Die konsep-belydenis van die Ned Geref Sendingkerk

HerderDie afkondiging van ‘n “status confessionis” deur die Ned. Geref. Sendingkerk (NGSK) en die aanvaarding van die konsep-belydenis van Belhar (KB) moet as een van die ernstigste gebeurtenisse in die geskiedenis van die Ned. Geref. Kerk (NGK) gesien word.
Die ”status confessionis” het immers nie net betrekking op die veroordeling van apartheid as ideologie en politieke stelsel nie, maar dit is ook gerig teen die teologiese regverdiging van die beleid van apartheid deur die NGK, sowel as teen die wyse waarop apartheid na die oordeel van die NGSK die kerklike lewe van die NGK Stempel. In die bewussyn van die NGSK is die verbintenis tussen die NGK en apartheid so onmiskenbaar, dat die een saam met die ander onder die oordeel van God gestel moet word. Vandaar die beskuldiging van kettery aan die adres van die NGK. Die bedoeling van die KB is om spesifiek die teologiese en leerstellige dwalinge van die NGK soos die NGSK dit sien, in hierdie verband te veroordeel.
Die KB is ‘n goed geformuleerde dokument. Dit is geskryf in die taal en styl van die tradisionele belydenisse van die kerk. Dit toon verwantskap met die Teologiese Verklaring van Barmen (1934) deurdat dit in ‘n spesifieke situasie die Reformatoriese belydenis aangaande die kerk wil vernuwe en op ‘n toegespitste wyse bepaalde dwalinge in verband daarmee wil verwerp. Na ‘n kort inleiding waarin die oorsprong van die kerk in die verlossende werksaamheid van die drie-enige God bely word (art. 1), volg drie artikels oor die eenheid van die kerk (art. 2), die versoeningsboodskap en -taak van die kerk (art. 3), en die roeping en verantwoordelikheid van die kerk met betrekking tot maatskaplike geregtigheid (art. 4). Die geheel word afgesluit met ‘n verklaring oor die erns van hierdie belydenis en ‘n doksologie (art. 5).
Die teologie van die KB is gereformeerd. Die standpunte wat ingeneem word, is so algemeen Christelik, dat daar op Bybelse gronde moeilik beswaar daarteen gemaak kan word. ‘n Mens sou ‘n vraag kon stel oor die teologiese korrektheid daarvan om so direk vanaf die versoening in Christus wat vir die kerk geld, ‘n lyn te trek na die maatskaplike versoening soos dit in art. 3 gebeur, maar dit is duidelik dat die KB dit doen in die lig daarvan dat die Suid-Afrikaanse samelewing homself in so ‘n groot mate as ‘n Christelike samelewing verstaan, dat verwag kan word dat die getuienis van die kerk aangaande die versoening in Christus ‘n bepaalde impak op die samelewing as geheel behoort te hê. Die eintlike argument van die KB is dan juis dat dit onhoudbaar is as spesifiek die kerk wat van die versoening leef, op maatskaplike terrein ‘n soort politiek legitimeer wat “vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig”. Die bedoeling is dus nie om te sê dat die politieke lewe in die algemeen volgens die versoening in Christus gestruktureer moet word nie, maar om dit te veroordeel dat Christene wat in die versoening glo, op maatskaplike en politieke terrein ‘n vorm van gedwonge skeiding tussen mense (en dus ook tussen Christene) legitimeer, waardeur “die bediening en die belewing van die versoening in Christus by voorbaat belemmer en ontkragtig” word.
Ook sou die vraag gestel kan word of die uitdrukking in art. 4 dat God “op ‘n besondere wyse die God van die noodlydendes, die arme en die verontregte is”, binne die verstaanshorison van die Bevrydingsteologie bedoel is. Maar as die versekering gegee is dat dit nie die bedoeling is nie (en dit is gedoen), dan moet ons bereid wees om dit in bonam partem op te neem as ‘n uitdrukking wat wel vir misverstand vatbaar is, maar nie noodwendig ideologies opgeneem hoef te word nie. Die Bybel is inderdaad vol van die barmhartigheid van God teenoor die lydendes en behoeftiges. Ook haat God verontregting en verdrukking en Hy belowe verlossing aan die swakkes. Daarvan sing ons in Ps. 146:5-7 volgens die beryming van Totius. Indien die betrokke uitdrukking nie bedoel is om klassestryd te legitimeer nie, maar as ‘n lofprysing op die goedheid van God, hoef ons nie daaroor te struikel nie.
Die NGK se probleem met die KB lê dus nie op teologiese vlak nie, maar dit hang saam met die intensie van hierdie belydenis om die NGK te tref. Dit impliseer immers dat die NGK skuldig is aan die miskenning van fundamentele aspekte van die Bybelse leer aangaande die wese, eenheid en roeping van die kerk As dit saamgelees word met die uitsprake wat by die afkondiging van die status confessionis gedoen is, bevat dit ‘n skerp veroordeling van die teologiese standpunte van die NGK oor die verdedigbaarheid van apartheid, sowel as van die NGK se beleid van afsonderlike kerke vir afsonderlike volke. Terwyl die NGK volgens sy amptelike uitsprake van oordeel is dat hy juis op grond van die Skrif gespreek en gehandel het en dat sy standpunte nie in stryd is met wat die Skrif oor die wese, eenheid en roeping van die kerk leer nie, verklaar die NGSK in sy belydenis dat dit wel die geval is, en dat die NGK in hierdie opsig aan dwaalleer skuldig is.
Dit is duidelik dat dit hier gaan om ‘n totaal verskillende beoordeling van die standpunt wat die NGK tot dusver oor apartheid in staat en kerk ingeneem het. Die beroep wat die NGK daarvoor op die Skrif gedoen het, is nie alleen vir die NGSK volkome onaanvaarbaar nie, maar ook ongeloofwaardig, omdat dit daaragter nie egte gehoorsaamheid aan die Skrif nie, maar “vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof” aan die werk sien, wat die versoenende krag van die evangelie verloën.
Die NGK kan hierdie verstaan van sy posisie nie ignoreer nie. Die korrekte reaksie daarop kan egter nie wees om op ‘n geïrriteerde wyse te poneer dat die NGK gelyk het, of om tot selfverdediging en teenbeskuldiginge oor te gaan nie. As Christelike kerk moet die NGK homself verootmoedig wanneer die kerk wat miskien die naaste aan hom staan van alle kerke in die wêreld, hom so verstaan. Ons moet bereid wees om daaroor in gesprek te tree, om ons bedoelings te verduidelik, maar veral ook om daarmee rekening te hou dat andere ons soms beter verstaan as wat ons onsself verstaan, juis omdat ons sondaars is en altyd geneig is om gunstiger oor onsself te oordeel as wat reg is.
As die NGK homself nie kan herken in die beeld wat indie KB van hom geteken word nie, moet hy homself duidelik daarvan distansieer en geen twyfel daaroor laat dat hy nie bedoel wat aan hom toegeskryf word nie. Maar dan moet hy ook bereid wees om in helder woorde die dwalinge wat in die KB verwerp word, self ook te verwerp. Maar meer nog: hy moet met woord en daad bevestig dat hy getrou wil bly aan die beeld van die kerk soos die Nuwe Testament dit teken. Dit beteken dat hy geen twyfel daaroor moet laat nie dat hy homself met heilige erns beywer vir ‘n ”sigbare en werksame eenheid van die kerk”, dat “afkoms of eniger menslike of sosiale faktore” nie vir hom medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk nie, en dat hy opreg daarna strewe om deur voorbeeld en getuienis alle onreg, diskriminasie, vernedering en uitbuiting van mense in ons samelewing te veroordeel en te bestry. Die NGK moet homself ontworstel aan die beeld wat van hom bestaan, as sou hy die “gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag” vanuit die Woord van God legitimeer, met alles wat daarmee saamhang aan vervreemding en miskenning van die aspirasies van die groot meerderheid van die bevolking van ons land. Hy moet dit duidelik laat word dat die lot van alle mense in hierdie land vir hom netso belangrik is as die van die Afrikaner, omdat die NGK uiteindelik nie die kerk van die Afrikaner is nie, maar ‘n openbaring van die kerk van Christus wat mense nie aansien vir wat hulle volgens hulle natuurlike identiteit is nie, maar volgens hulle geestelike identiteit in Christus.
Is dit werklik onbillik om dit van die NGK te vra? Dit hoef tog nie vir die NGK moeilik te wees om hieroor geen misverstande te laat bestaan nie. Dit is in belang van die NGK en van die saak van Christus in hierdie land dat die gemeenskaplike grond tussen Christene en kerke ontgin moet word. Die KB sou as ‘n basis vir ‘n indringende kerklike gesprek tussen die NGK en die NGSK gebruik kon word. Dit is ondenkbaar dat daar nie ‘n breë basis bestaan waarop die kerke dit met mekaar eens sou kon word oor die dinge wat in die KB aan die orde gestel is nie. Veral as dit vir die NGK belangrik is dat die NGSK nie in die ideologiese vaarwater moet beland waarvan die onlangse Kairos-dokument ‘n voorbeeld is nie, is dit noodsaaklik dat die weg van wedersydse begrip, versoening, belydenis en vergiffenis bewandel moet word, voordat dit te laat is. Dit is seker wat die Hoof van die kerk van ons verwag. Mag die Koning van die kerk deur sy Gees ons daartoe gewillig en bereid maak!
Prof. W.D. Jonker