NP Van Wyk Louw

NP Van Wyk Louw – ’n paar gedagtes oor sy kuns
[’n Artikel van WD Jonker in die Castalia-rubriek van die Universiteit van Pretoria se jaarblad Trek, 1947 35(43), 61­68]

Gans tot vereensaming
tussen die starende
stiltes van vreemde
gesternte en aarde,
het my my trotse
verlange gebring;
maar met die oerkreet
van alle dinge
smyt ek my tartende
skreeu die sterre in,
waar ylweg my smart
weerklink langs die styltes
…”

Volkome gelyk aan hierdie lewendige beeld rys die figuur van N. P. van Wyk Louw voor my op: Hy is die mens wat gans uit verband geruk en vereensaam word deur sy diepgaande geestelike smagte, “’n trotse verlange,” maar daarteenoor is hy die verwaande trotsaard, die kragfiguur wat staan teenoor die kilheid van elke aanraking en die vlam van elke ontroering; en te midde daarvan smyt hy sy “tartende skreeu die sterre in” – dit alles met die bewustheid van sy smart wat uit sy werk weerklink. Om hierdie rede is hy vir my die Eensame, die soeker na “die enkele harde en heldere dinge” waarvan die massa soms wel die gemis mag hoor, maar miskien nooit die glans sal sien blink nie.

Die eensaamheid is nogal ’n wesenstrek van ons jongeres. Veral uit die heel jongste geslag kan ’n mens al dink aan Rudolph, Neser, Van Heerden. Smith, Venter, Opperman, Ina Rousseau, Uys Krige e.a., waar die eensaamheid soms dwing om ’n grondtoon te vorm. By Van Wyk Louw kry ons dit as ’n soort verhewe indiwidualisme. Bywyle is die lewe vir hom ook maar ’n skulp van stilte “waarin ek so verborge sit,” en by ’n ander geleentheid sê hy:
maar tussendeur loop ons ’n vreemde pad
wat nie begryp word
…”

In ’n gedig soos die “Hond van God” wil dit soms gaan lyk asof hierdie indiwidualisme die krag tot opstand moet voorsien. Tog lê daar juis ’n skoonheid in die feit dat hy ’n indiwidualis is, want die poësie is nie ’n bekrompe uitkreuning van eie smart nie, daar skuil veel diepers in. Dit is nie die indiwidualisme van die enkeling wat nie kan meng met sy samelewing nie, omdat hy hom nie daarby kan aanpas nie, maar die indiwidu uitgesluit van die massa op ’n verhewe voetstuk. Daar lê in hom opgesluit die betekenis van die Augustynse uitdrukking: Hy is primus inter pares. As sodanig mag ons dit dan wel beskou dat dit eintlik die samelewing is wat nie kan styg tot sy mate van belewing, sy verhewe sieninge en deurskouinge nie. Uit die aard van die saak is elke kunstenaar vir die groot menigte altyd ’n indiwidualis – soos hy self dit uitdruk – hoewel die sogenaamde indiwi­dualis in werklikheid die dieper lewe van die nasie verteenwoordig. Indiwidualis is hy dus, maar ook nasionalis. Iemand (Dr. H. A. Mulder, “Twee Wêrelde.”) het die mening uitgespreek dat die nasionalisme die grondtoon van sy werk vorm. Dit is waar dat daar ’n skoonheid in sy nasionale poësie is (in soverre ons sodanige werk as nasionaal kan bestempel) wat moet spreek tot elke hart – selfs al het die leser ander staatkundige belange. In „Die Dieper Reg” byvoorbeeld kry ’n mens ’n groot getuienis van nasionale inlewing. Die hele godsdienstige atmosfeer wat die werk omring, verplaas ons alreeds na die hartkringe van ons nasionale prestasie: Die Groot Trek. Dan ontroer sy suiwer siening van die volksmart:
Ons bene lê wit in die son, of vlak
in die vreemde aarde toegegooi; ons het
die hoogste offer wat die vryheid vra gebring –

Soms is daar ’n skrynerigheid wat ook in Leipoldt se vroeëre werk aangetref word:
Maar ons het hul sien sterf
en self gesterf, Heer, met die bitter wete
dat eie dood die bitterste nie is.
Was al ons pyn verniet?

In hierdie verse is hy die volksman, die hartstogtelike sanger oor die volksbelang. In “By die Monument” ryp sy nasieliefde tot ’n duidelike vorm, en dan bly
Waar liefde en sagtheid so geskend is,
net die haat
.”

En tog – ek beskou hierdie opbruisings van sy nasie-bewustheid as slegs iets wat van tyd tot tyd by hom voorkom. Dit mag soms wakker word en oorbruis in gedigte soos “Julle is die oorheersers,” “Lied van die gekwestes wat op die slagveld lê,” “Ons moet die bitter taak,” ens. ’n Aangrypende konstante besieling is dit egter nie, en daarom is hy nie die politikus, die volksdigter nie, maar styg hy uit bokant die volk. Die woord nasionalisme het dus ’n veel dieper betekenis by hom as wat die gewone strekking van die woord is. As digter bring hy uit wat in die volk skuil, maar waarvoor die volk self te primitief [Neem die woord hier nie te letterlik op nie. Ek gebruik dit slegs by gebrek aan een wat meer omvattend is!]  en onbeholpe is om selfs eers te weet dat dit by hom bestaan. So sê dr. Mulder tereg: “Wat vaag in het volk leeft, wordt door de zeldzame gevoeligen uitgesproken, en zo vanuit het bloot biologische in het rijk van den geest verheven.” Nogtans voel ek, altans op hierdie stadium, nog nie geneë om dr. Mulder se gedagte te aanvaar, naamlik dat die nasionalisme die grondtoon van sy werk vorm nie. Wél is daar ’n hegte band wat hom as subjek heg aan sy subjektiewe nasiegevoel wat tog verwerk word tot objektiewe volksmart, en sy indiwidualisme. Juis daarin le veel van die bekoring van sy kuns.

Daar is ’n baie sterk profetiese aksent in die werk van Van Wyk Louw. In der waarheid is elke waaragtige digter dan ook ’n uitverkose profeet wat die blik oor die toekoms moet slaan. Ons kry soms die indruk dat hierdie roeping deur Van Wyk Louw aan die godheid toegeskryf word. In “Die Profeet” byvoorbeeld voel hy dit baie sterk aan dat God hom as ‘t ware “tot digter gedoem het.” Hierdie goddelike roeping tot draer van die helder woorde is soms vir hom die oorsaak van sy uitgestotenheid:
U het nie woord gehou met my, o Heer,
hier teen die helfte van my dae
staan ek verblind in U fél brand se lig.”

en dan:
“U ‘t als geëis: my menslike waardigheid,
my stille samesyn met ander, die verborge
en altyd mooie liefde van die jeug.

Soms word dit vir hom té oorstelpend veel, en ryp dit tot skrynende smart:
Was dit my woorde wat ek sê?
Was my begeerte in my daad?

Sy digterskap is nie iets wat gepaard gaan met sy eie keuse nie, netsoos hy ook nie die lewe self gekies het nie:
Ek wou tog liewer buite wees;
nou moet ek wat jy gee, maar drink –
want jy is meester van die fees,
jy is dit wat die beker skink
.”

Dikwels toon sy Gods-begrip groot verwantskap met sy opvatting omtrent die Lewe self. God is nie vir hom opgeslote in ons dogmatiese begrip nie, maar is veeleer vir hom oerbron van die bewegende dinge:
U is begeerte, en pyn, en ’n verlange
en het ons hart so
’n drif gemaak
dat nêrens rus vir ons bestaan
.”

Daar is vir my ’n element van teenstrydigheid in sy godsdienstige lewe soos sy werk dit openbaar. Een oomblik is hy die deemoedige wat kan opgaan in die godheid:
Ek vloei in Hom, vloei in Sy wydheid
soos
’n stroom in die oseaan;
en soos die geur in die blomme lewe,
leef ek in Hom:
ek is Hy, Hy ek
grensloos in ewigheid
.”

– op ’n ander oomblik is hy die opstandige wat ’n “geding” met God het:
O God, Jy het my nou gebreek
op die rad van hierdie lewe;
ek voel die dowwe lede bewe
Jy het Jou eer aan my gewreek.

In “Ballade van die Sterwende Maan” sien ons hom weer as die een wat God verantwoordelik hou vir sy lewe waaruit “alleen die mooi en sondige dinge” in hierdie uur by hom bly.
Want só het U my hart gemaak:
snel om die skoonheid aan te raak,
voortvlugtig, rusteloos en ver,
verwant aan wind en berg en ster;

en dan:
miskien gee U aan enkeles krag
dat U soms edeler wild kan jag

As ons aan die godsbegrip by Van Wyk Louw dink, staan ons meteens midde in sy lewensfilosofie. Hy worstel met dieper gedagtes en begrippe wat in hom so ’n ontwikkeling ondergaan dat wanneer hy hulle in gekristalliseerde vorm giet, hy nie meer met die skoonheid van die woord praat nie, maar met die korrekte woord. So word baie van sy werk eintlik filosofiese werk, maar dra tog nog ’n hoerê poëtiese skoonheid. Ek is seker dat hy hierdie gedagtes nie in prosa sou kon uitdruk nie. Hy wil alle dinge deurskou en so tot die klaarheid van die begrip kom wat konkreet en stewig is: Hy wil die “panta rei” saamsluit in enkele kanale:
Die lewe wat gestalteloos dein
deur ewig weier, yler kringe,
die sal ons saamgryp en vereng
tot enkele harde en helder dinge
.”

So sê hy elders:
Maar ek wat gaan
waar hoër, kouer paaie lê
wil weinig troos en geen gebed
en min, maar suiwer woorde hê
.”

Op enkele plekke tree die filosofiese element selfs uiterlik na vore. So kan ’n mens nie help om in sy werk ’n forsheid op te merk wat miskien te verklaar is as ’n verwantskap aan Nietsche aan wie hy ook ’n gedig opdra. By hom is daar ook die veronderstelling van die “Ubermensch” wat geen swakheid ken nie. Die kragtigheid van sy werk boesem selfs in sy persoon respek in. Daar is ’n rewolusionêre aksie wat kamp teen die lewe, ja selfs teen God. En daar mag geen swak plek wees nie:
Ons wil moet blink wees, buigsaam soos staal,
een helder drif, een lem, een straal
van uit die brein, die skouer, die taaie digte
vlegsel van die spiere en die armgewrigte …

Hier suggereer hy nie net alleen die krag deur betekenis alleen nie, maar ook die tempo en woordkeuse teken al klaar die forse kragtigheid. Dit is ’n kenmerk van Van Wyk Louw om iets baie kragtig te sê met eenvoudige woorde.

As digter in die eerste plek is die skoonheid sy hoogste tema. Hy streef die indiwidu as sodanig verby sowel as die nasionalisme en kom so daartoe om te strewe na die absolute skoonheid, in soverre as die werklik bereik kan word. Alhoewel hy dus by ons eie volk, die Afrikanernasie onmiddellike belang het, en selfs nie glo aan so iets as ’n internasionale kultuur nie, bereik hy hierdie uitstyging bo die engere, byvoorbeeld in ’n werk soos “Raka.” Hier realiseer hy die gedagte van die tragiek van die morele ondergang van ’n volk in die vorm van die oorwinning van Raka oor Koki. Hierdie idee bring hy as waarskuwing aan die wêreld en in engere sin miskien aan die Afrikanervolk. Tog werk die volmaaktheid van ooreenstemming tussen woord en gedagte ’n indruk op wat lank by die leser bly, waardeur die werk verhef word tot een van die volmaakste prestasies van ons letterkunde.

Trouens, oor die skoonheid as tema in Van Wyk Louw se werk sou ons boekdele kon skryf. In “Die Halwe Kring” en “Gestaltes en Diere” kan ons talle voorbeelde vind. In sy gedig “Aan die Skoonheid” tree sy verheerliking daarvan uitgesproke na vore:
Jy vul die oë van die enkeles met lig en rusteloosheid …”

Ook om ’n ander rede is hierdie gediggie van veel belang: Dit openbaar sy deemoedige noodlotsgevoel:
Ons is ’n blinde en middernagtelike vrees
wat al die ligte dae van ons lewe
die helder weë van die aarde gaan en weet
dat stilte en verskrikking weerskant lê.

In een van sy opstelle se Van Wyk Louw self: “Die temas van alle groot poësie – die mens teenoor die natuur, teenoor die gemeenskap, teenoor die liefde, teenoor God – is ook die inhoud van hierdie Afrikaanse poësie.” En hierdie temas leef ook in sy werk, onmiskenbaar verhewe. Tog, as hierdie gedagtes daar was en dit moes in ’n swak vorm gegiet word, sou dit alles niks baat nie. Ook hierin lê deel van sy kuns: Hy weet presies hoe om homself te beheers en hoe om sy poësie te stel en in watter vorm hy dit moet giet. Hy gebruik ’n skitterende taal, maar wanneer ek aan sy poësie dink, sou ek in die eerste plek tog nie die woorde wat hy gebruik het, opmerk nie – hulle is ondergeskik aan die idee, en vir die waarlik aandagtige leser wat toelaat dat die digter hom uiter in sy verborge dieptes van skoonheid, verdwyn die woord as sodanig en hy gewaar die gedagte daaragter, getint met kleure en skitterende weelde. Sommige persone klae oor die gebrek aan ritme in sy verse of die afwesigheid van die sangerige element daarin. By hom sal ’n mens wel nie te veel daarvan vind nie, maar die algehele samesmelting van taal en tempo, een gedagte tot een verheerlikte brokkie skoonheid – dit is die sterkte van sy werk wat hom verhef tot ’n digter wie se gelyke seker nie gou uit ons volk sal ontspring nie.

WILLIE JONKER
[’n Artikel van WD Jonker in die Castalia-rubriek van die Universiteit van Pretoria se jaarblad Trek, 1947 35(43), 61­68]