Droogte is ’n martelende beproewing

DROOGTE IS ’N MARTELENDE BEPROEWING

’n Mens moet op ’n plaas grootgeword het om iets te verstaan van die magteloosheid van ’n boeregemeenskap wat besig is om in die greep van ’n hardnekkige droogte dood te bloei.

Kan daar iets meer martelend wees as die hooplose dae van versengende son uit ’n staalblou hemel, sonder enige teken dat die lewensnoodsaaklike reën in aantog is, terwyl die plantseisoen reeds byna verby is? Of is daar iets ergers as die teleurgestelling wanneer belowende tekens en die eerste dun wolke met die draai van die namiddag-wind weer verdwyn?

’n Mens moet jou nie laat bedrieg deur die vermoë van ’n boer om te bly glimlag en wellewend te bly gesels, terwyl sy landerye vergaan en sy vee wegkwyn onder die droogte nie. Wie sal weet wat alles afspeel tussen ’n gelowige boer en God? In sy hart is daar dikwels ’n verborge stryd aan die gang, diep ervarings van opstand en vertwyfeling wat mekaar afwissel, van onderworpenheid en soms ook ’n onuitgesproke verwyt aan die adres van die Almagtige.

Iemand vertel van ’n boer wat jare gelede in ’n knellende droogte ’n kollekte-bussie by sy hek aangebring het met die byskrif dat verbygangers versoek word om iets by te dra, sodat hy vir God ’n bril kan koop sodat Hy kan sien hoe die wêreld lyk.

Lasterlike opstand teen God? Ja seker, maar ook ’n getuienis van die foltering wat droogte meebring. Die stryd van die boeregemeenskap tydens droogte is vergelykbaar met die stryd wat menigeen op ’n siekbed of onder ander vorms van lyding moet verduur. Dit is ’n uiterste toets vir die geloof en ’n leerskool in die kuns om gelowig met God te wandel.

Een rede waarom baie van ons nie boer nie, is omdat ons te saf is vir hierdie soort ervaring. Boerdery is vandag ’n groot bedryf waarin veel belê en alles verloor kan word. Dit is nie ’n beroep vir wie nie iets anders kan doen nie. Ons hou ons dus maar liewer by die teerstrate en die maandelikse tjekkie. Ons het nie die moed om die werklikhede van die natuur en die droogte aan te durf en met ons hele bestaan geworpe te wees op die geloof dat God ons in die mislukkings en met die skuld sal help nie.

Te maklik vergeet ons in die stad die boer en sy probleme. Net af en toe kom krap die kunstenaars aan ons. Soos FA Venter met sy Geknelde Land of Laurika Rauch met haar Groetnis vir Mannetjies Roux. Hulle ken lê die pyn en tragiek van die boer met sy onmag en vrugtelose gesukkel.

Ons almal behoort gevoelig te wees vir die lyding van mens en dier, ja van die hele natuur onder ’n knellende droogte. Ons moet ook daarvan bewus bly dat ons almal afhanklik is van die reën, sodat daar voedsel kan wees vir die land.

Daarom sal ons hopelik nie net op biddae vir reën nie, maar altyd in ons voorbidding spesifiek aan ons boeregemeenskap in droogte-geteisterde gebiede dink. Hulle het ons geestelike en morele steun meer nodig as wat ons besef. – WDJ