Agab op die slagveld

AGAB OP DIE SLAGVELD

[Terwyl koning Josafat van Judea op besoek was by koning Agab van Israel, het laasgenoemde besluit om oorlog te verklaar teen die Amalekiete omdat hulle die stad Ramot in Gilead ten onregte van hom ontvreem het. Na ’n lewe van sonde en selfsugtige losbandigheid voel hy dat hy geen vrymoedigheid het om die hulp van God by sy onderneming af te smeek nie. Josafat verseker hom van sy ondersteuning, maar dring daarop aan dat hulle God moet raadpleeg. Hierop word al die profete bymekaar geroep. Met ’n leuengees besield voorspel hulle vir Agab ’n roemryke oorwinning, maar Miga, teenoor wie die koning vyandig gesind is, openbaar die wil van God om Agab in die slag te laat sneuwel en die hele Israel te verstrooi. Vertoornd oor hierdie voorspelling laat Agab Miga opsluit en marsjeer met sy leërmag na Ramot. Alhoewel hy hom onkenbaar maak, word hy gedurende die slag op sy wa getref deur die pyl van iemand wat blykbaar sonder enige opset geskiet het. Hy vlug haastig van die terrein weg. In dié verskriklike oomblik moes hy dan wel die oppermagtigheid van God ingesien het! – 1 Konings 22]

Nou het U hier my vasgeruk,
in hierdie nette soos ’n stuk
ontvormde krag- en lewelose aas.
U het my lewenstroom wat vars
en haastig soos die waters was,
wat Antilibanos en Libanon verdeel,
laat opdam teen U vaste muur,
sodat my heldemoed en vuur
soos weemoed en ellende ver en dun
in damme om my lê.

Ek weet dat U my dade ken,
dat U gewag het vir U wraak
toe ek verskans was in die burg
wat Omri op die stil en braak
akkers van ons land gebou het –
ek het geweet dat U net buitekant die muur
gewag het op u fél en ligte uur.

En toe die leuen-profete om my was
met daardie vroom gesigte wat die guns moet wen,
het ek geweet dat Miga reg was met die woord
wat skerp ’n wig geslaan het tussen U en my.
Maar Josafat was daar en heel die hof
en die profete, Heer, en dan Sedekia
en Miga — was ek nie hul heer
wat uit my woorde dit moes bly nie?
Nou weet ek dat ek hulle slaaf was, klein
gedienstig en onwaardig voor hul wrede oë …
Ek het geweet dat Miga reg was met die woord
wat swaar my koningsmag wou vel,
want as ek bly — was ek nie net ’n hond
in hulle oë nie, wat sonder veglus, tam,
my oorgee aan die groter mag,
net soos ’n hond wat in verleendheid gedwee
hom teen die bene van sy meester vly
en in sy oë na sy hond-genade soek!

En as ek gaan — nee, Heer, ek kan nie anders as te gaan
want ek is ook ’n mens, Heer, net ’n mens
wat nie die goue koorde van die eer
wat om my span kon breek!
En nou het U my hier gebring
by hierdie felle kringe van U oppermag
wat om my tot ’n hél-wit vlam
van blind’ verwarring fletter oor die sand.
Dit is ’n uur van lig-verbystering en geel
groot vlekke van verskriklikheid,
een warreling van perd en ruiter in die nou
en vlakke spleet wat weet en die
onwetendheid met tussenposes skei.
Die een klein hartstog bly in hierdie uur by my
waarin my lippe aangepak en wit
van koorsigheid nog in die skrik
en weteloosheid met die woorde stry:
ek het nie ingegee en weggevlug —
ek het nog tot die end toe en tot nou
my blink-geel pantsers om my hart
so diggevou dat selfs my bloed
nog harder as die staal kon wees!

Sien U hoe vinnig hierdie rosse ren
en hoe die yster-hordes soos ’n dier
wat lomp en vreeslik is die blink skerp lem
al teen die sagte rugvleis van my leërmag slaan?
Ek weet dat hierdie pyl
nie deur ’n mens nie, maar deur U
gedraai is teen my hoof en teen my wil:
ek weet, Heer, ek is self ’n koning en ’n heer
wat nie verdra het dat ’n slaaf
’n wil dra tussen plig en daad!

Ek voel my krag vervloei …
Jaag sneller, my Koetsier, laat wild
die perde oor die velde gier
sodat die vlamme van hul vurige pote
die velde agter kan verteer!
Laat blind hul lywe teen die vertes in
met krag en strydlus steier, tot ek sterf
0 Angs, o son-wit Angs, o Vrees
hoe martel jul ’n koning en – ’n slaaf!
Kyk net hoe kom die vyand aan,
hul waens en hul snelle rosse …

0 God van wraak, U het my neergeslaan
en oor my het U skrede heengegaan.
Ek wat teen U moes veg, is neergevel:
nou sal U waters oor ons akkers snel!

WILLIE JONKER
[’n Gedig van WD Jonker uit Trek 1947 35(43), 25-27]