Minagting van mekaar is vernietigend

MINAGTING VAN MEKAAR IS VERNIETIGEND

Ons is baie meer as wat ons self besef, afhanklik van die aanvaarding en waardering van andere. God het ons so gemaak dat ons die agting en liefde van andere nodig het om werklik ons self te kan wees. Ons het dit so nodig as wat plante die atmosfeer, die son en die reën nodig het om te kan groei.

Volgens die boek Genesis het God aan die begin van die geskiedenis gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18). Dat Hy aan die mens ’n vrou gegee het, was nie net om sy eensaamheid te verdryf nie, maar om mens-wees te konstitueer as iets wat slegs in gemeenskap met andere betekenis het.

Daarmee is die grondpatroon van die menslike bestaanswyse gegee. Die gemeenskap tussen mense neem verskillende vorme aan, waarvan die huwelik die mees persoonlike en intieme is. Maar om die huwelik heen lê die wyer kringe van die gesin, die skool, die kerk en al die gestaltes van die samelewing.

Ons lewe word in hierdie samelewingsvorme gevorm. Dit is in groot mate waar dat ons in die samelewingsverbande gemaak word soos ons is. Word ons daarin opgevang, aanvaar, gerespekteer en as mede-mens waardeer, dan help dit ons om ons self te aanvaar en vir andere ’n medemens te wees. Maar as dit nie gebeur nie, kan ons misvorm word en ons vermoë om vir andere ’n medemens te wees, belemmer word.

Juis daarom is dit vernietigend as ’n mens deur ander mense verag en verwerp word. Dit verneder jou, ontneem jou alle selfvertroue en krenk jou op ’n wyse wat ’n negatiewe reaksie van haat teenoor jouself, jou medemense en selfs die lewe by jou kan opwek. Baie gedragsafwykings kan teruggevoer word tot die wonde van minderwaardigheid en vervreemding wat deur die minagting van andere veroorsaak is.

Minagting van andere is een van die dodelikste wapens in die broederstryd wat die gevolg van die sonde is. Die wêreld se geskiedenis is een lang verhaal van die wyse waarop die veragting van ander individue, ander groepe en stamme, volke en rasse tot bloedige stryd en die dood gelei het.

Dit is veral die onbekende, die vreemde in andere wat altyd weer begroet word met minagting en verwerping. Ons is geneig om die onbekende te vrees en voel bedreig deur die vreemde. Eers as mense mekaar leer ken, is dit moontlik om ondanks die grootste verskille in agtergrond en aard mekaar te aanvaar en vriende te word.

Geen gesonde samelewing kan gebou word op die onwil om ander mense as mense te aanvaar nie. Veral in ons soort samelewing waartoe soveel verskillende soorte mense behoort, is dit fataal as hulle nie mekaar leer ken en waardeer nie, maar op mekaar neersien en mekaar verag.

Waar God dit so beskik het dat ons almal hier saam moet woon, is dit sy gebod dat ons vir mekaar medemense moet wees wat mekaar nie verag en verwerp nie, maar aanvaar en opbou. Dit is die enigste weg tot genesing vir die samelewing. – WDJ