BESEF
O hart, jy moet laat staan
om pyn te voel of vreugde,
want nou, op dié onvaste see
waar elke golf ‘n ander passie bring,
ken jy net vrees en wankeling.
Kom, red jou van die hoop en twyfel
en sluit jouself dig in ’n kamer toe
van ongevoeligheid, hoog bo
die aardse of die skone dinge,
waar daar nie dink is of geluk
of droefenis, maar net die blote lewe,
en net die hoop dat die ook eenmaal sal vergaan,
en al wat ék nog in my is
in die Oneindigheid tot niks sal word.
- JONKER.
[’n Gedig van WD Jonker uit Trek, 1949 37(45), 13]