Byna gedagteloos

BYNA GEDAGTELOOS
Die Burger, 25 Februarie 1978, bladsy 12

Dit behoort tot die jammerlike dinge in ons !ewe dat ons so dikwels byna gedagteloos die, dinge oor ons heen laat gaan, in plaas daarvan dat ons dit bewustelik en met opmerksaamheid belewe. Die grootste en heerlikste ervarings van ons stukkie weg deur die tyd gaan daarom so maklik aan ons verby, sonder dat ons die volle betekenis daarvan besef het.

Een van die vernaamste redes daarvoor is dat ons so selde daarin kan slaag om in die hede, in die aktuele moment waarin ons onsself bevind te lewe. As ons jonk is, strek ons onsself altyd na die toekoms uit. Ons het ideale en ambisies wat verwesenlik moet word. Ons droom oor heerlike dinge wat in die verskiet lê. Ons jaag na môre in die illusie dat dit dan alles so wonderlik sal wees. Maar in die proses loop ons verby omtrent alles wat in die hede mooi en eenmalig wonderlik is.

Hoeveel jong getroude mense geniet werklik die eerste jare van hul getroude lewe op die regte, intense wyse? Nee, meestal is hulle besig om vir hulself ’n posisie op die sosiale leer te probeer oopveg. Hul kinders word gebore, ontluik, ontwikkel – één groot wonder, waarvoor ’n mens die tyd moet neem om dit te aanskou, te geniet, in jou geheue vas te Iê. Maar ons is te besig. Ons voel hulle meestal net as nog ’n ekstra las aan, met al die eise wat hulle stel en die beperkinge op ons vryheid wat hulle aanwesigheid,  meebring. Die tyd gaan so gou verby, en onherroeplik verby. Voordat ’n mens dit merk, is daardie eerste wonderlike jare verby, en jy het byna gedagteloos daaroor heen gejaag.

Maar dit geld nie net vir ons jeug nie. Dit geld vir ons hele lewe. Want as ons ouer word, leef ons ook weer nie in die hede nie, maar begin ons weer om in die verlede te leef.

Hoe min mense is daar wat werklik hul ouderdom bewustelik deurmaak met die liefde, ervaring en humor wat by dié deel van ons lewe pas. Maar wat erger is: dit lyk byna asof daar baie ouer mense is wat maar min registreer van die werklik interessante dinge wat rondom hulle plaasvind. Hulle is so vasgegroei in die patrone en gedagtes wat hulle uit die verlede saamgebring het, dat hulle byna deurentyd negatief staan teenoor die hede. Voorts word die kringetjie van hul belangstelling steeds kleiner, totdat dit uiteindelik net om hul eie liggaamlike behoeftes gesentreer is.

As·’n mens ’n bietjie pessimisties oor ons menslike lewe dink, moet jy vra: Wanneer lewe ons dan werklik? Dit is iets waarvoor ’n mens moet bid, dat dit aan jou gegee mag word om ég te mag lewe in die volle sin van die woord, te lewe in die nou wat God·gee, met al die inhoud wat daarin opgesluit lê. – WDJ