat dit so is. In werklikheid word ons egter baie meer beïnvloed en in die stroom meegesleur as wat ons self besef.

Veral in ons moderne wêreld is dit byna onontkombaar dat ons kuddediere word wat op allerlei maniere rondgelei word. Deur die reklame en die massa-media word ons voortdurend met suggesties bestook. Ons word produkte van tyd en klimaat, van strominge en rigtings. Ons word outomate vanaf die punt waar ons handelsmerk-artikels koop soos die advertensies ons geleer het, tot by die punt waar ons politieke en maatskaplike slagkrete herhaal wat die opinie-makers ons geleer het.

Hoe moeilik dit egter ook al mag wees, ons moet eenvoudig probeer om ons nie so te laat meesleur nie. Ons moet ons karakter as mense daarin handhaaf, dat ons ons kritiese sin behou.

Vastepunt
Waar vind ons in dié war-net van invloede ’n vaste punt van waaruit ons die dinge kan beoordeel? Baie mense probeer nie eens meer nie. Hulle volg klakkeloos ’n leier wat hulle as betroubaar beskou. Ander soek vertroude geluide uit die verlede en meen dan dat hulle hulle met veiligheid kan toevertrou aan dié wat sulke geluide herhaal. Andere dink weer dat alles wat nuut is, ook werklik reg sal wees. Al hierdie weë kan egter na die afgrond lei.

Ons sal weer moet leer om die geeste op die proef te stel – om hulle te toets aan ’n objektiewe maatstaf. 1 Johannes 4:1 vermaan die gemeente om nie elke gees te glo nie, maar om die geeste op die proef te stel of hulle uit God is.

Daarmee is aan ons die vaste punt gegee in die warboel van menings, invloede en propaganda waaraan ons daagliks blootgestel word. Wat daarvan kan die toets van Gods Woord deurstaan?

Geroepe
Geen Christen mag ’n blinde volgeling wees van enige politieke, kerklike of maatskaplike leier nie. Dit sou benede sy stand as mens wees, laat staan nog sy stand as Christen. Ons mag ons nie láát lewe en láát gebruik nie, maar is geroepe daartoe om onsself aktief en positief te vergewis van die weg wat ons volg in alle dinge.

Te dikwels aanvaar ons as Christene die leiding van mense wat nie in ooreenstemming met die Woord van God na ons kom nie maar wat ’n beroep kom doen op die vlees in ons en dus eerder die wet van die oerwoud in ons wil oprig as die wet van God. As ons toegee aan die psigologiese druk wat van alle kante op ons uitgeoefen word, sal ons uiteindelik ons individualiteit verloor en tot die vlak van die primitiwiteit afsink. Net Gods Woord kan ons daarteen bewaar. – WDJ