Ewige lewe is geborgenheid in God

EWIGE LEWE IS GEBORGENHEID IN GOD

Die Christelike kerk staan en val by die belydenis van die geloof in die ewige lewe, en dan spesifiek in die sin dat die lewe vir die individuele mens nie by die dood beëindig word nie, maar na die dood op ’n ander wyse voortgesit word. Wie dit ontken, tas die Christelike geloof in sy hart aan.

Natuurlik is dit vir moderne mense nie maklik om dit te glo nie. Die moderne lewensbesef word gedra deur die oortuiging dat ons niks behoort te glo wat nie wetenskaplik bewys of ten minste as hoogs waarskynlik beskou kan word nie. En omdat die terrein van die geestelike buite die grense van die meetbare en bewysbare lê, beteken dit vir baie mense eenvoudig dat hulle die skouers daaroor optrek.

Maar dit is dan net konsekwent dat sulke mense ook oor God die skouers optrek. Ook God kan immers nie langs die weg van die rasionele denke ontdek of geken word nie. ’n Mens glo nie in God, omdat jy die bestaan van God kan bewys nie. Jy glo in God omdat jy innerlik daarvan oortuig geraak het dat Hy leef en dat sy liefde jou omvat.

Wanneer die Woord van God ons werklik aanspreek, wek dit in ons ’n sekerheid wat nie op redenasies gegrond is nie, maar die karakter dra van ’n vertroue wat geheg is in die vastheid van Gods openbaring. Wie egter eenmaal in God glo, vind op talle maniere bevestiging daarvoor in die wêreld rondom hom en in sy eie ervaring, sodat dit vir hom volkome redelik is om in God te glo.

Netso is die geloof in die lewe na die dood ook nie die resultaat van ons verstandelike redenasies nie. Ons glo dit op grond van die belofte van die ewige lewe wat aan ons in die evangelie verkondig word. Ons glo dit omdat dit in die Bybel, en spesifiek in die Nuwe Testament, op ’n duidelike manier geleer word.

Dit is daarby aangrypend dat Jesus self met sy eie gesag daarvoor instaan. Die Sadduseërs het ook nie geglo aan ’n persoonlike opstanding van die dode is nie. Ons lees in Lukas 20:27-40 dat hulle Jesus daaroor gekonfronteer het. Maar Jesus gebruik die geleentheid om die sekerheid van die ewige lewe duidelik te bevestig.

Die aangrypende is dat Jesus dit doen deur die werklikheid van die lewe na die dood direk aan die werklikheid van God self te verbind. Hy beroep Hom daarop dat die Ou Testament self leer dat God die God van Abraham, Isak en Jakob is. Daaruit trek Hy die konklusie dat God tog nie ’n God van dooies is nie, maar van lewendes. As God leef en Hy is die God van Abraham, dan leef ook Abraham nog.

God self is dus die waarborg van die lewe na die dood. Ons raak God nie kwyt deur die dood nie, omdat Hy leef en ons in sy gemeenskap vashou. As ons in die God van die Bybel glo, is dit absurd om nie in die lewe na die dood te glo nie.

Die ewige lewe is geborgenheid in God. Jesus se opstanding bevestig dit. Wie in Hom glo, sal lewe tot in ewigheid. – WDJ