Die raaisel van die kwaad

DIE RAAISEL VAN DIE KWAAD
Die Burger, 5 November 1977, bladsy 10

Dit is moontlik dat ons al so gewoond is aan kwaad en sonde as deel van ons lewenswerklikheid, dat ons nie meer besef hoe vreemd dit eintlik is dat daar in Gods goeie skepping so iets as kwaad en sonde kan wees nie. Ons noem dit selfs iets natuurliks, terwyl dit tog wesenlik teen-natuurlik is.

Dit val ‘n mens op dat die Bybel self meermale op die raaiselagtige karakter van die kwaad wys. Dink maar aan die beskrywing wat die apostel Jakobus van die tong van die mens gee (Jakobus 3:1–12). Hy wys op ‘n aangrypende manier die kwaad aan wat in die verkeerde gebruik van die tong opgesluit lê. Wat hom egter die meeste opval, is die ongerymdheid daarvan dat ‘n mens met dieselfde tong God kan loof en die medemens kan vervloek. So iets is eenvoudig onvoorstelbaar.

‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie. ‘n Vyeboom kan tog nie olywe voortbring of ‘n wingerdstok vye nie. Op dieselfde wyse behoort dit onmoontlik te wees vir ‘n mens wat God só ken dat hy behoefte daaraan het om God te loof, om met dieselfde tong die medemens wat na die beeld van God geskape is, te vervloek.

Dit is die teen-natuurlike van die kwaad. Wat in die orde van die natuur tot die onmoontlike behoort, behoort op raaiselagtige manier tot die werklikheid van die mens. Jesaja sê dat ‘n os sy besitter ken en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel, die volk van die Here, het geen kennis nie (Jesaja 1:3). In die mens woon goed en kwaad saam.

Die mens is innerlik verdeeld en verward. Hy is deur God goed geskape, en tog kies hy die sonde bo die gemeenskap met God. Hy is deur God vir die liefde geskape, en tog word hy byna voortdurend beheers deur haat. God het hom bestem vir die lewe, en tog gryp hy naarstiglik na dinge wat vir hom moet uitloop op die dood. Dit is die verbysterende werklikheid van die mens.

Dit is onmoontlik om ‘n verklaring vir hierdie teenstrydigheid te bied. Elke verklaring wat gebied word, loop op die een of ander wyse daarop uit dat die mens homself probeer verontskuldig. Ons is meesters daarin om die skuld vir ons toestand op andere te probeer afskuif.

Die ergste van alles sou wees dat ‘n mens op die een of ander manier aan God die skuld vir ons toestand gee deur te sê dat Hy ons nou maar een maal so gemaak het. Dit het Adam al probeer, toe hy aan God gesê het: ʺDie vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet!”

As die Bybel ons één ding oor die sonde leer, dan is dit dat dit nie van God afkomstig is nie en dat ons niemand anders as net onsself daarvoor kan blameer nie. Op die raaisel van die kwaad kan ‘n mens nie met intellektuele verklarings reageer nie, maar net met belydenis en berou. Slegs dan is daar verlossing. – WDJ