Die een doen, die ander nie nalaat

DIE EEN DOEN, DIE ANDER NIE NALAAT

Ons beleef in die jongste tyd ’n baie sterk aksent op die daad-karakter van die Christelike geloof. Die sedelike eise van die wet van God word op die voorgrond gestel, en dit word veral op die samelewing van toepassing gemaak.

Meer as ooit tevore word die sosiale implikasies van die evangelie uitgespel en ’n hele versameling van politieke teologieë ding met mekaar mee om duidelik te maak hoe relevant die Christelike geloof vir die politieke dimensies van die samelewing is.

Op sigself is dit ’n goeie saak. Te lank is slegs die redding van die siel van die enkeling beklemtoon en op die persoonlike heiligmaking gekonsentreer. ’n Hele tradisie van vroomheid het in die Westerse wêreld ontwikkel wat eensydig om die individu en sy persoonlike geloofservarings gedraai het, terwyl die hele maatskaplike en politieke lewe oorgelaat is aan die spel van kragte wat dikwels deur selfsug, hebsug en materialisme beheers is.

Dit was baie noodsaaklik dat die aksent ’n keer op die maatskaplike relevansie van die boodskap van die Bybel gelê moes word. Trouens, wie kan die Bybel – en met name die Ou Testament – werklik ernstig opneem, en homself dan nog net in sy persoonlike binnekamer-vroomheid terugtrek, asof Gods wet ons nie die wêreld instuur om daar sy geregtigheid en liefde sigbaar en tasbaar te maak nie!

Maar dit is ’n bekende swakheid van die mens om eensydig te wees. As ons die een kant van die Bybelse boodskap raaksien, verwaarloos ons meestal die ander. En as ons dan die verwaarlooste kant ontdek, is ons geneig om in reaksie weer na die ander uiterste te beweeg en die waarheid wat vroeër herken is, te ignoreer.

Die ideaal moet wees om aan die volle waarheid van die Bybel vas te hou. Dit sou beteken dat ons die verlossing in Christus wel as ’n individuele saak verstaan, soos die Bybel dit ook ondubbelsinnig duidelik verkondig. Terselfdertyd hou dit egter in dat die verlossing in Christus ons daartoe dring om sy heerskappy oor alle terreine van die lewe te proklameer.

Heiligmaking is nie net iets van die binnekant van ons hart of van ons persoonlike lewensruimte nie. Dit is ook iets wat ons daartoe dring om oral en altyd die geregtigheid en barmhartigheid van God met ons dade en in ons ordening van die samelewing te verkondig.

Sonder persoonlike toewyding van ons hart mis ons die egte motivering om die wêreld te verbeter. Maar as ons vroomheid net in die persoonlike bly steek, loop ons gevaar om soos die Fariseërs wel baie godsdienstig te wees, maar na te laat wat volgens Jesus die belangrikste van wet die is: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matteus 23:23).

Dit is aangrypend dat Jesus daarvan sê: “Juis hierdie dinge moet julle doen en die ander nie nalaat nie!” – WDJ