Beoordeling van die Belhar-belydenis

 

[Ongedateerd. Uit die teks blyk dit dat die artikel/referaat? ná die publikasie van Geloof en protes : ’n antwoord namens beswaarde lidmate op sekere aspekte van Kerk en samelewing, (Pretoria: Die Komitee, [1987]) en waarskynlik voor “Antwoord van die Ned. Geref. Kerk op Geloof en Protes” (Pretoria : ASK, [1988]), geskryf is.]

1. Waaroor dit gaan

1.1.  Hierdie beoordeling van die Belhar-belydenis (BB) geskied teen die agtergrond van die situasie van verwydering wat tussen die NGSK en die NGK ontstaan het, en waarvoor die BB die teologiese en belydenismatige gronde wil blootlê. Die feit dat die NGSK dit nodig gevind het om die gronde vir sy verskil met die NGK in die vorm van ’n belydenis te giet, wys op die finale erns waarmee die NGSK die verskille met die NGK beoordeel. In ’n belydenis word immers voor God en mens uitgespreek wat die laaste en diepste dinge is waarom dit vir die kerk gaan. Die NGSK het geoordeel dat die dinge waaroor hulle met die NGK verskil, nie maar beleidskwessies met ’n meer praktiese karakter is nie, maar dinge wat die suiwerheid van die geloof van die kerk raak. Dit is vir die gesprek tussen die twee kerke van die allergrootste belang dat die NGK hierdie finale erns by die NGSK moet verstaan. Die gesprek tussen die twee kerke kan alleen slaag, as dit van die kant van die NGK met dieselfde erns benader word.

1.2.  Hier moet dit duidelik gestel word dat dit in ons omstandighede ’n totaal verkeerde aanpak sou wees om rondom die formele vraag na die wenslikheid van ’n belydenisskrif soos die BB ’n dispuut te voer. Dit is bv. verkeerd om die NGSK dit te verwyt dat hulle tot die opstel van ’n belydenis oorgegaan het sonder om die ander kerke in die familie te raadpleeg of hulle samewerking te soek. Watter korrekte dinge ookal op hierdie terrein gesê sou kon word, dit is in die gegewe situasie van onderlinge verwydering nie ter sake nie. Belydenis is soos hoes: dit kan nie onderdruk word nie. Formele dispute hou nie rekening met die eksistensiële erns wat hier aanwesig is nie, en kan alleen daartoe dien om die verwydering te vererger. Die NGK het onder die huidige omstandighede geen ander keuse nie, as om werklik op die saak in te gaan. Dit moet met die grootste openheid en bereidheid gedoen word, omdat daar ontsettend veel vir die kerk en die Koninkryk op die spel is.

1.3.  Die BB moet uiteraard verstaan word binne die situasie waarin dit ontstaan het: die situasie van die maatskaplike en politieke bestel wat met ’n omvattende term as die situasie van apartheid getipeer kan word. Dit is vir die lede van die NGSK ’n situasie van vernedering en verontregting. Hulle ervaar dit nie slegs as diskriminerend nie, maar ook as ’n verwerping deur die Blankes in die algemeen, maar spesifiek ook deur die NGK waaraan hulle met geloofsbande verbonde is, omdat die NGK ’n bepaalde rol in die verdediging van apartheid gespeel het en in sy kerklike beleid selfs die apartheidsidee voorberei het. Dat die BB op hierdie wyse deur die situasie mede-bepaal is, kan nie as ’n negatiewe faktor in verband daarmee verstaan word nie. In ’n sekere sin is alle belydenisse altyd bepaal deur die totale situasie waarin hulle uitgespreek word. Hoewel hy dit nie in die vorm van ’n belydenis gedoen het nie, was die NGK self die afgelope veertig jaar voortdurend besig om na die lig van die Skrif vir hierdie situasie te soek. Wat egter van die BB waardeer moet word, is dat dit nie ’n politieke of maatskaplike belydenis is nie, maar in alle opsigte ’n kerklike en Bybelse belydenis wil wees. Dit maak dit noodsaaklik dat die NGK ook die gesprek teologies moet voer, nie met die bedoeling om een of ander politieke oplossing te verdedig, en selfs nie eers om homself te verweer of te handhaaf nie, maar om werklik met die teologiese waarheidsvraag te worstel.

1.4.  Dit is belangrik om by die beoordeling van die BB eerstens te soek na die punte waarom daar ooreenstemming tussen die NGSK en die NGK bestaan, en daarna aandag te gee aan punte van moontlike misverstand of verskil. Die algemene stelling kan hier reeds gemaak word dat die BB wat die aard van sy teologie betref, ’n tipiese voorbeeld is van die soort teologiese denke wat ook in die NGK beoefen word en deur die NGSK van die NGK geleer is. Daar kan maklik aangetoon word dat al die positiewe uitsprake van die BB deur die NGK sonder voorbehoud onderskryf kan word. Die probleme kom na vore in die toepassings van hierdie positiewe stellings op die Suid-Afrikaanse situasie. Daaruit blyk dan hoe die NGSK die teologiese posisie van die NGK verstaan en waarom die NGSK dit nodig gevind het om homself in hierdie belydenis van daardie teologiese posisie los te maak en dit in die sterkste moontlike taal, die taal van belydenis, te veroordeel. Wesenlik kom dit daarop neer dat die NGSK in hierdie belydenis per implikasie die NGK daarvan beskuldig dat hy nie getrou gebly het aan die waarheid van die Skrif soos hy dit self aan die NGSK geleer het nie.

1.5. Vanuit die gesigspunt van die NGSK gesien, is die NGK ’n dwalende kerk, ’n kerk wat op ’n spesifieke punt, met name in die leer aangaande die kerk, opvattings huldig wat as kettery afgewys moet word. Daarom sentreer die BB in sy geheel rondom die leer aangaande die kerk. Daardeur het die NGSK dit van sy kant in ’n sekere sin moeiliker en makliker vir die NGK gemaak om met hom in gesprek te tree. Dit is moeiliker, vir sover dit aan die NGK ’n duidelike teologiese uitdaging rig, en dus nie afgemaak kan word as maar net ’n politieke kreet in die verwarde vorm van: apartheid is kettery nie. Dit eis teologiese verantwoording waarin die NGK bereid moet wees om homself werklik onder die tug van die Woord van God te plaas. Maar dit is ook makliker, omdat die gesprek dan op ’n terrein gevoer kan word wat vir albei die partye vertroud is en as ’n gemeenskaplike basis kan dien: die belydenis aangaande die aard, wese en roeping van die kerk in ons situasie.

1.6.  Die omstandighede waaronder die gesprek met die NGSK oor die BB gevoer kan word, het intussen ’n hele stuk gunstiger geword. Die beleidstuk van die NGK. Kerk en Samelewing (KS), het die posisie van die NGK intussen in ’n mate opgeklaar wat nog nie in 1982 bestaan het toe BB as konsep deur die NGSK opgestel en aanvaar is nie. Selfs ’n oppervlakkige kennis van die inhoud van KS sal bevestig dat daar in KS en BB konvergerende lyne voorkom wat ’n gesprek tussen die twee kerke aansienlik sal vergemaklik. Daarby is die NGK intussen van die ander kant gekonfronteer met ’n ander belydenismatige stuk, Geloof en Protes (GP), wat op sy beurt die kontoere van die konflik aanmerklik duideliker laat word. Die NGK kan nie anders as om GP in sy totaal te verwerp nie. Die teologie daarvan is totaal onaanvaarbaar in die lig van die Skrif en die belydenisskrifte van die NGK. Maar juis in hierdie verwerping van GP neem die NGK ’n posisie in wat dit vir hom makliker laat word om duidelik te maak dat hy nie staan waar die NGSK hom in die BB soek nie. Trouens, in die algemeen kan gesê word – en dit is reeds in “Die Ligdraer” gesê – dat die eintlike dinge wat deur die NGSK in sy belydenis veroordeel is, die dinge is wat tans belydenismatig in GP uitgespreek word.

1.7.  Hierdie omstandigheid maak dit vir die gesprek met die NGSK moontlik om eers te soek na die groot stuk gemeenskaplike bodem waarop die twee kerke staan, wat meebring dat die NGK in hoofsaak ’n baie gunstige oordeel oor die BB kan uitspreek. Dit maak dit ook moontlik om in die lig daarvan en van die duidelike uitsprake van KS ook die implikasie van dwaling in die leer wat in BB aan die adres van die NGK bedoel word, op die regte wyse te hanteer. Ons sal in die volgende paragrawe dus eerstens ’n oorsig bied oor dié dinge waaroor die NGK met die uitsprake van die BB kan instem, en daarna aandag gee aan die konkrete toepassing daarvan in die Suid-Afrikaanse situasie, wat bedoel is as beskuldiginge aan die adres van die NGK.
2. Die positiewe uitsprake van die BB
2.1.  Sonder vrees vir teenspraak kan gesê word dat die positiewe uitsprake van die BB in ooreenstemming met die Skrif en die gereformeerde belydenis is en daarom deur die NGK onderskryf kan word. Reeds art. 1 is nie net ’n duidelike trinitariese belydenis nie, maar sluit ook aan by Sondag 21 van die HK en art.27 NGB. Dieselfde geld van die aanhef van art. 2, waarna direk daartoe oorgegaan word om op grond van ’n hele reeks Bybelse uitsprake te bely dat die kerk ’n geloofsgemeenskap is wat uit die versoening deur Christus gebore is, en daarom die roeping het om die eenheid van die kerk wat in Christus reeds bestaan, in die gemeenskap met mekaar sigbaar en tasbaar te maak, sodat die wêreld kan glo. In aansluiting by antwoord 55 van die HK en talle tekste uit die briewe van Paulus word bely dat die versoening in Christus op sodanige wyse in die kerk uitgeleef moet word, dat die groot verskeidenheid van gawes, agtergronde en kulture waartoe die gelowiges behoort, nie die eenheid van die kerk moet bedreig nie, maar in die wedersydse diens van die gelowiges aan mekaar juis moet dien tot die verryking van die een sigbare volk van God. In die besonder word beklemtoon dat die enigste voorwaarde vir lidmaatskap van die kerk die ware geloof in Jesus Christus is. In hierdie hele gedeelte is daar werklik niks wat nie op een of ander manier ook gesê word in KS 45 e.v. nie. Die NGK het geen fout te vind met wat in hierdie eerste twee artikels as fundamenteel vir die bestaan van die kerk bely word nie.

2.2.  Dieselfde moet ook gesê word van die inhoud van art. 3 wat in sy geheel gewy word aan die getuienistaak van die kerk in die wêreld, met ’n besondere toespitsing op die getuienis aangaande die versoening in en deur Christus. Met ’n beroep op ’n groot aantal Bybelse uitsprake word bely dat God deur sy lewenskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap oorwin het, en dat die kerk daarom in staat gestel word om in ’n nuwe gehoorsaamheid te leef wat ’n boodskap van lewe vir die wêreld bevat. Op die nadere toespitsing van hierdie belydenis met die oog op die situasie in ons land kom ons nog weer terug, maar op hierdie punt moet ons sê dat die NGK in die lig van KS 76-81 geen enkele beswaar kan hê teen die basiese posisie wat hier ingeneem word nie.

2.3.  Wesenlik geld dieselfde ook vir art.4 waarin gehandel word oor die roeping van die kerk met betrekking tot die vraag na geregtigheid en vrede in die wêreld. Dit is veral hierdie artikel wat van die begin af kritiek uitgelok het, omdat hierin die bekende woorde voorkom dat God, wat Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder die mense wil bring, in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydendes, die arme en die verontregte is wat die kerk roep om Hom hierin na te volg. Die vermoede is meermale uitgespreek dat ons hierin die invloed van die teologie van bevryding moet sien. Van die kant van die NGSK is herhaaldelik verklaar dat dit nie die bedoeling is om met hierdie woorde die teologie van bevryding te aanvaar deur bv. ongekwalifiseerd te bely dat God aan die kant van die armes is, of deur bv. die idee van die klassestryd te aanvaar, waarby die kerk dan opgeroep word om hom aan die kant van die onderdruktes te skaar nie. Hierdie soort voorstelling van sake kom wel in die Kairos-dokument voor, maar hoef nie noodwendig aan die BB verbind te word nie, al moet erken word dat verbindingslyne met die teologie van bevryding hier wel moontlik sou kon wees. Intussen het die NGK self in KS 127-151 uitvoerig op die Bybelse leer oor maatskaplike geregtigheid ingegaan, en in dié verband ook verklaar dat God “by uitnemendheid die Een is wat vir die saak van die noodlydende en verontregte intree” (KS 144). In werklikheid verskil wat die NGK hier sê, nie van wat die BB sê nie. In die lig daarvan lyk dit korrek om die uitspraak van die BB in bona partem te interpreteer as ’n poging om eenvoudig ’n Bybelse waarheid uit te spreek. Veral waar die BB die kerk nie, soos die teologie van bevryding doen, daartoe oproep om sonder meer die politieke saak van die armes en verdruktes tot sy eie te maak nie, maar eenvoudig verklaar dat die kerk die armes moet bystaan en in hulle nood moet help; dat die kerk moet .getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid en dat hy moet staan waar God staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die verontregtes, kan daar eintlik geen fout mee gevind word nie. Die standpunt wat in KS 147-156 gestel word, verskil in elk geval nie prinsipieel van wat in die BB bely word nie.

2.4.  Ten slotte merk ons ook nog op dat art.5 van die BB niks bevat waarteen beswaar gemaak sou kon word nie. Trouens, dit sluit aan by uitdrukkings wat ook in art. 28 NGB voorkom en sluit af met ’n doksologiese lofprysing van Christus as die Here en die drie-enige God.

3. Die kritiese toespitsings van die BB

3.1.  Die pynlike element vir die NGK is uiteraard daarin geleë dat die BB ’n aantal kritiese toespitsings van sy positiewe uitsprake maak wat klaarblyklik bedoel is om die teologie en standpunte van die NGK te tref en daarmee, sonder om ooit die naam van die NGK eksplisiet te noem, die posisie van die NGK as onbybels te veroordeel. Waar dié NGK die positiewe uitsprake van die BB kan onderskryf, is die kritieke vraag wat hy gaan doen met hierdie kritiese toespitsings daarvan. Vir die gesprek met die NGSK is dit van die grootste belang dat die NGK hierdie kritiese toespitsings met eerlikheid onder die oë moet sien en homself moet afvra in watter mate daar waarheid kan steek in die beskuldiginge wat implisiet daarin aan sy adres gerig word.

3.2.  Reeds in art.2 staan daar ’n aantal “verwerpings” van dwalinge. Op grond van die belydenis van die eenheid van die kerk wat in Christus gegee is en sigbaar beleef moet word in die gemeenskap van Gods volk, word enige leer verwerp wat (a) óf die natuurlike verskeidenheid óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat dit die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs tot aparte kerkformasie lei; wat (b) voorgee dat die geestelike eenheid van die kerk bewaar word waar gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid of onversoendheid; wat (c) ontken dat ’n weiering om hierdie sigbare eenheid van die kerk na te jaag, sonde is; en wat (d) uitgesproke of onuitgesproke voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir die lidmaatskap van die kerk.

Dit is sonder meer duidelik dat hiermee standpunte veroordeel word wat inderdaad binne die geledere van die NGK teologies verdedig is en wat selfs in die offisiële besluite en dokumente van die NGK ’n bepaalde neerslag gevind het. In die lig van die posisie-bepaling van die NGK in KS 73-76, 82-96, 257-258, 265-270 ens. kan egter gesê word dat die NGK nie meer op daardie standpunte vasgepen kan word nie. Daardie standpunte word vandag in alle skerpte in Geloof en Protes verdedig, en dit het selfs op ’n breuk binne die geledere van die NGK uitgeloop. Die NGK het homself gedistansieer van die verabsolutering van die eie volk en die verskeidenheid, van die idee dat en onsigbare eenheid van die kerk voldoende sou wees, sowel as van die idee van en geslote kerk waarvan die lidmaatskap mede-bepaal word deur afkoms en stand.

3.3.  In art. 3 maak die BB op grond van die belydenis dat die kerk uit die versoening in Christus lewe, die konkrete toespitsing dat die boodskap van die versoening ongeloofwaardig gemaak word en die uitwerking daarvan in die weg gestaan word wanneer dit verkondig word in ’n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig. Gevolglik word ook die kerklike en teologiese verdediging en legitimering van sodanige gedwonge skeiding verwerp en word daarvan gesê dat dit die krag van die evangelie by voorbaat verloën en ’n ideologie en dwaalleer is. – Weer eens sal die NGK moet erken dat sodanige legitimering en verdediging van apartheid inderdaad in sy midde plaasgevind het en selfs ook offisieel deur hom hanteer is. In KS 302-309 word dit trouens ook erken en gesê dat die poging om ’n voorskrif vir gedwonge afsonderlikheid in die Bybel te vind, as ’n fout erken en afgewys moet word (KS 305). Daarnaas spreek KS homself baie krities oor apartheid uit (306) en beklemtoon dat die NGK deernis het met die lyding van mense wat as gevolg van ’n verskeidenheid van faktore veroorsaak is, met name ook deur die onwil van mense van verskillende gemeenskappe om mekaar te aanvaar, en bely met ootmoed en berou die aandeel wat die kerk en sy lidmate daaraan gehad het (307). Dit kan seker nie verwag word dat hierdie uitsprake, wat so duidelik die resultaat van ’n kompromie is, die NGSK ten volle sal kan bevredig nie. Maar dit moet ten minste as bewys daarvan gesien word dat die NGK nie (meer) staan waar art. 3 van die BB hom soek nie.

3.4.  Ten slotte moet nog gelet word daarop dat ook art. 4 van die BB uitspreek dat enige ideologie verwerp word wat vorme van onreg legitimeer, sowel as enige leer wat nie bereid is om vanuit die evangelie so ’n ideologie te weerstaan nie. Die NGK kan in die lig van KS seker op ’n geloofwaardige wyse verklaar dat hy homself ook nie met ’n ideologie kan verbind wat enige vorm van onreg legitimeer nie, en dat dit sy uitgesproke begeerte is om in die lig van die evangelie alle ideologieë te weerstaan en te bestry. Die NGK mag hier selfs verder gaan en sê dat hy ook uiters versigtig in vir nuwe ideologieë wat hulleself onder die mom van die stryd vir geregtigheid in die teologie kan kom vestig. In hierdie verband kan inderdaad verwys word na die Kairos-dokument wat homself op ’n baie ongenuanseerde wyse van ’n Marxistiese maatskappy-analise bedien en die idee van die klassestryd op sodanige wyse oorneem, dat aan die Bybelse boodskap van versoening geweld aangedoen moet word. Dit kan belangrik wees om van die NGSK ook die versekering te vra dat hulle versigtig sal wees om nie teologies binne die suigkrag te kom van die revolusionêre ideologieë van ons tyd nie, selfs al mag dit in die huidige situasie aanloklik wees vir diegene wat aan die ander kant van die apartheidslyn lewe.

3.5.  In hierdie verband kan dit noodsaaklik wees vir diegene wat die gesprek met die NGSK voer, om hulleself deeglik te vergewis van wat die uitgangspunte en metode van die teologie van bevryding is. Hoewel ons in wysheid die verwysing na God as “in ’n besondere sin die God van die noodlydendes, die arme en die verontregte” in art. 4 van die BB nie as ’n aanvaarding van die teologie van bevryding moet sien nie, kan ons tog ook nie heeltemal gerus wees daaroor dat daar binne die kringe van die NGSK nie ’n duidelike en groeiende tendens is om teologies steeds meer hierdie kant op te gaan nie. Verskillende teoloë uit die NGSK vereenselwig hulleself klaarblyklik met die teologiese uitgangspunte en metode van die teologie van bevryding, en die oordeel wat die Sinode van die NGSK in 1986 oor die Kairos-dokument uitgespreek het, was besonder mild en simpatiek. Die teologie van bevryding en die Swart teologie as die Suid-Afrikaanse gestalte daarvan is gestaltes van die sg. politieke teologie wat sedert die sestiger jare opgekom het en wêreldwyd sterk steun geniet. Nie alles wat daarin na vore gebring word, is onjuis nie, maar dit is wesenlik tog weer ’n nuwe vorm van ’n antroposentriese teologie wat eensydig is en die boodskap van die Bybel in meer as een opsig geweld aandoen. Hoewel dit seker nie wys sal wees om daaroor allerlei verwyte na die kant van die NGSK te rig en ’n strydgesprek daaroor te ontketen nie, is dit tog noodsaaklik om te vra dat ook daaroor met mekaar gepraat moet word. Dit kan daartoe dien om die lug te suiwer en mekaar wedersyds te verseker van die begeerte om by die gereformeerde belydenis te bly soos dit in ons gemeenskaplike belydenisskrifte tot uitdrukking kom.

Slot

Samevattend kan gesê word dat dit weinig sin sal hê om op allerlei puntjies aanmerkings oor die BB te probeer maak wat die gesprek kan bemoeilik. Die strekking van die geheel is so goed Bybels, dat die NGK bereid moet wees om dit te erken. Soos die NGK die dokument Geloof en Protes aan sy regterkant het, het die NGSK die Kairos-dokument aan sy linkerkant. As daarin geslaag kan word om albei kerke te beweeg om nie na regs of links meegesuig te word nie, is dit moontlik dat hulle mekaar in die middel op ’n Bybelse basis kon vind. Alles moet gedoen word om hierdie doel ter wille van die waarheid na te strewe. Wanneer die nodige wysheid betrag word en die gesprek met die nodige ootmoed en nederigheid gevoer word, is dit moontlik dat God in sy genade sal gee dat die twee kerke baie nader aan mekaar kan kom.

Mag dit so wees!