Die skuldvraag

 

DIE SKULDVRAAG
Die Burger, 1 Oktober 1977, bladsy 10

Dit is tipies menslik dat die skuldvraag telkens gestel moet word. Die mens is ‘n persoon en ′n sedelike wese. Hy is verantwoordelik vir wat hy doen. Wie dit nie erken nie, verlaag die mens tot die vlak van die lewelose dinge of die dier.

Wanneer lewelose dinge mekaar verteer, gaan dit om die verloop van natuurmatige prosesse. Wanneer insekte of diere mekaar pyn aandoen, beveg en uitroei, lê dit op die vlak van die instinkmatige. Maar wanneer mense mekaar leed aandoen. is dit iets heeltemal anders. Dan moet die skuldvraag gestel word. Mense is immers nie bedoel om mekaar leed aan te doen nie. Hulle is bedoel .om tot selfverwesenliking te kom juis langs die weg van diens aan die selfverwesenliking van die naaste. Hulle hóéf mekaar ook nie leed aan te doen nie. Dit is geen natuurmatige noodsaaklikheid of instinkmatige dwang wat hulle daartoe dryf om mekaar se selfverwesenliking in die weg te staan nie. Dit is hul eie innerlike verwording. Daarvoor moet hulle verantwoordelik gehou word, en dit maak hulle skuldig.

Die skuldvraag kan egter moeilik beantwoord word. Die probleem is dat alle mense sondaars is en dat hulle dus almal gemeenskaplik deel het aan die innerlike·verwording wat hulle so antagonisties teenoor mekaar maak. Daar is ‘n ingewikkelde proses van beïnvloeding van mekaar wat van alle mense op alle ander mense uitgaan en daartoe meewerk om die versteurdheid van menslike verhoudinge steeds ingewikkelder te·maak.

In die werklike wêreld is dit nooit soos in die gefantaseerde wêreld van die Amerikaanse Wilde Weste met hulle helde en skurke nie. In die werklikheid van menslike verhoudinge is dit uiters moeilik om te sê wie die grootste skuld het aan ‘n egskeiding, die opvallend skuldige of die opvallend onskuldige party. Dit is moeilik om te sê of dit die skuld is van die een wat aanrand, of van die een wat aangerand wórd dat daar ‘n aanranding was.

En in die politieke situasie is dit moeilik om te sê wie se skuld die ingewikkelde en frustrerende toestande van vyandigheid, wantroue, haat en geweld is. Die skuldvraag mág hier nie so maklik oorvereenvoudigend opgelos word as wat ‘n mens dikwels geneig is om te doen nie. Meestal is dit so dat almal wat betrokke is, ‘n aandeel aan die skuld het en dat daar slegs sprake van ‘n oplossing kan wees as almal saam bereid is om dit onder die oë te sien. –WDJ