Die Afrikaner en die Musiek

Die Afrikaner en die Musiek
[’n Artikel van WD Jonker in die Castalia-rubriek van die Universiteit van Pretoria se jaarblad Trek]

Daar is ’n baie ou Christelike liedjie wat deur die jare heen ’n vertroostende boodskap gebring het aan die wat moedeloos was: “Telt uw zegeningen.” En dit is na aanleiding van hierdie refrein dat ek hier wil probeer om kortliks slegs enkele van die “seëninge” wat ons op musiekgebied ondervind, onder u aandag te bring. U kan begryp dat ek slegs hier en daar kan raap en skraap, en van die belangrikstes sal moet uitlaat, maar dit is ook nie my doel om hier ’n volledige weergawe te gee van ons musiek-prestasies nie. Dit sou wel goed gewees het as iemand ’n volledige studie van die dinge wou maak en in druk laat verskyn, maar hier is dit alleen my doel om deur enkele woorde die hande wat ywerig vir die opbou van die skat van ons kultuur gewerk het, en miskien slap geword het, weer te versterk.

In ’n radiopraatjie het prof. Bon eenkeer op die vraag geantwoord of ons Afrikaners dan wel minder musikaliteit besit as ander volke of nie, en of daar ook groot komponiste uit die Afrikaners kan voorkom. Hy het dit op treffende manier gedoen. Hy het beweer dat, volgens sy mening, ons volk selfs baie musikaal genoem kan word, en dat die knoop wat Afrikaanse komponiste betref, juis daarin lê dat ons nie wil glo dat Piet van Koffievlei of Jan van Miershoopspruit net so ’n groot komponis kan word as een of ander uitlandse -skowski of -vitski of iets van dié aard nie. En dit is inderdaad die geval, want kyk ons na die komposisies van ons eie mense, dan kan ons nie help om die talent daaragter raak te sien nie. Ek wil graag enkele van ons verdienstelike komponiste noem, en wel van die ouer garde. Die jongere komponiste is talryk, en daar is etlikes wat groot talent openbaar; maar ruimte laat spesiale ver-melding van hul nie hier toe nie.

Ek wil begin met M. L. DE VILLIERS wat “Die Stem van Suid-Afrika” getoonset het. Sy werk is algemeen bekend. Sy meer godsdienstige werke soos “Zijt Gij de Koning der Joden” word deur die hele land gesing, om nie te praat van sy geleentheidsliedere soos “Dingaansdag” e.a. nie, en sy meer as 150 liedere vir skole en opvoedingsinrigtings. In die “Radio Week” van 2 Augustus 1946 het daar oor hom ’n kort artikel verskyn uit die pen van Anton Hartman, en in die uitgawe van 23 Augustus een oor prof. P. J. Lemmer, die volgende op ons lys.

Prof. LEMMER is een van die groot kragte van die Vrystaatse musiek. As inspekteur van musiek in die Vrystaat doen hy ’n verbasende groot werk. Onder sy meer as 60 komposisies vir klavier, stem of stemme en orkes is daar sommige wat beroemd geword het. bv. “Heimwee,” “Rots by die See,” en “Was jy die Rosebloesem”; van sy sangstukke, “Romanse in D vir die klavier,” en die hele land swaai hom nog steeds lof toe vir die meesterlike toonsetting van die “Reisang” van dr. D. F. Malherbe vir die onlangse eeufees van Bloemfontein. Van hom is daar ’n boek oor musiekwaardering in die pers.

Prof. G. BON, wel nie ’n gebore Afrikaner nie, is tans werksaam aan die Normaal Kollege van Pretoria. Sy naam is dwarsdeur die land bekend i.v.m. verskillende verrassend-frisse komposisies, die vernaamste waarvan vir ons seker is sy Oratorium: ,”Die Hoogste Offer.”

STEPHEN EYSSEN, met sy verskillende Afrikaanse liedjies is vir ons van groot belang en ons moet hom werklik huldig as ’n persoon wat sy beste vir sy volk gee, ook op hierdie gebied. Die “F.A.K.-Volksangbundel” herinner aan sy werksaambeid, en sy “Segelied” – om maar een van sy werke te noem – is hoogstaande. In ’n groot mate is sy kantate vir ons van die grootste belang.

LE ROUX-MARAIS is ’n persoon wat algemeen bekend is onder die singende Afrikaners. Sy ligte sangstukke – om ’n paar te neem: “Matrooslied,” “Heimwee,” “Kom, dans Klaradyn” – is so algemeen gewild dat elke Afrikaner van hom weet en sy werk waardeer.

ARNOLD VAN WYK tel meer onder die jongeres wat sy moderne styl betref. Dit is genoeg om hier slegs te vermeld dat ons aan hom baie dank verskuldig is vir meer as een pragtige klavierstuk en spesiaal vir sy “Eeufees-kantate”. Saam met hom val nog talle van die jonger komponiste wat ons graag sal wil noem, maar ek het hier nie die geleentheid daarvoor nie. As ek van die groteres uitgelaat het wat eintlik hier moet vermeld gewees het, moet u dit oor die hoof sien, want ek doen dit bloot ter wille van die beskikbare ruimte.

Daar is enkele nie-Afrikaanse komponiste wat ’n groot deel bygedra het tot ons musiek, sy dit dan ook goed of sleg. Die volgende persone het ons egter baie aangehelp, nl. Sydney Richfield, Horace Barton – ek dink hier veral aan sy uitmuntende orkestrering van “Sarie Marais” – prof. Kirby en ander.

Daar word ’n groot werk gedoen deur ons Afrikaanse leerkragte in die stad en op die platteland. Deur medium Engels studeer talle Afrikaanse seuns en dogters aan die universiteite van Witwatersrand en Kaapstad in die musiek, maar ons wil graag van die geleentheid gebruik maak om die musiek-skole van Stellenbosch en Bloemfontein onder die bekwame leiding van proff. Fismer en Roode hier te noem. Wanneer ons verder gaan en dink aan ons Hoërskole, Tegniese kolleges en Privaat skole, waar onderrig word in die musiek deur ons eie Afrikaanse “maestro’s,” dan swel ons hart van trots. Daarom kan ons nie nalaat om ’n woord van bemoediging te rig tet die plattelandse onderwyser en orrelis nie: Onthou, u doen dit alles in u volk se belang.

En hoe staan dit nou met die vokale deel van ons musiek? – Met trots wys ons na persone soos Dirk Lourens, Betsy de la Porte, Cecilia Wessels, Gladys Hugo en ander, wat ons naam hoog hou op gebied van die solo-sang en selfs die verhoog. Verder wys ek op die geslaagde opvoering van Hänsel en Gretel in Afrikaans onder die leiding van prof. P. J. Lemmer in 1945.

Wat koorsang aangaan, is dit genoeg om te weet dat daar byna op elke platte­landse dorp vandag ’n kerk- of verenigingskoor bestaan, om nie van die stad te praat nie. ’n Mens staan verbaas oor die groot werke wat met sukses uitgevoer word: kantates [In Bloemfontein, byvoorbeeld, onder leiding van Prof. Roode] en oratoriums word aangedurf en ten einde gevoer, nie sender swoeg nie, maar met sukses. Dink maar aan die gewoonte wat op verskillende plekke voorkom om jaarliks die “Messias” van Handel uit te voer. [Op ’n enkele plek in Transvaal het selfs ’n passiespel voorgekom.]

Byna al die name wat ek sover genoem het, is dié van orreliste. Dit is mense wat elke Sondag, en deur die week, hulle kragte wy om die sielehonger van gemeentes te stil. Mense soos P. K. de Villiers, A. C. van Velden en Jan “Orrelis” de Villiers en ander is op hierdie gebied bekend. Daar is nog te veel om op te noem, wanneer ons alleen aan kerkorreliste dink, om nie eers te praat van die stads- en teaterorrelis nie.

Daar is heelparty Afrikaners wat skitter deur hul uitgebreide kennis van musiek, sommige wat dit nie eers as hulle vak besit nie. In hierdie verband kan ons aan verskillende persone dink, maar noem slegs dr. G. Cillié van Stellenbosch, wat in sy artikels oor ons kerkmusiek veel aan ons volk geleer het.

Van kerkmusiek gepraat, is dit nie onvanpas om hier te noem dat ons alreeds ’n eie koraalboek besit nie, spesiaal opgestel om aan die behoeftes van die nuwe Afrikaanse Psalm- en Gesangboek te voldoen. Alhoewel die werkie inderdaad veel te wense oorlaat, mag ons dit nie blindelings veroordeel nie – die eerste proewe van ons Bybelvertaling (1922) was tog immers ook maar onbevredigend!

Die veelbeminde “Boere-musiek,” met Hendrik Susan en Danie Bosman as ywerige kragte, en sangers soos Chris Blignaut en David de Lange, die “Straatsangers,” “Maanligsingers” en allerhande groepe van kreuners en troebadoers, maak teenwoordig ’n groot deel van die ontspanningsmusiek op partytjies, danse en oor die radio uit.

Wanneer ons alles wat ons het so beskou, dan sien ons wel dat daar nog veel te doen staan. Ons moet strewe en vooruitbeur en nooit die einddoel uit die oog verloor nie, want dit gaan ons volk aan. Baie van ons komposisies dra nog die spore van uitlandse musiek. In hierdie sin kan ons dus amper veel meer praat van internasionale musiek as van eintlike Afrikaanse musiek. Tog, wanneer ons ons “seëninge” tel, en ons hoof fier voorwaarts rig, skep ons weer moed, en kry ons ’n vaste geloof in die toekoms.

WILLIE JONKER
[’n Artikel van WD Jonker in die Castalia-rubriek van die Universiteit van Pretoria se jaarblad Trek, 1946 34(42), 73-76]