Ons moet versigtig wees met kritiek

ONS MOET VERSIGTIG WEES MET KRITIEK

In ’n boek waarin die proses van die afval van die kerk in Nederland bespreek word, deel die skrywer mee dat ondersoek aan die lig gebring het dat een van die oorsake waarom ’n deel van die jeug die rug op die Gereformeerde Kerke gedraai het, daarin gesoek moet word dat die ouers reeds so krities teenoor die kerk was.

Die ouers self was nog getroue kerkmense wat dit vir geen oomblik oorweeg het om met die kerk te breek nie. Hulle het ook probeer om hulle kinders kerklik groot te maak en die gedagte het nooit by hulle opgekom dat hulle die kinders se verbondenheid met die kerk kan ondermyn nie.

Maar hulle het deur hulle kritiese houding by die kinders van kleins af ’n saad van ontevredenheid met en kritiek teenoor die kerk gesaai, wat later ontkiem en meegebring het dat die kinders tot die droefheid van die ouers die rug op die kerk gedraai het.

Ons besef nie altyd watter invloed die houding en ingesteldheid van ouers op hulle kinders het nie, selfs al probeer hulle nie bedoelbewus om die kinders te beïnvloed nie.

Die ouers het waarskynlik gemeen dat die kinders daarvan bewus sou wees dat hulle kritiek teen die kerk nie negatief bedoel was nie en uit ’n bepaalde lojaliteit teenoor die kerk voortgekom het. Hulle wou nie die kerk as sodanig afwys nie, maar net verbeter. Maar hulle het nie daarin geslaag om hulle lojaliteit teenoor die kerk op die kinders oor te dra nie. Slegs die gees van kritiek het bly steek, en dit het hulle van die kerk losgemaak.

Daar is seker geen ouer wat nie later met hartseer terugdink aan baie dinge wat hy of sy by die opvoeding van hulle kinders verkeerd gedoen het nie. Veral wanneer kinders anders ontwikkel as wat die ouers dit graag sou wou sien, besef hulle dat hulle self skuld daaraan het en wens dat hulle die kinders in ’n ander rigting gestuur het.

Maar spyt kom altyd te laat. As die boompies eers opgegroei het, kan die stammetjies nie meer gebuig word nie. Dan bly daar weinig anders meer oor as om eerlik met die kinders te praat, ons skuld teenoor hulle te bely en te bid dat God hulle deur sy genade na die regte weg terug sal lei.

Vir ouers wat egter nog in die posisie is om daagliks hulle kinders te kan beïnvloed, moet dit ’n saak van die grootste erns wees om nie deur ’n hiper-kritiese houding hulle kinders se verbondenheid met die kerk en met die Christendom te ondermyn nie.

Hulle hoef nie alles goed te vind wat in die kerk gebeur nie, maar hulle moet in hulle kritiek teenoor die kerk geen twyfel daaroor laat dat dit nie hulle liefde vir Christus en sy kerk verminder nie. En hulle moet doelbewus probeer om deur woord en voorbeeld hulle kinders nog vaster aan Christus en sy kerk te bind. – WDJ