En dit heet dan Vryheid

EN DIT HEET DAN VRYHEID
Die Burger, 8 April 1978, bladsy 8

Daar is iets so pateties aan ons menslike bestaan dat ’n mens dit nie kan verhelp om bedroef en terneergedruk te word as jy daaroor nadink nie. Ek bedoel die mislukking wat die mens telkens weer ondervind in sy strewe na iets beters, iets groters as die bestaande. Dit is met ons mens-wees gegee dat ons onsself nie maar kan neerlê by wat is nie.

Ons soek na iets meer, na ’n toekoms wat die hede sal oortref. Daarvoor is ons bereid om onsself in te span, ja, selfs om onsself geheel en al op·te offer. Die patetiese is egter dat die toekoms wat ons op dié manier probeer verower, altyd anders is as die bestaande hede met sy gebreke, maar dat dit meestal nie beter is·nie. Dit kan selfs veel erger wees.

Dink maar aan die huidige geroep om vryheid wat die wêreld beetgepak het. Dit is iets so tipies mensliks om vry te wil wees. Die mens is nie geskape vir ’n verknegte en ’n onderdrukte bestaan nie, Hy is deur God bedoel vir die vryheid in die wydste sin van die woord, geestelik en fisiek. Dat hy dus ’n onversadigbare dors na groter vryheid het as die wat hy in sy normale bestaan ervaar, is eenvoudig natuurlik. Dit is ’n herinnering aan die feit dat die mens na die beeld van God geskape is. ’n Mens in wie die drang na vryheid verdwyn, het opgehou om mens te wees.

Die patetiese is nou egter dat die mens die omvattende aard van sy gebondenheid nie ken en verstaan nie. Hy merk nie dat sy onvryheid nie net iets is wat van buite-af op hom afgedruk word nie, maar dat dit ook in homself bestaan.

Hy bedrieg homself met die gedagte dat hy vry sal wees as hy bepaalde omstandighede waarin hy verkeer, kan verander. Hy meen selfs dat dit nie saak maak watter middele hy aanwend om daardie uiterlike vryheid te probeer verower nie.

In die proses merk hy nie dat hy soos ’n man is wat vasgevang is in ’n bondel toue, wat meen dat hy besig is om knope waarin hy verstrik is, te ontwar, maar wat in dié proses nuwe knope Iaat ontstaan wat hom net op ’n ander manier weer bind nie.

Die hele Derde Wêreld is ’n voorbeeld van hierdie situasie. Die vlam van revolusie waai oor die wêreld en die resultaat daarvan heet dan vryheid. Maar watter soort vryheid is dit waarin letterlik miljoene mense uitgemoor word, waarin diktatoriale onderdrukking aan die orde van die dag is, waarin die vroeëre gebrekkige reg verruil is vir totale regloosheid en waarin die karige bestaan van vroeër verdwyn het om plek te maak vir net nog meer armoede, honger en ellende?

Kan ware vryheid ooit deur middel van haat en geweld verkry word? Kan vryheid ooit ’n menslike kwaliteit hè, as dit nie ook gepaard gaan met innerlike vryheid nie?

Natuurlik moet mense vry wees, óók politiek, en moet daar ’n einde kom aan elke vorm van uitbuiting en onderdrukking in die wêreld. Maar as die wêreld meer deur die Gees van Christus regeer sou gewees het, sou die vryheid langs ’n ander weg gesoek en gegee kon gewees het, en sou dit ’n ander kwaliteit kon besit het. – WDJ