God is ’n toevlug in die nood

GOD IS ’N TOEVLUG IN DIE NOOD

Op Geloftedag roep ons met dankbaarheid in herinnering dat God op 16 Desember 1838 die gebed van die Voortrekkers by Bloedrivier in ’n krisis-uur gehoor en hulle op ’n wonderlike wyse bewaar het. Die geskiedenis van ons land is daardeur op ’n beslissende manier gestempel. Vir die Afrikanervolk is dit daarom ’n gebeurtenis wat werd is om onthou en jaarliks weer in herinnering geroep te word.

Dit lê voor die hand om op Geloftedag te vra watter boodskap dié gebeurtenis vandag vir ons het. Die antwoord daarop moet in die lig van die Bybel gesoek word. En dan is dit duidelik dat wat by Bloedrivier gebeur het, maar net nog ’n bevestiging is van wat die Bybel ons duidelik leer: dat God die hoorder van die gebed is en ’n toevlug in nood, vir wie ook al sy aangesig soek.

Omdat dit die boodskap van Geloftedag is, spreek dit ook vandag tot ons op ’n duidelike manier. Niemand van ons sal daaraan twyfel dat ons vandag ook weer in ’n situasie van nood en bedreiging is nie. Juis daarom is die boodskap dat God in ons eie geskiedenis Homself as die hoorder van die gebed laat ken het, vir ons tot ’n groot bemoediging.

Ingewikkelder

Uit die aard van die saak verskil die situasie van vandag in baie opsigte van dié by Bloedrivier. Die situasie van destyds was wel baie ernstig, maar tog ook baie eenvoudiger as dié van vandag. Dit was ook meer oorsigtelik. Dit het om ’n militêre botsing tussen twee groepe gegaan waarvan die uitslag ingrypende gevolge sou hê, maar waarby die hele toekoms van die land tog nie as sodanig in die spel was nie.

Vandag is die situasie intensief en ekstensief veel ingewikkelder en omvattender, en in dié sin ook baie ernstiger as destyds. Gelukkig gaan dit tans nog nie om ’n direkte militêre botsing soos destyds nie, maar dit gaan tog om ’n situasie van konflik wat veelkantig en potensieel veel gewelddadiger is as dié van destyds. Die gevare wat ons land as geheel en al sy mense in haas alle opsigte bedreig, is veel en veel groter as wat destyds die geval was.

Die ingewikkeldheid van ons probleme, die groot ideologiese teenstellings wat bestaan, die verskil van belange, die opgeboude wantroue, bitterheid en haat, die vrees en onsekerheid maak dit menslik byna onmoontlik om ’n uitweg uit ons situasie te vind. Daarby is dit duidelik dat daar nie ’n oorwinning van een groep oor ander kan wees, soos destyds by Bloedrivier nie, maar dat ’n uitweg wat vir al die mense van die land saam ’n oorwinning sal beteken, vir ons land noodsaaklik is. Anders sal ons mekaar vernietig.

Beloftes

Wie dit besef, sal weet dat meer as menslike wysheid en tegniek nodig sal wees as ons ’n uitweg uit hierdie kritieke situasie moet vind. Ons het die hulp van God nodig.

Maar ons mag dan ook met vrymoedigheid na God gaan. Die Bybel betuig duisendvoudig dat God ’n toevlug in die nood is. So sê Psalm 46:2 : “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” Psalm 107 is in sy geheel daaraan gewy om te vertel hoe God in telkens wisselende situasies die hulpgeroep van sy volk gehoor en hulle uitgered het. En in Jesaja 65:24 staan die wonderlike woorde: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor”.

Natuurlik moet ons sulke beloftes nie in dié sin verstaan, dat God ons gebede altyd verhoor op die wyse wat ons graag sou wil hê nie. Ons moet ook nie verwag dat God op ’n wyse wat buite ons eie inspanning en gehoorsaamheid omgaan, die situasie in ons land sal verander nie. Maar ons mag wel daarop reken dat God Hom nie tevergeefs laat aanroep deur diegene wat hulle op sy genade werp nie.

Soms mag dit lyk asof God nie ons gebede hoor nie. Die Bybel ken ook die klagte van vromes wat sê dat God ver weg bly staan. Ernstige gebedsworsteling is dikwels nodig om tot helderheid oor Gods weg met ons te kom. ’n Beroemde voorbeeld hiervan is Psalm 22 waarin die digter sê dat hy bedags en snags tot God roep, maar dat God ver weg bly en hom nie help nie. Jesus het later hierdie psalm aan die kruis op sy lippe geneem, want ook Hy het ervaar dat die hemele geslote bly, asof God nie ingryp in die nood nie.

Erenaam

En tog is God nooit doof is vir die gebede van sy kinders nie. Die Bybel leer ons dat ons so moet glo in die liefde, goedheid en geregtigheid van God, dat ons by voorbaat daarvan kan uitgaan dat Hy sy erenaam as helper in die nood gestand sal doen, selfs al is die weg wat Hy gaan, nie altyd vir ons deursigtig nie.

Solank as die evangelie van die kruis en die opstanding in die Bybel staan wat ons leer dat die kruis van Jesus gevolg is deur die heerlikheid van die opstanding, moet ons bly glo dat God in die geskiedenis verlossend besig is en ons gebede sal hoor, al gebeur dit op ’n wyse wat ons aanvanklik nie verstaan nie, maar later blyk die hoogste wysheid te wees.

Dit gee aan ons ’n groot innerlike rus en vrede. As ons bid om Gods hulp in hierdie kritieke uur, mag ons dit doen in die geloof dat Hy wat alles weet, ook beter as ons weet hoe die koms van sy koninkryk in hierdie land en die welsyn van alle mense die beste bevorder kan word. – WDJ