VSR HOU VOET BY STUK
WD Jonker
Sekretaris – SSR, Universiteit Pretoria
1951
Dat daar nog geen verandering in die kleurbeleid van die Voortrekker-Universiteit gekom het nie, het die jongste vergadering van die SSR getoon. Die mosie wat in die verband aanvaar is, toon in meer as een opsig dat dit rekening hou met al die jongste ontwikkelinge op die gebied.
Die besluit van die vergadering het oor twee aspekte gegaan:
(a) die offisiële verklaring van ons beleid tov inter-universitêre studenteraadskonferensies; en
(b) die uitvoering van daardie offisiële beleid.
Die beleid van hierdie Universiteit was nog altyd dat ons akademiese segregasie wil erken en bevorder. Dit word dan ook in die aangenome mosie soos volg uitgedruk:
“Hierdie Raad betreur die status quo aan gemengde universiteite, en beskou dit as tydelik en ongewens. Hierdie Raad onderneem
(a) om slegs blanke studente-verteenwoordigers van blanke universiteite,
(b) slegs blanke studente-verteenwoordigers van gemengde universiteite en
(c) nie-blanke studente-verteenwoordigers van nie-blanke universiteite te ontmoet, net wanneer so ’n ontmoeting volgens ons oordeel vir sowel blanke as nie-blanke inrigtings van gemeenskaplike belang is, en mits daar geen sosiale vermenging plaasvind nie.”
Met hierdie mosie word dus die amendement van die ASB Hoofbestuur, te wete dat die ASB bereid is om nie-blanke afgevaardigdes – verteenwoordigende die nie-blanke studente op gemengde Universiteite – te ontmoet, verwerp. En dit heeltemal tereg, omdat dit in hierdie mosie bloot gaan om die beleid van die SSR In ’n beleidsverklaring moet daar streng gesny word en grense moet duidelik vasgelê word. Met hierdie beleidsverklaring word dus die absoluut oorbodige amendement van ASB, weggelaat. Die rede hiervoor is dat dit is bykans onmoontlik is om vas te stel wanneer so ’n nie-blanke verteenwoordiger van ’n gemengde universiteit juis die nie-blankes daar verteenwoordig. In die reël sal so ’n persoon een uit die geledere van die Studenteraad van die betrokke Universiteit wees, en dan verteenwoordig hy al klaar die hele studentegroep – nie net die nie-blankes nie. Verder: indien ons ons bereid verklaar om met die nie-blankes aan gemengde universiteite op uitvoerende basis te konfereer, is die eerste sinsnede van die mense, naamlik dat die huidige toestand in ons oë betreurenswaardig is – kragteloos. Want dan hou ons tog konferensies met die mense, ons erken hulle hoedanigheid as studente van daardie universiteit op dieselfde wyse as wat die blanke student dit is. Dit help nie om op twee stoele te probeer sit nie – in elk geval nie in ’n beleidsverklaring nie.
Uitvoering van beleid
Wat die uitvoering van die beleid betref, lê die SSR neer dat hy hom wil beywer om aan nie-blanke studente dit duidelik te maak waarom hy so ’n strenge beleid handhaaf. Om dit te kan doen, moet die nie-blankes ontmoet en toegespreek word oor hierdie saak, sodat hulle dit kan verstaan en insien dat dit vir hulle ook die beste is. Dit gaan dus buite die beleidsverklaring om, want ons beleid handhaaf baie sterk dat ons nie van plan is om algemene inter-universitêre sake te bespreek met nie-blankes wat studeer aan ’n universiteit waar hulle na ons mening nie behoort nie. Dit sluit egter nie uit dat ons nie aan daardie mense dit nie wil duidelik maak waarom ons so dink nie. En daarvoor is dit nie nodig om hulle as volwaardige afgevaardigdes op ’n inter-universitêre konferensie – waar sake van algemene belang bespreek word, te erken nie. Indien sodanige nie-blankes dus in ’n vereniging gekonsolideer is, is die SSR bereid om die leiers van so ’n vereniging te ontmoet om aan hulle ons standpunt te verduidelik – maar buite ’n inter-universitêre kongres om.
SSR se standpunt
Die ASB het hier klaarblyklik verval in die kortsigtigheid dat hulle die inter-universitêre kongres gaan gelykstel met ’n gedurige inter-verduideliking van standpunt oor die kleurbeleid. Geen wonder nie: die ASB se hele werksaamheid kan beskryf word as ’n reeks van mislukte konferensies oor hoe hulle die ander groepe gaan ontmoet as hulle hulle eendag gaan ontmoet. Daarenteen lê die SSR sy beleid eers neer en sê dan dat hy bereid is om andere op te voed daartoe om sy hele beleid te aanvaar. Ons wysig nie ons beleid nie. Dis onnodig.
Met hierdie besluit het die SSR ’n standpunt ingeneem wat verskil van dié van die Binnemuurse VSR wat wel die amendement van die ASB aanvaar het. Dit sê baie duidelik dat die lede wat op die VSR sowel as op die SSR dien, intussen baie meer lig op die saak gekry het. Verskeie lede het verklaar dat hulle intussen van standpunt verander het, juis omdat hulle insien dat die ASB-amendement, ’n onnodige en kontradiktoriese element is.
Die hele besluit van die SSR kom dus daarop neer dat die SSR geen nuwe beleid geformuleer het nie, maar voet by stuk hou. Daarom ook dat die ASB effens betig moes word omdat hulle sonder raadpleging van die geaffilieerde Studenteraad, besluite gaan neem omdat Stellenbosch hulle skrikmaak, en dan moet ons hier agter maar net bekragtig.