Ook dit is waar

OOK DIT IS WAAR
Die Burger, 4 Maart 1978, bladsy 10

Daar is natuurlik baie negatiewe dinge wat oor die groepsverhoudinge in ons land gesê kan word. Dit sou dwaas wees om ’n mens se ore daarvoor te sluit. Die gevaar van die volgehoue skerp buite- en binnelandse kritiek met sy oordrywing en eensydighede is dat dit ons langsamerhand immuun kan maak ook waar dit om billike kritiek gaan. Ons sal daarteen moet waak, omdat niks vir ons skadeliker kan wees so ’n houding van selfregverdiging wat ook klaarblyklike verkeerdhede in·ons midde verdedig en verontskuldig nie.

Maar daar is natuurlik ook ’n ander kant van die saak. Dit is dat ’n mens onder al die lawaai die veel positiewe kante wat daar tog ook in ons verhoudinge tot mekaar is, kan miskyk. Dit is dinge wat normaalweg nie aan die groot klok gehang sal word of behoort te word nie. Tog is dit óók waar en is dit goed dat ons daarin die tekens sal sien van God se genade dat daar in ons gemeenskap nog soveel goeie wil van die een groep teenoor die ander aanwesig is, dat dit die potensiaal bied vir positiewe ontwikkelinge.

Om maar één ding te noem: die magtige organisasie van die Karnaval op Stellenbosch is afgestem op slegs één ding, en dit is die verkryging van geld vir die maatskaplike en geestelike opbou van minderbevoorregtes in die bruin gemeenskap.

’n Mens hoef maar oppervlakkig kennis te neem van die groot werk wat in hierdie verband gedoen word om te besef dat dit tog geen kleinigheid is dat soveel jong mense uit een bevolkingsgroep hulself soveel moeite en entoesiasme veroorloof vir die beswil van ’n ander groep· nie. Daar moet tog êrens ’n groot stuk deernis agter skuil. Daar moet tog ’n invloed op ’n gemeenskap uitgaan as sy jongmense soveel inisiatief aan die dag lê, nie ter wille van enige eie gewin nie, maar ter wille van die bevordering van andere se liggaamlike en geestelike heil.

Seker, ’n mens kan dit ook weer afkraak as jy wil. Dit is maklik om oor alles negatief te wees. Dit is ’n klein kunsie om die studente se entoesiasme en moeisame arbeid aan hul kompetisiegees of aan iets anders toe te skryf, en miskien selfs aan ’n skuldige gewete. Maar wie hier billik wil wees, sal tog moet erken dat dit hier gaan om ’n gemeenskap wat die armoede en swaarkry in eie boesem leer sien het en iets daaraan wil doen.

Daar sit êrens tog ’n groot stuk liefde agter so ’n projek, ’n stuk aanvaarding van die nood van die medemens as my verantwoordelikheid. Is dit nie wat Christus ons beveel het om te doen nie? Dit is ondenkbaar dat so iets niks te make sou hê met die feit dat so baie van ons jong mense Christene is nie. – WDJ