Bevry van die vrees

BEVRY VAN DIE VREES

Die dood is om verskillende redes vir ons verskriklik. Vereers maak dit ’n einde aan die vreugde van ons aardse bestaan, wat op sigself, ondanks al die frustrasie en smart daarvan, tog iets onuitspreeklik heerliks is.

Die dood skeur ons los van ons geliefdes. Dit bring ’n einde aan ons ervaring van gemeenskap met mekaar en blydskap in mekaar. Dit sny ons af van almal en alles waaraan ons hart met duisend bande vasgeheg was. Die gedagte daaraan kan nie anders as pynlik wees nie.

Omdat die lewe ’n goeie gawe van die lewende God is, is dit vervul met die begeerte om nooit weer op te hou nie, om ewig te wees. Ons vrees die dood, omdat dit ’n punt agter ons aardse lewe plaas. Dit is dan verby, onherroeplik verby. Ons spel is uitgespeel, ons uur is om. Dit is begryplik dat die gedagte daaraan ons met nostalgie en hartseer vervul.

Ons vrees vir die dood het egter nog ’n dieper grond. Ons vrees die dood veral omdat dit ons voor die regterstoel van God plaas. Daaroor laat die Bybel geen twyfel nie. Die hele span van ons lewe lê dan oop en bloot voor Gods aangesig en word in die helder lig van sy oordeel tot op die bodem deurskou. Geen enkele sonde van woord, daad, gedagte of gesindheid kan in di‚ lig verborge bly nie.

Die dood is meer as die beëindiging van ons lewe. Dit is ook oordeel, konfrontasie met God wat Regter is en rekenskap vra van wat ons met die lewe gemaak het. En omdat niemand die toets van Gods geregtigheid kan deurstaan nie, is die dood vir die mens buite Christus ook die poort na die verderf.

Die begrip “dood” het in die Bybel ’n dubbele betekenis. Dit beteken nie net die einde van ons tyd nie. Dit beteken ook die ingang in die vloek wat op die sonde rus, die ontvangs van die loon van die sonde, die ewige vervreemding van God wat die bron van ons bestaan en vreugde is.

Vir die mens in Christus is hierdie tweede betekenis van die dood egter weggeneem deur die dood en opstanding van Christus. Daarom verloor die dood en die oordeel van God vir die gelowige die element van verskrikking. Ook hy kom in die oordeel, maar omdat Christus se bloed hom bedek, ontvang hy die vryspraak en is sy dood ’n oorgang na die vreugde van die Vaderhuis.

Dit verander nou egter ook die pynlikheid van die eerste betekenis van die dood. Die aardse bestaan met al wat daarin dierbaar is, word wel agter gelaat, maar ons neem dit met ons mee, gesuiwer en geheilig deur die bloed van die Lam, as herinnering en ewige bewys van Gods genade wat ons hele lewe met sy goed en kwaad in sy liefde opgeneem het, in vergiffenis en herstel, tot lof van sy ewige heerlikheid.

As ons die evangelie kinderlik glo, bevry dit ons nie net van die vrees vir die dood nie (Hebreërs 2:15). Dit troos ons ook as ons weet dat niks van die lewe wat goed en heerlik was, ooit vir ons verlore sal raak nie. – WDJ