Ons moet ‘n keuse doen

ONS MOET ‘N KEUSE DOEN
Die Burger, 19 November 1977, bladsy 10

Suid-Afrika het nie baie keuse-moontlikhede vir die toekoms nie. Ons moet of die moontlikheid kies om op basis van die Christelike moraal te soek na vrede en harmonie met mekaar as gemeenskaplike inwoners van hierdie land, òf ons moet bereid wees om die vreeslike prys te betaal van die chaos wat deur haat en vyandskap veroorsaak word.

Dit is nie vanselfsprekend dat die eerste moontlikheid deur almal gekies al word nie. Daar is mense in dié land wat besluit het dat die moontlikheid nie realisties is nie, sodat nog net die tweede moontlikheid oorbly. Hulle lê hulself daarby neer en stel hulself daarop in, party militant en ander meer gelate, maar almal tog met die gemeenskaplike oortuiging dat geen ander weg moontlik is nie.

Soms gebeur daar iets waardeur ‘n mens soos deur ‘n bliksemstraal wat die nag verlig, iets te sien kry van die gemoedstoestand van sommige leiersfigure in die nie-blanke bevolkingsgroepe in ons land. Met ‘n skok besef jy dat van hulle deur woord en voorbeeld besig is om hul mense voor te berei en aan te spoor tot ‘n finale keuse vir die weg van geweld as enigste oorblywende moontlikheid. En ‘n mens sidder by die gedagte dat wat ons daarvan opmerk, maar net die punt van die ysberg kan wees. So is daar ook blankes wat die saak vir hulself uitgemaak het en sê dat ons probleme noodwendig moet uitloop op ‘n konfrontasie.

Hierdie houding maak dit dringend noodsaaklik dat ons as Christene doelbewus die eerste moontlikheid moet kies en dit duidelik moet maak dat ons so kies en bereid is om agter ons keuse te staan. Die ergste ding wat kan gebeur, is dat ons onsself deur ‘n negatiewe houding teenoor ons land se probleme sal laat meesleur, en dat ons sal meedoen aan ‘n onheilige polarisasie wat noodwendig op ‘n ramp moet uitloop en geen enkele probleem kan oplos nie, maar eerder ʺte vreeslik is om te bedink”.

Dit is die plig van Christene in al die bevolkingsgroepe van ons land om in hierdie tyd mekaar te vind in hul gemeenskaplike inset vir die kweking en bewaring van ‘n gesindheid van onderlinge agting, konsiderasie en harmonie tussen alle bewoners van ons land. Die Christene behoort die saambindende element in ons gemeenskap te wees, as hulle ten minste goed luister na die eise van die evangelie van Christus, en as hulle aan die Gees van God ruimte gee in hul hart. – WDJ