Mense se denke is vooringenome

MENSE SE DENKE IS VOORINGENOME

Dit is natuurlik dat mense met mekaar oor allerlei dinge sal verskil. Dit is nie net die geval, omdat ons verskillende insigte het en vanweë ons kortsigtigheid nie in staat is om alle aspekte van ’n saak raak te sien nie. Dit is veral die geval omdat ons insig in enige saak altyd deur ons eie belange gekleur word.

Hoe ons ook al probeer sê dat ons niks as net die heldere logika hanteer nie en slegs aan die feite reg wil laat geskied, dit bly maar waar dat ons insig beïnvloed word deur die begeertes van ons hart en dat selfs ons logika in diens staan van die verborge motief om ons eie voordeel te soek.

Dit is altyd vir ons makliker om dit by andere raak te sien as by ons self. Dit is egter noodsaaklik dat ons moet besef dat dit met ons ook so gesteld is. Anders loop ons gevaar om ons self te oorskat en hopeloos te gunstig oor ons eie nugterheid en objektiwiteit te oordeel.

Veral Christene moet leer insien dat hulle nie daarbo verhewe is nie. Ook hulle kan in hulle redenasies oor wat die gebod van God vir ons in konkrete situasies beteken, vooringenome wees. Dikwels beskuldig groepe wat verskil mekaar oor en weer van verkeerde motiewe. Maar hulle moet verstaan dat die pot hier maklik die ketel kan verwyt. Almal moet daarmee rekening hou dat hulle ook vooringenome kan wees en dat andere hulle oë daarvoor moet open.

Dit kan ons daarvan bewaar om nie ons eie insig in ’n saak te maklik te verabsoluteer asof dit en dit alleen met die Woord van God ooreenstem nie. Ons moet immers besef dat ook ons omgang met die Bybel deur allerlei subjektiewe faktore bepaal kan word en dat ons beroep op die Bybel deur ons eie vooringenomenheid gekleur kan word. Dan is ons standpunte nie die noodsaaklike uitvloeisel van wat die Bybel sê nie, maar probeer ons dit eerder in die Bybel inlees.

Daarom moet ’n Christen ook uiters versigtig wees om nie sy standpunte waaroor hy self sterk voel, sommer gelyk te stel aan die wil van God nie. Sy stryd daarvoor word dan vir sy besef ’n stryd vir God. Daarmee word die hoogste bod gedoen. Wie met hom verskil, is in sy oë dan ’n vyand van God.

Dit is duidelik hoe hierdie soort vereenselwiging van die eie idees met die wil van God ’n vrugbare bodem vir religieuse fanatisme is. Wie eenmaal sy eie insig en begeertes gelyk gestel het met God se wil, dink al gou dat hy van Godsweë ’n roeping het om daardie wil in die wêreld te verwerklik, selfs met gebruikmaking van immorele middele en teen ’n prys wat lynreg teen die Bybel ingaan.

Daarom is dit belangrik dat Christene sal leer om te onderskei tussen hulle eie begeertes en die ware wil van God; dat hulle nie meer van hulle eie insig sal dink as wat hulle behoort te dink nie, en dat hulle die kontrole deur mede-Christene moet aanvaar en respekteer. – WDJ