Hervorming is ’n blywende opdrag

HERVORMING IS ’N BLYWENDE OPDRAG

Dit is in die Protestantse wêreld gebruiklik om op die Sondag wat die naaste aan die 31ste Oktober is, die Reformasie van die 16de eeu te herdenk.

Die karakter van hierdie herdenking neem lankal nie meer die vorm aan van ’n negatiewe bestryding van die “Roomse gevaar” deur die uitspel van al die misstande wat in die 16de eeu in die Katolieke Kerk voorgekom het nie. Daarvoor het die situasie sedertdien al te veel verander.

Die Katolieke Kerk is beslis nie meer wat dit destyds was nie. Groot veranderinge het in die selfverstaan van die Katolieke Kerk en sy verhouding tot die boodskap van die Reformasie ingetree, selfs al kan daar nog nie van ’n volledige konsensus sprake wees nie.

Maar ook die Protestantisme kan nie op ’n onhistoriese wyse oor die Reformasie praat, asof hy self nog altyd net gelyk het en getrou gebly het aan die destydse hervorming nie. Daar het soveel gebeur waardeur die Protestantisme self die erfenis van die Reformasie verloën het, dat enige vorm van triomfalisme aan sy kant volledig misplaas sal wees.

Die groot slagkrete van die Reformasie: die Skrif alleen, deur die genade alleen, deur die geloof alleen, deur Christus alleen – is in die loop van die eeue binne eie geledere deur die voortskrydende sekularisasie en die opdringende mag van die humanisme in groot mate subtiel of openlik van betekenis beroof.

Daarby kom nog dat, toe die reformatoriese kerke gevestigde volks- en selfs staatskerke geword het, hulle baie van die oorspronklike geestelike krag verloor en hulle kritiese hantering van die Woord ingeboet het. In baie gevalle het hulle weinig meer gedoen as om maar net alles wat in die volksiel gebeur, op ’n stigtelike manier te begelei en te bevestig. Hulle profetiese stem het stil geword. Groepe buite hulle kring neem nou dikwels daarin die inisiatief.

Daarom moet Hervormingsfees vir die Protestantisme vandag ’n dag van verootmoediging wees, ’n dag van selfondersoek en terugkeer na die basis waarop dit gebou is. In plaas daarvan om selfversekerd te roem in wat eens in die verlede gebeur het, moet liewer gedink word aan ’n ander slagspreuk wat ook deel van die reformatoriese erfenis is: Ecclesia reformata semper reformanda: ’n gereformeerde kerk moet altyd weer gereformeer, vernuwe word. Hervorming is ’n blywende opdrag.

Die belofte dat die Heilige Gees die kerk in alle waarheid sal lei, beteken nie dat die kerk outomaties daaraan gehoorsaam sal wees nie. Die kerk moet altyd weer van dwaling en verwording teruggegroep word na die waarheid.

Maar dit beteken tog ook dat die kerk nooit heeltemal aan dwaling prysgegee sal word nie, maar telkens weer deur die Gees vernuwe sal word om na die Woord van God terug te keer. Daarvoor moet alle Christene bid en werk. – WDJ