Verharding

VERHARDING
Die Burger, 3 Junie 1978, bladsy 6

Ons lees in die Bybel meermale daarvan dat God die hart van mense verhard het, sodat hulle na sy Woord nie sou luister nie. So was byvoorbeeld met die farao in die tyd van Israel. Op ’n bepaalde moment kan hulle se verdrukking in Egipteland. So was dit later ook met die Fariseërs en Skrifgeleerdes uit die tyd van Christus se aardse omwandeling (vergelyk Johannes 12:37 tot 41).

Dikwels bestaan die misverstand dat hierdie verharding eintlik buite hierdie mense se skuld omgaan. Baie mense dink dat dit gaan om iets waartoe sulke mense nou eenmaal gepredestineer is, sodat hulle net nie anders kon as om hulleself te verhard nie. As ons egter die Bybel lees, is dit duidelik dat hierdie verharding nooit buite ’n mens se eie skuld omgaan nie.

God verhard ’n mens se hart eers as jy dit self verhard het. God pleit by ’n mens. Hy gee jou lank tyd. Hy hou aan jou die weg van bekering voor. Maar as jy jou ore sluit vir Gods waarskuwings en vir sy oproep tot bekering, dan kom daar ’n moment waarop God jou oorgee aan die verharding. Dan láát God jou gaan op die weg wat jy gekies het, totdat jy jou te pletter loop teen Sy wil.

Juis omdat dit so is, is verharding nie net iets wat in die Bybelse tyd voorgekom het, maar vir ons nie meer aktueel is nie. Dit bly in alle tye ’n huiweringwekkende moontlikheid. Daar kan by mense ’n verblinding intree waardeur dit vir hulle onmoontlik is om meer raak te sien wat die Bybel werklik sê, selfs al lees hulle die Bybel en gaan hulle daagliks daarmee om.

Hulle het ’n verbinding tussen hulself en die Bybel ingeskuif en wil van hulle kant nie toelaat dat die Woord van God hulle oortuig van die waarheid nie. Op ’n bepaalde moment kan hulle dan ook nie meer deur die waarheid van die Skrif oortuig word nie. Hulle word deur God oorgelaat aan hulle eie opinie en niks kan hulle meer beweeg om anders te dink nie.

So het die Skrifgeleerdes en Fariseër ook omgegaan met die Skrif. Jesus sê aan hulle dat hulle die Skrifte ondersoek, dat dit juis dié Skrifte is wat van Hom getuig, maar dat hulle tog nie na Hom kom om deur Hom verlos te word nie (Johannes 5:39 tot 40). Aan die buitekant het hulle heeltemal nie gelyk na mense wat verhard was nie. Inteendeel, hulle het selfs baie vroom gepraat en met vroom argumente Jesus van godslastering beskuldig. En tog was hulle so verhard dat die aller duidelikste getuienis van Christus, selfs die opwekking van Lasarus uit die dood, hulle nie kon oortuig nie, maar hulle net nog meer vasbeslote gemaak het om van Hom ontslae te raak.

’n Mens moet met huiwering hierdie moontlikheid raaksien en voortdurend daarvoor bid om bewaar te word van ’n innerlike verset teen die Woord van God wat op verharding kan uitloop. ’n Mens moet veral bid om daarvan bewaar te word dat iets anders vir jou belangriker word as die koninkryk van God, want dit is meestal juis sulke dinge wat tussen ons en die Skrif inskuif en op die lange duur lei tot totale verblinding. – WDJ