Hoe Jesus gevolg moet word

HOE JESUS GEVOLG MOET WORD

Die Evangelies vertel op verskillende plekke dat Jesus aan diegene wat Hy geroep het om Hom te volg, die hoë eise van dissipelskap voorgehou het. Daar was selfs verskeie mense wat Hom wou volg, maar wat Hy afgewys het, omdat hulle dit op hulle eie tyd of voorwaardes wou doen (Lukas 9:57-62).

Om Jesus te kan volg, is nie ’n prestasie van ons eie nie. Dit is ’n geskenk van die genade waartoe Hy ons roep. Maar die genade kan alleen onvoorwaardelik ontvang word. Dit lê totale beslag op ’n mens se lewe. Wie dit ontvang, kan nie daarnaas nog met sy ou lewe probeer voortgaan nie. Wie dit probeer, toon daarmee dat hy die genade nie werklik wil ontvang nie.

Daarom sê Jesus uitdruklik dat wie agter Hom aan wil kom, homself moet verloën en sy kruis moet opneem om Hom te volg (Lukas 9:23-25). Selfverloëning is die kruisiging van die self, die afstand doen van eie heerlikheid en selfbeskikking, om heeltemal op God en die naaste gerig te wees.

In die Evangelie van Johannes word dieselfde uitgedruk in die beeld van die koringkorrel wat in die grond moet val en sterf (Johannes 12:24-25). Soos die koringkorrel alleen bly as dit nie in die grond val en sterf nie, so bly ’n mens se lewe alleen, dit is: betekenisloos, as die ou selflewe nie in die dood oorgegee word sodat daar ’n nuwe identiteit in die mens tot stand kan kom nie.

Die navolging van Jesus beteken om aan Hom gelykvormig te word in sy dood en opstanding, in sy dood en sy opwekking uit die dood. Dit kan geen mens vir homself doen nie. Van nature kan geen mens dit selfs wil nie, want dit is lynreg in stryd met ons eie begeertes. Dit kan alleen geskied deur ’n wonder van Gods genade. Geen wilsbesluit of enige kragsinspanning van ons kant kan dit bereik nie.

En tog gaan dit ook nie buite ons eie beslissing om nie. In die natuur word die wet van die sterwende koringkorrel outomaties voltrek. Maar by die mens gebeur dit op so ’n wyse dat sy eie keuse daarby betrokke is. Hy moet dit wil en kies. Sy keuse is Gods genadegeskenk aan hom, maar tog so dat hy dit self voltrek as hy die roepstem van Jesus hoor.

Daarom kan egte navolging van Jesus alleen ’n werklikheid word vir wie homself so volkome aan Jesus toevertrou en op Hom verlaat, dat die Gees van Jesus in hom kan bewerk wat in Jesus self ’n werklikheid is: die liefde wat tot die uiterste offer bereid was.

Die natuurlike grondrigting van ons lewe is selfsoeke en selfdiens. Ons hele kultuur berus op die beginsel. Ons eiebelang is vir ons die maatstaf van alles. Telkens ontdek selfs volgelinge van Jesus dat hierdie ou beginsel nog steeds hulle lewe wil beheers. Die navolging van Jesus vra dan ook telkens weer ’n nuwe oorgawe, nuwe beslissings en ’n nuwe kruisiging, sodat ons aanvanklike keuse vir Christus in ons lewe steeds sterker bevestig kan word. – WDJ