Kollektiewe skuld

WERKLIKHEID VAN KOLLEKTIEWE SKULD

Ons menslike situasie word altyd gekenmerk deur die werklikheid van kollektiewe skuld. Volgens die Bybel is die mensheid ’n geheel is wat sedert Adam in gemeenskaplike skuld verbonde is. Op duisend verborge maniere het ons deel aan mekaar se skuld en word ons die oorsaak daarvan.

Dit is feitlik nooit moontlik om mede-verantwoordelikheid vir ’n sondige situasie wat ontstaan, sonder meer van ons af te skuif nie. Ons weet byvoorbeeld goed hoe haglik dit is om te probeer vasstel wie die alleen-skuldige in die geval van ’n ongelukkige huwelik of ’n egskeiding is. Dikwels blyk dat ook die sogenaamde onskuldige party ’n groot aandeel het aan die ontstaan van ontrou, verwydering en verbrokkeling, selfs al is dit onbewus en onbedoeld.

In die verwildering van die jeug van ons eeu het ons nog ’n voorbeeld hiervan. Agter die rebelsheid en revolusionêre gees van die Westerse jeug wat alle norme oorboord gegooi het, sit in groot mate die skuld van ’n materialistiese samelewing wat die kinders van kleins af alles probeer gee het, behalwe liefde en geborgenheid.

En sou ons almal dan nie in hierdie krisis-uur die hand in eie boesem moet steek, noudat geweld in die swart woonbuurtes van ons land hoogty vier nie? Hoeveel skuld het ons hele gemeenskap daaraan dat mense, soos een swart leier dit uitgedruk het, mekaar soos diere te lyf gaan en op ’n hartelose wyse vermoor?

Nee, natuurlik het niemand van ons dit bedoel nie. Ons het elkeen maar net aan sy eie belange gedink en dit sorgvuldig van die van andere probeer afgrens. Ons het in die proses egter elementêre eise van Gods wet oor die hoof gesien en nie besef dat dit nie straffeloos verwaarloos mag word nie.

Ons het ons samelewing gebou op beginsels wat die sterkere bevoordeel en die swakkere benadeel het. Ons het nie genoegsaam besef dat ook die samelewing soos ’n liggaam is wat vir al sy lede gelyke sorg moet dra, as die geheel nie siek moet word deur die pyn van een van sy lede nie.

Die gesinslewe in ons swart gemeenskap is ernstig aangetas. Armoede en ontwrigting is ’n dampkring waarin geweld kan gedy. As albei ouers die huis al vroeg moet verlaat om te gaan werk en kinders onversorg agterbly; as ouers eers saans laat weer moeg by die huis terugkom en geen aandag aan die kinders kan bestee nie; as kinders van jongs af al op troostelose strate rondslinger en blootgestel word aan die invloed van misdadige elemente en politieke propaganda – dan het ons al die bestanddele bymekaar wat ’n samelewing kan laat ontplof.

Noudat dit besig is om te gebeur, kan ons nie ons skouers ophaal asof ons nie almal skuld daaraan het nie. Ons moet dit in ootmoed erken en bid dat God ons ’n uitweg uit die situasie moet skenk, sodat ons samelewing genees kan word tot heil van almal wat daartoe behoort. – WDJ