Onbedoelde hulp

ONBEDOELDE HULP
Die Burger, 18 Februarie 1978, bladsy 8

 ’n Mens vra jouself dikwels af hoe dit kan gebeur dat die Marxisme daarin slaag om sommige van die wêreld se beste, intelligentste en mees dinamiese jong mense te bekoor.

Die antwoord daarop is eenvoudig dat die Marxisme homself by sulke idealistiese jong mense aandien. as die enigste ideologie in die wêreld wat werklik die stryd in erns aanbind teen die armoede, onderdrukking, uitbuiting en vernedering waaraan miljoene mense in die wêreld onderworpe is.

Dit is duidelik dat die Marxisme nooit mense sou kon oorhaal om aktiewe vegters vir hierdie revolusionêre ideologie te word as dit aan hulle ’n prentjie sou voorhou van die onderdrukking in Kommunistiese lande en die aantasting van die menslike waardigheid wat tot dusver nog oral op die spoor van die aanvaarding van die Marxisme as ideologie van ’n bepaalde land gevolg het nie.

Dit kan alleen die steun van mense verower deur aan hulle die ideaal van die uiteindelike triomf van die ware menslikheid oor alle vorme van onreg voor te hou as iets wat die moeite werd is om voor te lewe. In hulle besieldheid vir die ideaal vergeet sulke jong mense dan maklik die klaarblyklike mislukkings van die Marxisme in die konkrete geskiedenis. Bes moontlik dink hulle dat as die beginsels van die Marxisme maar net beter en konsekwenter toegepas sou word as wat tans nog in Kommunistiese lande gebeur, die groot ideaal van ware menslikheid bereik sal word.

Hoe wen ’n mens sulke jong mense terug vir die Christendom? Dit kan alleen gebeur wanneer aan hulle metterdaad getoon kan word dat die Christelike geloof nie die oorsaak of die verdediger is van die dinge waarteen hulle veg nie, maar in werklikheid die enigste krag wat daar ’n einde aan kan maak. Die wedergeboorte deur die Heilige Gees is die enigste moontlikheid vir ’n mens om verlos te word van die selfsug en liefdeloosheid wat die oorsaak is van so baie ellende in die wêreld.

Net ’n mens wat die regte verhouding teenoor God het en voor God in ootmoed en liefde·!ewe, kan ook in die regte verhouding teenoor sy medemense staan en hulle menslikheid om Christus ontwil eerbiedig. Die Marxisme kan dit nooit regtig bewerk nie, omdat dit gebou is op haat, bitterheid en ’n onbekeerde hart wat, met God en sy genade nie rekening hou nie.

Wie die ideaal van die verwydering van armoede, onderdrukking, uitbuiting en vernedering as iets onbeduidends wil afmaak of op watter wyse dan ook wil diskrediteer, kan net so sterk teen die Marxisme gekant wees as wat hy wil. maar hy verleen in die laaste instansie onbedoelde hulp daaraan. Ook derduisende sogenaamde Christene is deur hul lewenshouding en hul berusting in toestande van onmenslikheid ’n groot bate vir die Marxisme, omdat hulle onbewus die Marxistiese teorie bevestig dat die godsdiens ’n mens ongevoelig maak vir die nood en waardigheid van jou naaste. – WDJ