DIS GOED OM TE SWYG
Die Burger, 19 September 1981, bladsy 10
Daar is Christene wat baie klem lê op die bevrydende betekenis daarvan om God in alle omstandighede te dank en te loof. Hulle voel veral baie sterk daaroor dat ’n mens God moet dank in oomblikke van teenspoed en lyding. Wanneer ’n mens daarin kan slaag om ook in die donkerste nag God te dank, nie net ondanks die donkerte waarin jy verkeer nie, maar spesifiek ook vir die donkerte wat Hy oor jou lewe toegelaat het – so word geredeneer – maak dit jou vry van selfbejammering en behaal jy ’n oorwinning oor die situasie waarin jy jou bevind.
Dat ’n groot element van waarheid in hierdie opvatting aanwesig is, kan nie betwyfel word nie. Dit is opmerklik dat ook die apostel Paulus die gelowiges daartoe aanspoor om God altyd vir alles te dank in die Naam van Jesus Christus (Efesiërs 5:20).
Dit is inderdaad waar dat ons nie net in dae van voorspoed nie, maar ook in dae van teenspoed en beproewing alle rede het om God te dank. Wie kinderlik op God vertrou, weet dat die liefde van God nie minder is in ons dae van donkerheid as in ons dae van sonskyn nie. Daar is dus geen moment waarop ons God nie kan en behoort te dank vir sy teenwoordigheid by ons en die liefde waarmee Hy ons voortdurend dra en omring nie.
Tog moet ’n mens ook hier versigtig wees vir verkeerde aksente. Om God te dank vir die pyn en donkerte wat oor ons lewe kom, is meesal ons tweede reaksie, nie ons eerste nie. Ons eerste reaksie is om ineen te krimp onder die pyn en ons oë te bedek vir die duisternis. Dit is natuurlik en begryplik. Dit is ook nie verkeerd nie. Dit sou verkeerd wees om aan mense voor te hou dat hulle, omdat hulle Christene is, nie die pyn en verdriet wat oor hul lewe kom, as pynlik mag ervaar nie.
Christene mag tog nie op ’n masochistiese wyse pyn en verdriet as iets ervaar wat geniet moet word nie. Die donkerte wat God oor ons lewe toelaat, word ook van sy kant nie bedoel as iets wat ons moet geniet nie, maar as iets wat ons met smart moet vervul. Hy laat juis die smart oor ons toe tot ons loutering. Hy kasty ons, omdat Hy ons liefhet, sê die Bybel. Daarom moet ons kastyding ook werklik as kastyding ervaar en dit nie voortydig al as ’n seën probeer sien nie. Dit kan later so blyk te wees, maar dan ook regtig eers later.
Ons eerste reaksie op droefheid en pyn moet dan ook liewer wees om te swyg. Wanneer pyn ons tref, is ons grootste versoeking om God te wantrou. Daarteen moet ons waak. Soos Job moet ons dus liewer stilbly as die bare en die golwe oor ons gaan en die sweepslae ons tref. Bly stil in die donkerte, totdat God u mond open om te kan begin dank. Dit sal gebeur as ons ons onderwerp aan Hom en aan sy liefde vashou. Dis egter goed om te swyg solank ons nog blind is van verdriet. – WDJ