Onskadelik

ONSKADELIK
Die Burger, 11 Februarie 1978, bladsy 8

Die evangelie van Jesus Christus is iets totaal anders as die gedagtes en begeertes van die natuurlike mense en die werklikheid waaraan ons gewoond is. Dit vra van ons selfkruisiging, waar ons diepste drang selfhandhawing en selfverheerliking is. Dit vra van ons liefde, waar ons van nature geneig is om te wantrou, te vrees, en te haat. Dit vra van ons reinheid en geregtigheid, waar ons uit onsself ’n haard is van onreinheid en ongeregtigheid.

Die evangelie vra dit alles van ons, omdat dit van ons eintlik maar net een beslissende ding vra: om onsself los te laat, onsself op God te verlaat, Hom lief te hê en te vertrou en die hele wêreld vanuit die gesigshoek van Sy heerskappy en genade te beskou. In die liefde tot God lê alles opgesluit wat ’n mens nodig het om aan sy eie doel te beantwoord en om vry en gelukkig te wees.

Maar vir ons natuurlike hart lyk dit alles onprakties en onmoontlik. Dit is so vreemd aan ons eie denke, dat ons nie kan glo dat die Evangelie dit werklik so letterlik en prakties kan bedoel nie. Die gevolg is dat ons altyd weer probeer om die evangelie op die een of ander wyse aan te pas by wat vir ons wel aanvaarbaar, prakties en uitvoerbaar lyk. In die proses verander ons die evangelie radikaal. Ons maak dit mak. Ons ontlont dit. Ons maak dit onskadelik deur die revolusionêre betekenis daarvan in ons sondige wêreld uit te skakel.

Dit is ’n proses wat deur die eeue heen in die kerk aan die gang is, Dit is nie net die vrysinniges wat die evangelie aanpas by wat hulle bereid is om te aanvaar nie. Dit is ook die konserwatiewe en ortodokse. Ons almal saam kan die radikaliteit van die evangelie nie verdra nie en ons maak die evangelie elkeen op ons eie manier onskadelik, afhangende van wat vir ons die beste pas, hetsy liberaal of konserwatief, vrysinnig of ortodoks, solank ons nie hoef te doen wat die evangelie werklik van ons vra nie.

Op die een of ander manier word Christus altyd weer opnuut deur ons gekruisig. Pascal het al gesê dat Christus in die wêreld sal ly tot aan die voleinding van die dae. As ’n mens eerlik en objektief na jou eie lewe en opvattings sou kon kyk – maar dit is iets wat ons helaas uit eie krag nooit kan doen nie – sal ons gou merk hoe ons die Bybel mak maak, inperk, akkommodeer en tot ’n bevestiging van ons eie vooroordele en klaar gevormde opvattinge maak. Hierin kan die pot die ketel nie verwyt nie. Ons het ’n nuwe dáád van God nodig, ’n nuwe werking van sy Gees in ons midde, ’n nuwe profetiese verkondiging, om ons van onsself en ons verkorting van die Bybel tot ’n paar aanvaarbare ʺbeginselsʺ te bevry. – WDJ