Perspektief op die eenheid

PERSPEKTIEF OP DIE EENHEID
Die Burger, 12 November 1977, bladsy 10

Dit bly een van ons grootste probleme dat ons so moeilik die regte perspektief op dinge kan behou. Dit is veral waar op die gebied van ons verhouding tot mense wat in werklikheid vir dieselfde sake as ons ywer, maar dit op ‘n wyse doen waarvan ons verskil. Teenoor sulke mense kan ons dikwels nog vyandiger ingestel wees as teenoor diegene wat heeltemal nie belangstelling vir die saak het nie, of wat dit selfs pertinent teenstaan. ′n Mens kan hier as voorbeeld dink aan die verhouding tussen Christene van verskillende kerke. Hulle vergeet te maklik dat hulle, ondanks alle moontlike onderlinge verskille, tog met mekaar één is in hulle belydenis dat Christus hul Verlosser is. Hulle aandag word dikwels meer geboei deur die dinge wat hulle verdeel as deur die dinge wat hulle gemeenskaplik besit.

Die gevolg is dat bulle mekaar bestry en veroordeel op ‘n wyse wat heeltemal te heftig is, en dat hulle dikwels nie eens bereid is om mekaar behoorlik te probeer verstaan en hul onderlinge verskille te probeer weeg ten einde die regte gewig daarvan te bepaal nie.

Daar word gesê dat geen twis so fel is as ‘n broedertwis nie, en geen oorlog so wreed as ‘n burgeroorlog nie. En so sien ‘n mens ook dikwels dat mense wat in hul oortuiginge die naaste aan mekaar staan, mekaar op die mees onverdraagsame wyse kan bestry. Wat by ‘n egte vyand nog geduld word, is, onuitstaanbaar in ‘n broer. Klaarblyklik voel ′n mens jouself veel meer bedreig deur ‘n geesgenoot wat van jou verskil, as deur ‘n vreemde met wie jy weinig gemeen het.

Dit mag verklaar waarom mede-Christene mekaar so heftig kan bestry, maar dit beteken nog nie dat dit daarom geregverdig is nie. Dit is en bly eenvoudig ‘n klad op die naam van die Christendom dat daar soveel onderlinge verdeeldheid en soveel onverdraagsaamheid teenoor mekaar onder Christene voorkom. Die saak van die Christendom word daardeur oneindig veel skade aangedoen. Christus het volgens Johannes 17 gebid vir die eenheid van sy volgelinge, omdat dit juis die eenheid van die      Christene en hul onderlinge liefde is wat ‘n magtige getuienis vir die verlossende krag van die evangelie in die wêreld lewer.

Ook in ons land is dit uiters noodsaaklik dat Christene die juiste perspektief sal behou ten opsigte van die dinge wat hulle verdeel. Egte verskille hoef nooit ontken of weggesyfer te word nie, Maar hulle moet as relatief getakseer word in vergelyking met die geestelike eenheid wat alle gelowiges in Christus saambind.

Dit is noodsaaklik dat in ons land veel meer gedoen word aan die onderlinge gemeenskap van alle Christene, sodat hulle mekaar beter kan leer ken en waardeer. – WDJ