Voortgaande bekering

VOORTGAANDE BEKERING

Al gebruik alle Christene dieselfde terme, kan ’n mens maklik vasstel dat almal nie altyd presies dieselfde daaronder verstaan nie. Dit kan misverstande en verleentheid wek.

Dit is byvoorbeeld die geval met ’n begrip soos bekering. Alle Christene gebruik die term, maar terwyl sommige Christene dit in ’n breë, omvattende sin verstaan, gebruik andere dit in ’n bepaalde enger sin wat hulle as die enigste korrekte betekenis daarvan beskou.

Sedert die Kerkhervorming in die 16de eeu is dit in wye Protestantse kringe verstaan as die fundamentele omkeer wat in ’n mens se lewe voltrek word deur sy keuse om sy volle geloofsvertroue in Christus te stel, alles vir tyd en ewigheid van God alleen te verwag, en in gehoorsaamheid aan die wil van God te lewe.

By hierdie opvatting van bekering is dit nie van belang of die omkeer op ’n kragdadige wyse ervaar word nie. Die bekering word gesien as ’n gebeure wat wel êrens begin, maar in hierdie lewe nooit afgehandel is nie. Die Heidelbergse Kategismus omskryf dit as die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe, en verstaan dit as ’n proses wat die hele lewe omvat, waarin die mens “hoe langer hoe meer” die sonde haat en ontvlug, en ’n steeds groeiende liefde vir die doen van die wil van God ontwikkel.

Sedert die 17de eeu kom daar egter ’n stroming op wat bekering uitsluitlik as ’n eenmalige, kragdadige en liefs plotselinge omkeer van ’n mens se lewe verstaan. Slegs diegene wat kan getuig van ’n visioen wat hulle gesien het, of van felle angs vir die hel waaruit hulle verlos is, of in elk geval van ’n buitengewone ervaring waarin hulle radikaal met hulle verlede gebreek het, word as eg bekeerd beskou.

Dat sulke bekerings voorkom, kan nie betwyfel word nie. Die Bybel en die kerkgeskiedenis weet van mense wat deur ’n plotselinge bekering by wyse van spreke soos brandhout uit die vuur geruk is. Maar dit is nie juis om dit as die enigste egte wyse te beskou waarop ’n mens tot bekering kan kom nie. Die kriterium vir ware bekering lê nie in die wyse waarop dit geskied nie, maar in die vraag of ’n mens ’n fundamentele en onberoulike keuse vir Christus gedoen het en daarby bly.

Baie Christene word ongemaklik as die vraag aan hulle gestel word of hulle bekeerd is. Hulle vertrou op Christus en twyfel nie aan die verlossende genade van God nie, maar hulle het nie so ’n plotselinge oorgang beleef nie. Ook is hulle pynlik bewus van soveel wat in hulle lewe verkeerd is. Daarom huiwer hulle om met ’n verlede deelwoord oor hulle bekering te praat. Dit is ’n proses wat nog aan die gang is.

Ook sulke mense is bekeerd. Hulle hoef hulle nie te laat tiranniseer deur diegene wat hulle bekering anders ervaar het nie. Die Gees werk nie met alle mense eenders nie. – WDJ