Mense se reaksie op verandering?

MENSE SE REAKSIE OP VERANDERING?

Dit is natuurlik dat ons aan die einde van die jaar terug sal dink oor die jaar wat verby is en wat dit aan ons lewe gedoen het. Dikwels dink ons dan sommer ook oor ons hele lewe en probeer ’n perspektief op die toekoms kry.

Miskien verloop die meeste van ons jare byna geruisloos, soos die water wat in die bedding van ’n rivier rustig vloei. Maar daar is ook jare wat diep insnydings en groot veranderings in ons lewe bring, hetsy in die persoonlike sfeer of in die lewe van die gemeenskap as geheel.

Traumaties

Die afgelope jaar behoort tot hierdie laaste kategorie. Dit het byna onberekenbare groot veranderings in ons hele leefwêreld gebring, met name in die wyse waarop ons die situasie in ons land benader en die soort beeld van die toekoms wat besig is om homself voor ons te ontvou.

Vir talle in ons land is dit hoopvolle veranderinge, maar vir talle was dit besonder traumaties. Dit is vir hulle asof alles meteens skeefgeloop het. Hulle kan nie anders as om negatief daarop te reageer nie. Dit voel vir hulle of die bodem onder hulle leefwêreld weggeval het. Daarom gebruik hulle ook dikwels die skerpste moontlike taal om uitdrukking aan hulle gevoelens van ontgogeling en verbystering te gee.

Dit sou verkeerd wees om die erns van hierdie gevoelens te onderskat of dit aan moedswilligheid toe te skryf. Behalwe dat dit liefdeloos sou wees om so te dink, sou dit ook ’n miskenning wees van die ingewikkelde meganismes van die menslike gees wat daar agter werksaam is.

Volwassenheid

Bowendien kan niemand ontken nie dat daar op die oomblik soveel pynlike dinge gebeur en soveel negatiewe aanwysers is van moontlike situasies wat in die toekoms kan ontstaan, dat dit moeilik is om positief en hoopvol te bly.

Tog is dit noodsaaklik dat ons ook in berekening moet bring dat baie van die negatiewe gesindhede eenvoudig kan saamhang met die onvermoë van mense om op die regte wyse op veranderende omstandighede te reageer.

Dit raak dan uiteraard nie net ons reaksie op politieke en maatskaplike veranderinge nie. Ons hele lewe is een lang proses van verandering. Die blote feit dat ons tydelike wesens is, dat ons gebore word, volwasse word, oud en sieklik word en uiteindelik moet sterwe, bring as vanself mee dat ons voortdurend aan verandering onderworpe is.

Met daardie veranderinge moet ons rekening hou en dit inkasseer. Die kuns van lewenswysheid en geestelike volwassenheid is om dit op die regte wyse te doen. Daar is mense wat daarin slaag om dit op ’n positiewe en blymoedige wyse te doen, maar daar is andere wat psigies en geestelik onvoorbereid is op ingrypende veranderinge en dus nie in staat is om positief daarop te reageer nie.

Maar dit geld nie net van ons individuele lewe nie. Die samelewing as geheel is voortdurend aan verandering onderworpe. Aan die meeste van daardie veranderinge kan ons eintlik weinig doen. Dit hang saam met die dinamiek van die geskiedenis, die ontwikkeling van die wetenskap en tegniek, en die gistingsproses in die lewe van die volkere.

Almal van ons weet dat ons vandag in ’n totaal ander soort wêreld as vyftig jaar gelede lewe. Die twintigste eeu is die eeu wat die grootste veranderinge in menseheugenis oor die wêreld gebring het. In die afgelope dekades is die pas daarvan nog weer versnel. Of ons wil of nie, ons is voortdurend verplig om veranderinge mee te maak en onsself daarop in te stel.

Ons kan nie die wêreld stop, sodat ons kan afklim nie. Ons kan ook nie die wêreld na maat knip soos ons dit wil hê nie. Ons is eenvoudig verplig om as volwasse mense ons in allerlei nuwe omstandighede – wat soms bitter onaangenaam kan wees – aan te pas, deur nie bloot in opstand daarteen te kom nie, maar ook die beste daarvan te maak en oorwinnend daarin te lewe. Wie dit nie kan doen nie, loop gevaar om in die proses gebreek te word.

Roeping

Dit beteken uiteraard nie dat ons met elke nuwe mode mee moet gaan en by alles moet aanpas nie. As Christene weet ons dat ons in ’n wêreld lewe waarin die kwaad voortdurend bestry en teengestaan moet word. Die kuns is egter om op die regte wyse krities met die onafwendbare veranderinge wat die geskiedenis oor ons bring, mee te lewe en goed en kwaad daarin in die lig van die Bybelse norme te onderskei.

As ons bloot negatief teenoor veranderinge staan, word dit onmoontlik om ons roeping as Christene na te kom. En as die grond van ons kritiek teen veranderinge nie die norme van die Skrif is nie, maar ons eie selfbelang en verkleefdheid aan dinge uit die verlede wat in elk geval nie moreel verdedigbaar is nie, skakel ons onsself finaal uit.

Dit pas ons dus aan die einde van hierdie onstuimige jaar om in selfondersoek die vraag te beantwoord of ons al geleer het om veranderinge soos Christene te hanteer. Mag ons die genade ontvang om as gelowiges positief te wees en die toekoms tegemoet te gaan met die oë gevestig op die trou van God wat magtig is om ons deur alles heen te dra. – WDJ