Materialisme bederf ons waardes

MATERIALISME BEDERF ONS WAARDES

Materialisme kan byna ongemerk van ons besit neem. Ons leef in ’n samelewing waarin geld en besit so ’n groot rol speel, dat dit byna onmoontlik is om teen die suigkrag en die gees daarvan weerstand te bied.

Mense se waarde en plek in die samelewing word dikwels op grond van die grootte van hulle inkomste en materiële besit bepaal. Die rykes se skatte verskaf aan hulle aansien en eer, invloed en mag. Ons begeer om hulle as ons vriende te hê en ons word bedwelm deur die glans van hulle weelde. Dit toon reeds dat ons waardestelsel skeefgetrek is.

Die apostel Jakobus bestraf die Christelike gemeente vanweë ’n neiging om aan rykes eer te betoon, maar die armes te verag en te verneder (Jakobus 2:1-8). Daardeur oortree hulle nie net die liefdesgebod nie, maar openbaar ook ’n valse sin vir waardes.

Dit is dan nie meer die liefde wat deurslaggewend in die omgang met mense is nie, maar hulle besit aan geld en mag. Waar dit gebeur, word die morele basis van die samelewing bedreig. Materiële oorweginge word tot ’n bepalende faktor en haas alle beslissings wat val, kan tot ’n materialistiese faktor teruggevoer word.

Hieruit word dit duidelik dat dit nie net ryk mense is wat in die greep van materialisme kan beland nie. In die algemeen sal dit waar wees dat ryk mense makliker ’n prooi daarvan kan word, maar dit spreek nie vanself dat arm mense daarvan vry sal wees nie.

Ook mense wat relatief min besit, kan so in die greep van ’n materialistiese waardestelsel kom, dat dit hulle hele lewe beheers. Hulle kan so vas raak aan die min wat hulle besit, of so geboei word deur die baie wat ander besit, dat hulle geen vryheid teenoor die materiële kan hê nie.

Daarom is dit vir ons almal nodig om te ondersoek watter plek die materiële in ons lewe inneem. Miskien sal ons met skrik ontdek dat ons baie meer aan aardse besittings en materiële dinge geheg is as wat ons self besef.

Miskien sal ons ook ontdek dat ons ’n stuk materialisme op ons kinders oordra, deurdat ons hulle onbewus beïnvloed om haas alles in terme van die materiële waarde daarvan te beoordeel. Hulle merk ons ambisie om meer te besit en meer te versamel. Hulle voel aan dat ons met groter ontsag vir rykdom vervul is as vir opregtheid van inbors, eenvoud van gees en diensvaardigheid. En hulle neem dit van ons oor.

Of miskien sal hulle in die standpunte wat ons in politieke en maatskaplike kwessies inneem merk dat dit, ondanks al die groot woorde wat ons oor die behoud van ons kulturele en godsdienstige erfenis of oor reg en geregtigheid gebruik, tog nie hierdie dinge is wat vir ons die belangrikste is nie. Hulle mag vermoed dat, as deur al die retoriek heen gekyk word, dit sal blyk dat ons diepste en hoogste waarde tog maar materiële welvaart is. – WDJ