Pas op vir misverstande

PAS OP VIR MISVERSTANDE
Die Burger, 25 Maart 1978, bladsy 6

’n Mens kan maklik deur jou reaksies onnadenkend allerlei misverstande opwek by mense rondom jou. Die effek daarvan kan vir jouself en andere tot groot nadeel wees. Daarom is dit so belangrik dat ’n mens uiters versigtig moet wees met die indrukke wat jy deur jou woord en daad die wêreld instuur, omdat dit per slot van rekening is waaraan andere jou meet.

Neem byvoorbeeld die houding wat ons inneem met  betrekking tot die hedendaagse wêreldwye veroordeling van rassisme. Daar is nie veel kennis van die mensdom nodig om te vermoed dat daar agter die vendetta wat oor hierdie saak gevoer word, nie altyd suiwer motiewe aanwesig is nie. ’n·Mens kan selfs sterk vermoedens hê dat dit in bepaalde kringe aangeblaas word deur mense wat minder fraai bedoelings het en meen dat hulle politieke wins daaruit kan haal, terwyl hulleself nie minder rassisties as alle ander mense is nie. ’n Mens kan ook vermoed dat daar met ’n verkeerde idee van wat rassisme is, gewerk word en dat daar ’n uiters selektiewe heksejag gevoer word in die aanwysing van die wêreld se rassiste.

En tog: ook in hierdie saak is dit uiters belangrik hoe ’n mens reageer, juis as jy in die beskuldigdebank geplaas word. Die verkeerdste reaksie is om rassisme te begin goedpraat of verdedig. Selfs al doen ’n mens dit gekwalifiseerd, loop jy die gevaar om presies in die hande te speel van diegene wat jou van rassisme beskuldig. Tensy ’n mens werklik ’n rassis is – dit  kan geen Christen tog ooit wil wees nie – is dit jou plig om enige gesprek oor hierdie saak te begin deur geen twyfel daaroor te laat dat jy self teen rassisme gekant is nie. Eers daarna kan jy begin om die dinkfoute en verkeerde motiewe van jou beskuldigers te ontmasker.

Dit geld ook nog vir so baie ander dinge. Dink maar aan die kwessie van menswaardigheid of die sogenaamde menseregte. Dit is so uiters dom om met allerlei swaarwigtige argumente te velde te trek teen diegene wat hulle die bevordering van menseregte en die menswaardigheid van die mens ten doel stel, want daardeur wek ’n mens die indruk dat jy ’n saak wat vir miljoene mense van die allergrootste praktiese belang is, gering ag terwyl jy self baie graag toesien dat jou eie regte en waardigheid gehandhaaf moet word.

As hierdie indruk ’n verkeerde indruk is van wat ons werklik voel en dink – en niemand van ons sal tog wil erken dat dit is hoe ons oor sake voel en dink nie – dan behoort ons daar geen twyfel oor te laat dat dit ook ons intensie is om aan elke enkele mens in die wêreld te laat toekom wat God vir hom bedoel het nie.

Eers as mense dit van ons gehoor het, kan ons teologiese en ander kortsigtighede by hulle uit die weg probeer ruim. Ons kan nie bekostig om misverstande op te wek oor dinge wat so uiters sensitief is, en waaroor daar vir ’n Christen vanuit die wet van God alle rede is om klare wyn te skink nie. – WDJ