Dit is ongesond

DIT IS ONGESOND

Ons hoor en lees in die afgelope tyd heelwat oor satanisme en die gruwels wat daarmee saamhang. Dit is ontstellend en vir normale mense onbegryplik dat daar in ons gemeenskap soveel persone kan wees wat hulleself op sulke duistere weë beweeg. Hoe kom ’n mens by so-iets uit? Wat kan ’n mens beweeg om jouself op so ’n wyse met die magte van die duisternis te bemoei?

Dit is noodsaaklik dat ouers hulle kinders ten sterkste moet waarsku teen enige kontak met mense wat op hierdie weg gaan, dat die hele gemeenskap waaksaam moet wees om geen ruimte aan hierdie soort praktyke te gee nie, en dat die gereg sy gang moet gaan wanneer kinders en ander persone daardeur benadeel en misbruik word.

Terselfdertyd moet egter ook gesê word dat dit ongesond is om te veel aandag en publisiteit aan hierdie soort afwykinge te gee. Daar is Christene wat deur sulke dinge geweldig gefassineer word en dan so geroepe voel om dit te bestry, dat hulle byna meer tyd daaraan bestee as aan die evangelie van verlossing self. In die proses loop hulle gevaar om meer oor die duiwel as oor Christus te praat en so sy saak meer te bevorder as te bestry.

Daarom het die Switserse teoloog Karl Barth gesê dat ’n mens nie meer as ’n enkele kort en helder blik op die bestaan van die duiwel en die demone moet werp nie. Die demoniese is wel ’n realiteit, maar dit is so ’n verskriklike realiteit, dat ’n mens jou onder geen omstandighede daarin moet verdiep en te veel daarmee besig moet hou nie.

Hy haal Goethe aan wat by geleentheid op die top van die vuurspuwende berg Vesuvius ’n oomblik lank in die oop krater met sy kokende lawa afgekyk het, en toe gesê het dat dit ’n gesig was wat nie leersaam of verblydend was nie. So is dit ook met ’n blik in die krater van die demoniese. Dit is so onverkwiklik, dat net een kyk genoeg is. Wie homself te indringend met die Bose besig hou, loop die gevaar om onder die mag daarvan te kom en “self ’n bietjie demonies te word”.

’n Mens moet natuurlik wel met die afgrondelike boosheid en mag van die demoniese rekening hou. Die moderne ontkenning van die bestaan van die duiwel pas die duiwel natuurlik uitstekend, want hy hou daarvan om homself te verberg of poseer graag as ’n engel van die lig. Desnieteenstaande moet ons as Christene onthou dat die Bose klaar deur Christus oorwin is, dat hy reeds op die vlug is, en dat ons daarom nie met ’n paniese angs na hom moet staar of aan hom te veel erkenning moet gee nie.

In die regte sin van die woord moet ons die mag van die duiwel dus ontken en selfs nie eers op ’n negatiewe wyse aan hom die eer van te veel aandag bestee nie. Ons moet aan hom geen plek of vatkans gee nie (Efesiërs 4:27). Christus is die Here. Hy het mag oor die Bose en bewaar ons teen Hom. – WDJ