Gevangenes van ’n droom

GEVANGENES VAN ’N DROOM

Die titel van ’n boek wat onlangs in Amerika verskyn het (Prisoners of a Dream), word die tragiese werklikheid uitgedruk dat mense ’n lofwaardige ideaal kan hê, selfs ’n wonderlike droom van vryheid, menslikheid en die mooiste ander dinge kan droom – en dat hulle tog in hulle ywer om dit te verwesenlik self tot gevangenes daarvan kan word en dan self die dinge verkrag wat deur hulle nagejaag word.

Ons groot probleem as mense is nie dat ons nie mooi ideale het nie. Daar is genoeg mense in die wêreld wat ’n visie het van hoe ’n ideale wêreld daar behoort uit te sien. Ook wat ons persoonlike en gesinslewe lewe betref, is ons meestal nie sonder nobele motiewe en begeertes nie.

Maar omdat ons sondaars is en daar iets basies aan die wortel van ons bestaan verkeerd gegaan het, word ons edele motiewe en ideale altyd deurkruis deur te veel ander kragte en onedele neigings in ons self wat ons baie maklik van koers af kan bring en ons ideale juis verongeluk. Dit is selde of ooit so dat daar nie aan ons mooi ideale ook ’n stuk selfsoeke verbonde is nie.

Bowendien leef ons in ’n ingewikkelde wêreld waar daar ook ander mense met ideale is wat ons drome dwarsboom en frustrasie op ons pad bring. Ons loop onsself vas teen feite en gewordenhede, teen die onwil en traagheid en domheid van talle ander mense, juis ook van sommige van die mense met die oog op wie ons miskien ons edele ideale koester.

En dan kan dit maklik gebeur dat die ideaal wat ons koester, deur ons losgemaak word van die realiteite en tot ’n soort abstraksie word wat ons teen elke prys wil verwesenlik, juis omdat dit vir ons ook verbonde is aan selfsugtige en eersugtige en heerssugtige motiewe waarvan ons miskien nie altyd aan onsself rekenskap gee nie.

Dan mis ons die wysheid en die soepelheid om te verstaan dat drome in ons soort wêreld nooit met rigorisme en sonder morele integriteit verwesenlik kan word nie. Ons moet na ideale strewe om egte mense te kan wees, maar as ons slawe van ons ideale word en hulle oor ons begin heers, sodat ons hulle teen elke prys wil najaag, ook teen die prys van ons morele integriteit, is ons op ’n uiters gevaarlike pad.

Hoeveel mooi drome van ambisieuse ouers het al hulself en hulle kinders vernietig? En hoeveel staatsmanne het al groot drome vir hulle lande gekoester, net om hulle feitlik moreel en materieel te gronde te rig? Dit is goed om groot ideale vir jou volk te koester, maar as dit teen die prys van hulle morele integriteit verwesenlik moet word, word jy ’n slaaf daarvan en sleur hulle saam met jou die afgrond in. Dink maar aan die voorbeeld van Hitler.

Ook in ons land en in ons persoonlike lewe moet ons daarteen gewaarsku wees. ’n Abstrakte ideaal, hoe mooi ook-al, kan tot ’n Molog word wat die hoogste offers vra, sonder om te gee wat hy beloof het. – WDJ