Genoeg vir elke dag

GENOEG VIR ELKE DAG
Die Burger, 22 April 1978, bladsy 6

As ’n mens soms skielik gekonfronteer word met die leed van andere en jy aan jouself die vraag stel of jy in staat sou wees om iets dergeliks te verwerk en te verduur, kan jy nie anders as om negatief daarop te antwoord nie.

Sou ek nog kan regop loop as dit my vrou of my kind was wat vandag na die graf gedra sou word? Sou ek nog die moed hê om voort te lewe as dit ek is wat die tyding moes ontvang dat my seun op die grens gesneuwel het? Sou ek in staat wees om met waardigheid te leer saamlewe met die wete dat ek aan ‘n ongeneeslike kwaal ly wat telkens weer alle flou tekentjies van hoop vernietig en sy meedoënlose gang in my liggaam gaan? Sou my geloof en hoop, my Iiefde en my vertroue·op God sterk genoeg wees vir die ontsetting en die pyn, die bodemloosheid en uitsigloosheid van dié·soort smart wat mense rondom my daagliks ervaar?

Dit is seker net menslik dat ons aan onsself twyfel, ja, dat ons selfs die oortuiging sal hê dat ons nie in staat is daartoe om met manmoedigheid die donker plekke van die lewe binne te tree nie.

En tog leer die ervaring duisendvoudig dat dit vir ‘n Christen in die gegewe situasie telkens weer moontlik is om te doen wat hy tevore as onmoontlik beskou het. Wanneer die aktuele moment daar is, blyk ons tog die krag te besit om orent te bly ·en nie te beswyk as ons getugtig word nie.

Die rede daarvoor moet gesoek word in die genade van God. Genade is nie iets wat ‘n mens by voorbaat besit nie. Dit is die konkrete guns wat telkens weer aan ons bewys word na die mate waarin ons dit nodig bet. Gods genade is genoeg vir elke dag. Ek kan nie verwag om vandag al die genade te ontvang wat ek more nodig sal hê nie. Daarom kan ek ook nooit by voorbaat weet dát en hoé ek in ‘n krisissituasie sal kan oorleef, en nie net oorleef nie, maar só sal kan leef, dat ek Gods lof verkondig en vir my medemens tot ‘n seën sal kan wees nie. Ek mag egter wel daarop vertrou dat God dit dan ook genadiglik aan my – selfs aan my – sal gee om soos ‘n verloste mens onder die swaarste druk te kan uithou en te kan deurkyk tot in die heerlikheid van die hemel.

Die bron van die vertroue is nie geleë in ons menslike reserwes nie. Mense wat uiterlik die sterkste lyk en hulself as die sterkes voordoen, is dikwels innerlik die breekbaarste en die minste daartoe in staat om ‘n situasie soos ‘n Christen te hanteer. Die bron van ons vertroue is geleë in die beloftes van God.

Die Bybel belowe ons nêrens dat ons nie deur donker dieptes heen sal moet gaan nie. Dit hoort selfs tot ons menslike, bestaanswyse. En as·ons vandag of môre nie in donker dieptes gevoer word nie, dan kan dit wel die dag daarna gebeur. Wat die Bybel ons egter wel verseker, is dat God by sy kinders is in die donker dieptes en dat selfs dáár sy hand hulle vashou. Die versekering is dan ook genoeg vir elke dag. – WDJ