UP Sentrale Studenteraad – Jaarverslag

SENTRALE STUDENTERAAD – JAARVERSLAG

WD Jonker en LC Malan (SSR-voorsitters vir 1952)
Universiteit Pretoria

Die SSR het gedurende 1952 die geleentheid gekry om diep wortels uit te stoot en meer stabiel te raak as ooit tevore.

Onder die vernaamste besluite wat vanjaar deur die SSR geneem is, val die voorwaardelike aanvaarding van die SAMSU-konstitusie waaroor daar later veel stryd tussen ons en Wits ontstaan het (vgl VSR-verslag), en die besluit om vanjaar die Joolpoging te vervang met ‘n Saalboufonds-poging. Die magtige organisasiewerk waarvoor die Saalboufonds-komitee en die personeellede met hulle eggenotes (onder aanvoering van mev CH Rautenbach) alle lof verdien, het uitgemond in die suksesvolle kermis (1-3 Mei). Die Studenteraad wil graag sy dank opnuut betuig aan mnr AA Smit met almal wat hom gehelp het. Die Joolkomitee onder aanvoering van mnr J Lötter het op ‘n skitterende wyse by die Saalboufonds-poging aangesluit en beslis die beste optog deur die strate gereël wat nog ooit aan Universiteit Pretoria gesien is. Daarvoor verdien hulle alle lof.

Ook moet met groot waardering daarvan kennis geneem word dat die ander onderkomitees van die SSR vanjaar goed presteer het. Die SSK kon aanvanklik nie goed op stryk kom nie, maar deur die kragtige ingryping van prof C Smit en mnr CI van Heerden (sekr) het die saak sterk op dreef gekom. Wat die “Perdeby” betref, moet ons sê dat vanjaar se “Perdeby” ongetwyfeld ‘n hoogwatermerk aandui. Die entoesiastiese jong redakteur, mnr H Cronje en sy redaksielede, het daarin geslaag om weekliks ‘n skitterende uitgawe van die blad in sy nuwe formaat uit te gee. Ons weet dat “Trek,” wanneer dit verskyn, ook weer van ‘n besondere goeie gehalte sal wees. Ons dank gaan reeds hier aan almal wat dank toekom. Ook die SGK het vanjaar weer onder aanvoering van mnr IM Bakkes, sy werk met groot sukses verrig. Ons moet ook hier die geleentheid gebruik om ons dank en waardering vir die dienste en gesonde invloed van ons sangleier, dr P Bremer, en vir die ondersteuning van sy ondersangleier, mnr RF Botha, uit te spreek. In dié opsig was 1952 nes die vorige jare vir ons suksesvol.

‘n Baie goeie stap is vanjaar deur die SSR gedoen toe besluit is om die publikasie van berigte oor die Universiteit in dagblaaie, onder beter beheer te bring. Mnr W Bam het namens die SSR hierdie saak op noukeurige wyse behartig. Dit blyk dat die pligte daaraan verbonde te veel is vir een persoon.

Die voorradebeheer van die SSR was nog altyd alles behalwe wat dit moet wees. Ook hier is vanjaar ‘n kragtige hand aan die ploeg gestaan toe mnre LC Malan en FH Grosskopf al die voorrade onder ‘n gesonde stelsel van beheer gebring het. Binne die mure van die kantoor is ons nuwe sekretaresse, mev Theron, ywerig besig om al die ou stukke van die SR te her-liasseer en sodoende ons argief-stukke veiliger bewaar. (Ons kan hier sommer – tussen hakies – aan mev Theron weer ‘n keer sê dat haar getroue dienste deur die jaar baie waardeer word. Ons vorige sekretaresse, mej P Bester, het ons na ‘n jaar van uitstekende en toegewyde diens aan die begin van hierdie jaar verlaat.)

Rondom die kwessie van kleure het daar weer vanjaar heelwat moeilikhede opgeduik. Mnr Murray Janson en sy kleurekomitee het soms lelik kop moes hou met alles. Dit blyk dat daar deur klubs nog nie streng volgens die reëls gewerk word met die toekenning van erekleure ens nie. Ook is die saak van kleurbaadjies wat maar nog altyd in Johannesburg sonder kleurkaarte verkoop word, ‘n moeilike kwessie. Mag die nuwe jaar hiervoor ‘n oplossing bring!

Met die koms van die nuwe teater – die Monte Carlo – vlak voor ons deur, het die moeilikheid opgeduik dat ons nie juis geneë voel om die plek te ondersteun as daar altyd volksliede na die vertonings gespeel word nie. Tot dusver is die werk van die SR in hierdie verband nog sonder definitiewe resultaat, en daar sal ‘n ogie oor die saak gehou moet word.

Die SSR het hom sedert verlede jaar daarop toegelê om ‘n beter stelsel van tug en dissipline in te voer. Dit is een van die noodsaaklikste aspekte in die lewe van enige georganiseerde groep mense, en in dié opsig, staan ons nog ver agter. Ons vertrou dat die jare hier meer wysheid sal bring.

Die finansiële beheer van die SSR het vanjaar op ‘n vaster voet as ooit tevore gekom. Dit moet toegeskryf word aan die lojale en onbaatsugtige diens van die penningmeester, mnr AM Hofmeyr en die finansiële komitee onder leiding van mnr LC Malan.

Ten slotte net ‘n woord van hartlike dank aan al die studenteraadslede vir hulle diens en getrouheid. Mnre LP van Breda (ondervoorsitter), LC Malan (sekretaris), AM Hofmeyr (penningmeester), P de Wit (assistent-sekretaris), moet hier in die besonder genoem word. Daarmee saam moet dadelik gesê word dat al die lede eintlik genoem behoort te word, want almal het ewe hartlik en ywerig saamgewerk. Dit was ‘n goeie, suksesvolle jaar. Mag die toekoms UP in sy algehele omvang steeds laat groter word in dié dinge wat standhou lank nadat ons as individue van die toneel verdwyn het!

Met hoogagting en dankend.
WD Jonker en LC Malan (SSR-voorsitters vir 1952)