Ons moet dit aanvaar

ONS MOET DIT AANVAAR

Daar word in ons tyd dikwels gevra wat die rol is wat Christene in ons veranderde samelewing moet vervul. Daaroor kan ’n mens seker baie dinge sê. Maar die eerste en miskien ook die heel belangrikste ding wat ’n mens sal moet sê, is dat Christene moet begin om die veranderde situasie te verstaan en te aanvaar.

Die mees wesenlike element in die verandering van ons situasie is dat ons oë tans geopen word om die werklikheid van ons land raak te sien soos dit is. In die verlede het baie van ons geleef met ’n bepaalde persepsie van ons land (om nou maar hierdie mode-woord te gebruik) wat nie aan die werklikheid beantwoord het nie.

Dit was die persepsie dat ons ’n “eerstewêreld-land” is met ’n betreklik uniforme karakter. Die blanke bevolking was die enigste wat eintlik saak gemaak het. Die res van die mense was volgens hierdie siening die vreemdelinge en bywoners wat in belangrike dinge nie eintlik meetel nie en dankbaar moet wees dat ons aan die rand van ons wêreld aan hulle tog ’n plekkie en ’n sekere aandeel aan ons wêreld gun.

Die groot verandering wat nou ingetree het, is dat ons tans met die neus daarop gedruk geword dat die werklikheid anders is. Ons klinies-skoon Europese beskaafdheid, netheid en weelde met al die voorregte daaraan verbonde is maar een kant van hierdie land. Maar daar is ook ’n ander pynlike kant wat nie langer geïgnoreer kan word nie: die werklikheid dat hierdie land tot die “derde wêreld” behoort en dat die oorgrote deel van sy bevolking in armoede, agtergeblewenheid en onderontwikkeling vasgevang sit.

Hierdie nuwe insig noop enige regdenkende mens, wat nog te sê enige Christen, om te besef dat ons verantwoordelikheid vir ons hele land en vir al sy mense moet aanvaar. Ons kan nie die werklikheid langer ignoreer en teorieë en ideale daarop nahou wat aan ons die morele gronde moet verskaf om die grootste deel van ons land se bevolking as vreemdelinge en bywoners van ons gewete af te skuif, sodat ons ons aan hulle node en aspirasies kan onttrek nie.

Ons sal bereid moet word om kennis te neem van die sosiale stratifikasie in ons gemeenskap, van die armoede en ellende, en van die massiwiteit van die nood van ons mede-landgenote oorkant die spoor, die spruit of die pad wat in al ons dorpe die een segment van die bevolking van die ander skei. En ons sal moet besef dat daardie nood van nou af ons almal aangaan. Dit moet ons eenvoudig aanvaar.

Die alternatief is natuurlik dat ’n mens kan weier om dit te doen, dat jy jou daarteen verset. Maar wat kan ons daarmee bereik? En sal dit werklik help? ’n Mens kan mos nie die werklikheid wegwens as jy dit eenmaal gesien het nie. Uit Christelike oortuiging sal ons die foute van die verlede moet help regstel en die beswil van almal in die land moet soek, selfs al sal dit ons almal ’n prys kos. – WDJ