Magdalena

MAGDALENA

Toe het sy ingekom en voor Hom neergeval
en sag geween, en al
haar weemoed soos in salf laat gly
oor sy twee voete, en die sy
van haar swarte hare om die smal
en lenige enkels toe laat val.

Daar was in haar net één groot drang
van vreemde liefde wat nog bang
en nuut haar fél wou tug
om kaalvoet oor die kole heen te vlug
wat pynlik uit verstreke jare brand
van hartstog en van drifte en die hand
van wellus wat haar hart ‘n wilde sug
na blinde dinge — na die ster en lug
en snel-vervaagde vlug van blou
en wit voëls teen die wolke-vou
van late middaglug — gemaak het.

Nou kon sy krom
geboë en nog stom
haar skande dra en weet
dat daar ‘n Wraak is wat met roedes meet,
en wat met wrangheid maai
al het Hy nie gesaai …

En tog het hierdie liefde snel
in haar verwarring opgewel
en opgelaai soos vlam na vlam
die veldbrand oor die stram
en brekerige grasse gaan,
totdat sy nie meer kon verstaan
dat hierdie Lewe só kon wees:
een siddering van ligte vrees
wat in die vesels tril met drang
om niks te word, om aan te hang.
Dit wat ons eers gesmaad en nie geken
het of gevrees.

En sy moes wen
toe ander met die wrede oë
haar wegdwing van die moeë
en Reine Meester. Maar Hy het haar
só liefdevol aanskou, en al die swaar
drange van haar hart het oopgevou
en soos groot voëls swart teen die blou lug weggevlug

Sy het gedink
dat sy vir ewig só stil neer kon sink.

WILLIE JONKER
[’n Gedig van WD Jonker uit Trek, Trek 1947 35(43), 12]