Ons moet verder dink

Rubriek in Die Perdeby, Universiteit Pretoria

ONS MOET VERDER DINK

WD Jonker
Die Perdeby, 5 Maart 1948

Het u al ooit vir ’n oomblik stilgestaan en vir ’n rukkie na die mense rondom u gekyk en probeer om hulle te verstaan? As u nie net bloot krities of heeltemal oppervlakkig gekyk het nie, het u in kans gestaan om dinge waar te neem wat van blywende waarde kan wees. Neem ons studentegroep: daar is sommige van ons wat binnekant die vier mure van hulle kamer tot ’n bladsy keurig afgewerkte aantekeninge verstrak, of tot ’n siellose stuk gedrukte papier. By die klasse skuur hy aan sy medestudente verby met ’n boektas onder die arm geknyp en die wenkbroue gefrons oor wie-weet-watter probleme van die letter: op die oog af lyk dit asof hy vir niks anders ’n oog het as net die vak – die boek nie Dan is daar ’n ander groep wat die binnekant van ’n boek selde sien, klasse dikwels vermy, en verval in ’n soort van sportiewe ligsinnigheid wat duidelik spreek uit die kwistigheid van ’n half-gerookte sigaret onder die skoenpunt; die waaghalsige of traak-my-nie-agtige houding of die gesellig-gekruide taal.

Hierdie twee groepe is die uiterstes. Binnekant daardie grense staan die grootste massa studente elkeen met sy eie klein eienaardighede – sy manier-van-doen – sy, liefde sy leed, sy lewe. In ’n sekere mate is nóg die eerste, nóg die tweede groep werklik gelukkig. Albei se wêreld is te klein, die een s’n ooglopend, die ander s’n sonder dat sy medemens dit sien. Tog sal dit blyk uit sy jag na iets ligsinnigs om die klop van sy polshorlosie te verdrywe, na die geselskap van ’n vriend wat hom bewonder.

In ’n groot mate is albei die groepe se houding te wyte aan ’n gevoel van minderwaardigheid, die gebrek aan aanpassing by medestudente. In plaas van normaal-weg te kompenseer vir die algemeen-menslike behoefte, oordryf hulle die kompensasie. Die persoon wat blykbaar ’n “gawe ou sport” is, is dit dikwels ten koste van homself, omdat dit die enigste middel is – so meen hy – waardeur hy sy doel kan bereik: die besef dat hy deel is van ’n gemeenskap waarin daar vir hom staanplek en werkplek is, en waarin hy belangstelling geniet.

Die “boekwurm” beskou op sy beurt sy studie as die geskikste middel om dieselfde doel te bereik – en hoe dikwels laat die bereikte resultate hom nie alleen in die eensaamheid van sy wan-aanpassing nie!

Wat dan nou? Daar is net een regte weg. Dit is die weg van sosiale-ineenskakeling. Ons het almal behoefte aan mekaar, aan sosiale verkeer, maar terdeë ook aan die geestelike opvoeding wat ons in staat stel om op gelyke voet met ons ras- en kultuurgenote om te gaan. Die “Ou Sport”-tipe en die “boekwurm”-tipe moet albei terugkom tot verdieping van hulle metodes om aan te sluit by die studentegeheel: daar lê hulle geluk.