Die kerk moet geloofwaardig wees

DIE KERK MOET GELOOFWAARDIG WEES

In die verhouding tussen mense speel geloofwaardigheid ’n groot rol. Waar dit ontbreek, bly mense wantrouig teenoor mekaar en is dit vir hulle onmoontlik om mekaar ernstig op te neem, selfs al betuig hulle ook hulle goeie trou in alle tale.

Iemand is vir ons geloofwaardig op grond van die indruk wat ons van sy egtheid en eerlikheid kry. Op grond van ons oordeel oor die ooreenstemming tussen sy woorde en sy dade vorm ons ’n bepaalde oordeel oor sy integriteit en waaragtigheid.

Wat waar is van persone, is ook waar van instansies, en met name van ’n instansie soos die kerk. Dit is vir die kerk van die allergrootste belang dat sy geloofwaardigheid nie in twyfel getrek moet word nie. Die bestaan van die kerk is ten nouste verbonde aan sy taak om die evangelie van Gods genade tot heil en redding van die wêreld te verkondig. Maar as die verkondiging van die evangelie nie bevestig word deur sy houding, gesindheid en dade nie, bly sy geloofwaardigheid in die slag en word sy boodskap nie aanvaar nie.

Die kerk se woorde het geen trefkrag, as sy gesindheid en dade die evangelie van Gods liefde weerspreek nie. Mense buite die kerk kan nie die kerk se betuigings van sy eie ortodoksie beoordeel nie. Hulle oordeel oor wat hulle van die kerk ervaar en sien. As die lidmate van die kerk ongevoelig, liefdeloos en selfsugtig optree, het hulle skuld daaraan as die evangelie in die wêreld verwerp word.

Dit maak nie saak of ’n kerk se selfbeeld die is van ’n ortodokse kerk wat groot eerbied vir die Bybel het nie. As sy offisiële standpunte of die houding van sy lidmate die indruk wek van liefdeloosheid en ’n gebrek aan deernis vir die nood van mense, sal die kerk vir baie ongeloofwaardig bly en sal sy getuienis vir hulle kragteloos wees.

Geen kerk kan dit bekostig om dit te laat gebeur nie. Veral in kritieke tye wanneer die toekomstige koers en rigting van die samelewing opnuut bepaal word, is dit van die grootste belang dat die kerk nie vanweë ongeloofwaardigheid die kans sal verloor om deur sy getuienis ’n duidelike inset te kan maak nie, veral wanneer die aanslag van nie-Christelike en ateïstiese ideologieë ’n groot bedreiging vorm.

Paulus het gesê dat hy ter wille van die verkondiging van die evangelie vir almal alles geword het, om ten minste sommige te red. Hy voeg daaraan toe dat hy homself oefen en sy liggaam diensbaar maak, sodat hy nie, terwyl hy andere tot die wedstryd oproep, self gediskwalifiseer word nie (1 Korintiërs 9:22,27).

Om vir almal alles te wees, is nie om almal na die mond te praat nie. Maar dit is om almal lief te hê en hulle beswil opreg en met deernis te soek. Ook die kerk moet in liefde vir almal alles wees, sodat hy nie as ongeloofwaardig gediskwalifiseer kan word nie. – WDJ