“DIE NUWE PERDEBY”
WD Jonker
Uittredende Redakteur, 1949
Met ’n byna ongelooflike snelheid het die verskillende weke van 1949 verbygegaan; weke – hoop ons, wat op die bladsye van Die Nuwe Perdeby weerspieël word. Die ideaal is maar altyd om Perdeby ’n seismograaf te maak, ’n delikate instrument wat al die trillinge van die studentelewe getrou registreer. Soms is daar aardbewings, soms ontploffings; soms moet die naald met ’n byna eweredige beweging alleen maar die daaglikse gewoonhede aanteken. In hoeverre 1949 se Perdeby aan hierdie ideaal beantwoord het, kan nie sonder meer bepaal word nie.
Maar! Gedurende 1949 was die Perdeby altyd weer daar. As ’n simbool van ’n lewendige studentegemeenskap, sal die Perdeby voortlewe en van krag tot krag voortgaan!
Aan die subredakteurs en ander redaksielede rig ek by hierdie geleentheid ’n woord van waardering vir hulle getroue en moeitevolle dienste. Ook kom ons dank toe aan dr Ben Marais en ds Bey Naudé vir hulle weeklikse bydraes. Dit was ’n inspirasie om sulke medewerkers te hê.
Aan almal wat ons getrou ondersteun het in die moeilike en ondankbare werk; aan al ons intekenare; aan almal wat bemoedigende woorde vir ons gehad het, sê ons baie dankie. Ook aan die V.S.R. kom ons waardering toe vir hulle finansiële steun. Ons bedank ook ons adverteerders. Hulle help ons om die verskyning van die Perdeby moontlik te maak.
Aan die volgende redaksie, ons hartlike wense vir voorspoed en sukses!