Die sout en die lig

DIE SOUT EN DIE LIG

As Jesus sê dat sy dissipels die sout van die aarde en die lig van die wêreld is (Matteus 5:13-16), beteken dit dat hulle deur God daarvoor bestem is om in die wêreld effek te hê. Die toets vir egte dissipelskap is of dit verskil in die wêreld maak.

Dit gaan in Christenskap werklik nie net daarom dat ons in die hemel moet kom nie. Christene kan hulleself ook nie in hulle eie hoekie terugtrek en met geesgenote die vreugde van wonderlike geestelike ervarings troetel nie. Christene is daartoe geroep om in die wêreld ’n invloed ten goede te wees, ’n faktor wat bederf weer (soos sout) en wat die duisternis van sonde, onkunde en verwarring verdryf (soos lig).

Die dissipels hoef nie in hulle eie krag te probeer om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te word nie. Hulle is dit al klaar deur hulle verbondenheid aan Christus. Maar tog kom die bevel na hulle om hulle verbondenheid aan Christus in die wêreld uit te leef, sodat die mense dit kan sien en die Vader in die hemel kan verheerlik.

Die bevel maak dit duidelik dat hulle hulself doelbewus daarop moet toelê om invloed uit te oefen. Hulle is aan hulle eie wese en hulle posisie in Christus ontrou as hulle hulle lig onder ’n emmer wegsteek.

Maar as hulle dit doen, het dit die skrikwekkende gevolg dat hulle volkome irrelevant in die wêreld word. Die Bybel sê dat hulle dan vergelykbaar is met sout wat laf geword het en gevolglik weggegooi en vertrap word. Die ervaring bevestig dat dit presies is wat met die kerk gebeur as dit geen veranderende krag meer in die samelewing het nie.

As ons na die geskiedenis van die Westerse Christendom kyk, is dit moeilik om te ontken dat die kerk dikwels in sy roeping gefaal het. Ondanks die talle katedrale en kerkgeboue en die bevoorregte posisie van die kerk, was die geestelike invloed van die kerk in die Weste dikwels maar gering.

Meestal het die kerk wel ’n bepaalde matigende invloed op die moraal uitgeoefen en in die gewone lewe ’n sekere fatsoen help bevorder, maar dit was geen faktor in die onderlinge vyandigheid en die verskriklike oorloë wat die Weste geteister het nie. Christelike oorwegings het selde daarby ’n rol gespeel. Nasionale sentimente en belange, ekonomiese oorwegings, hebsug en magswellus het alles oorheers. En die kerke het die nasionale gevoelens dan ook nog ondersteun en die wapens geseën.

Maar daarom is dit nie vreemd dat die Christendom in die Weste vandag so weinig invloed het nie. Die sekularisme het oorgeneem. Die kerk het in ’n groot mate irrelevant geword.

Mag God verhoed dat die Christendom ook in ons land van geen wesenlike betekenis sal wees in hierdie uur waarin die groot beslissings vir die toekoms val nie! – WDJ