Die ander kant

DIE ANDER KANT
Die Burger, 1 April 1978, bladsy 8

Dit is een van die moeilikste dinge om te leer. maar vir ’n Christen tog uiters noodsaaklik om te weet dat ons eie kant van ’n saak nie die enigste kant is wat daar is nie. Daar is ook ’n ander kant van die saak, die kant van die ander persoon wat saam met ons in ’n situasie betrokke is. En daardie ander kant van die saak is vir die ander persoon minstens net so belangrik as wat ons eie kant van die saak vir onsself is.

Dit is vir ons onmoontlik om objektief na onsself en ons eie belange te kyk. Enige mens is van nature mateloos bevooroordeeld ten gunste van homself. Ons oordeel oor ons eie optrede is altyd’ baie gunstiger as wat ons oordeel oor die optrede van andere is. Ons is geneig om net altyd goeie motiewe by onsself te vermoed, terwyl dit vir ons so maklik is om allerlei verkeerde, bose en selfsugtige motiewe by ander te veronderstel. Omdat ons na onsself van binne af kyk en na die ander van buite af, verskil die gesigspunte waaronder ons onsself en die ander beoordeel. Selfs al bedoel ons dit nie om vir onsself partydig te wees nie, is ons dit net eenvoudig met ’n naïewe vanselfsprekendheid.

Daarom is daar in die verskille wat tussen ’n man en ’n vrou, tussen ouers en kinders, tussen werkgewers en werknemers en tussen die twee partye in enige geskil ontstaan, dikwels soveel onnodige bitterheid. Dit hang saam met die onvermoë van elkeen om-homself in die skoene van die ander te plaas en die saak ook ’n keer uit die ander se gesigspunt te beskou.

Meestal het die ander party ook ’n kant van die saak beet wat in aanmerking geneem behoort te word. Dit is selde so dat die ander een honderd persent verkeerd is en ekself honderd persent reg. Geen mens is heeltemal ’n duiwel nie, maar geen mens is ook ’n engel nie. In ons almal lê goed en kwaad, wysheid en onwysheid, billikheid en onbillikheid op sodanige wyse verstrengel, dat dit eintlik ondenkbaar is dat al die goeie motiewe in ’n gegewe geskil net by één van die twee partye, en al die verkeerde motiewe net by die ander party aanwesig kan wees.

In alle menslike geskille is dit meestal so dat niemand heeltemal gelyk het nie, maar ook niemand heeltemal ongelyk nie. Daarom is dit so belangrik om die moeite te doen om na die ander te luister. In die wêreld van die regspraak is dit ’n onvernietigbare beginsel dat ʺdie ander kant ook gehoor moet word” voordat geoordeel word.

Vir ’n Christen is dit belangrik om te onthou dat Christus in sy woord oor die splinter en die balk in die oog op ’n skerp humoristiese wyse ons aandag vestig op ons eie onbekwaamheid om andere objektief te kan beoordeel, omdat ons altyd vanuit ’n situasie van blindheid vir ons eie foute probeer opereer.

Met soveel meer klem geld dit dus vir die Christen dat hy die ander kant van die saak óók moet probeer hoor en verstaan, tensy ook hy so domastrant is dat hy weier om hom deur die feite te laat verwar in sy klaar gevormde oordeel. – WDJ