VSR – Voorsittersverslae – UP

VSR –  VOORSITTERSVERSLAE

Willie Jonker en Leon Malan
(Voorsitters SR)
Universiteit Pretoria, 1952

Binnemuurs

Terugskouend oor ’n werkjaar wat alweer haas ten einde snel, bly daar vir hierdie Raad veel stof tot dankbaarheid. Dit was nie ’n jaar met groot revolusionêre gebeurtenisse nie. Geen eintlike omwentelings het plaasgevind nie. In die geskiedenis van Universiteit Pretoria (UP) sal 1952 as ’n gewone jaar onder baie ander jare vermeld word.

Tog is die belangrike dit: UP het in 1952 voortgebou op dit wat in die verlede bestaan het. Dit verg soms meer moed om doodgewoon te wees as om revolusionêr te wees, dit is soms pynliker om onoorspronklik te wees as sprankelend en nuut. Waar dit gaan oor die rigting van groot liggame soos ’n Universiteit, daar is oninteressante konserwatisme dikwels verkiesliker as verrassende omwentelinge.

Met vreugde kan ons dus sê dat die opvatting, gees en beleid van die VSR in die afgelope jaar dieselfde was as in die jare wat verby is. In beleid en strewe het die hart van UP nie verander nie. Dit het wel gelyk of UP vanjaar tussen twee pole beweeg het. Enersyds is daar in reaksionêre uiterstes verval deur mense wat van buite gedaag het, byna die handskoen toe te werp (gelukkig is dit nie gedoen nie!) en andersyds het die SR probeer om ’n vriendskaplike stap tot samewerking met ons Engelse mede-studente te doen (wat natuurlik misluk het!). Tot ’n werklike politieke krisis aan UP het dit egter nog nooit gekom nie, en ten spyte van al die belastering wat die Universiteit gedurende die jaar van buite moes ondervind, het die hart van UP dieselfde gebly.

Op administratiewe gebied was dinge minder rustig. Die neiging tot desentralisasie wat sedert die afgelope jaar merkbaar geword het, word nou sterker. Vanjaar het dit weer opgeduik in die gestalte van Medies se versoek om self hulle eie finansies te beheer, hulle publikasie van ’n eie blad naas “Die Perdeby,” en die populariteit van die woord “fakulteitsverteenwoordiging”. Met kalme oorleg sal al hierdie dinge egter onder die dak van ’n gesonde administrasie beheer kan word. Waar iets nie skadelik is vir die eenheid en die groei van die Universiteit nie, moet dit nie afgewys word omdat dit nuut is nie. Wat goed en waar en reg is, moet bestaan. Intussen gaan die SR egter voort met sy idee van samesnoering van aktiwiteite, soos blyk uit die inskakeling van die kultuurverenigings onder ASB en die stigting van die ASB-Volksraad.

Aangesien die grootste deel van die Administratiewe werksaamhede van die SR tans deur die SSR behartig word, verwys ek u na die verslag oor die SSR. Hier moet net nog drie sake genoem word.

  1. Die behuisingsprobleem aan UP is beslis nie gering nie. Dit is nie net waar van die individuele student wat daarop aangewys is om maar te kyk waar hy ’n verblyfplek kan vind, of dit goed is of sleg nie, maar ook van die Dagstudente-Huis wat geen eie Komitee- en ruskamer het nie. Die SR gee tans aan hierdie sake sy ernstige aandag.
  2. Die toekennings aan individuele studente is vanjaar ook weer gedoen. Aan vyf persone is die Studenteraadsbeurs toegeken, en die eremedalje aan dr Ernst Dinkelmann. Die SR weet dat sy toekennings in al hierdie gevalle aan waardige persone gegaan het.
  3. Die samewerking tussen die SR en die skakelbeampte, mnr CH Cilliers, was vanjaar beslis aangenaam en inspirerend. Tesame met hom wens die SR ’n gees van lojaliteit by Tukkies aan te kweek, Oudstudente op te spoor, en UP die status wat hy waardig is, in die harte en gedagtes van mense te laat verower. Mag dit so voortgaan!

Wat al die Binnemuurse verenigings betref was dit ’n eer en ’n plesier om aan die hoof van so ’n groep mense te staan en hulle sake te help bestuur. Daar was in allerlei opsigte veel entoesiasme merkbaar en dit stem tot dankbaarheid. Met die groter samesnoering van kragte onder ASB, die stigting van ’n Trekvoëlklub en die toevoeging van nog een tot die aantal fakulteitsverenigings, het UP getoon dat daar nog baie ondernemingsgees is.

Eindelik het ons nog die aangename taak om aan al die lede van die Binnemuurse Raad ’n hartlike woord van dank te rig vir hulle werk. Wat die Uitvoerende Komitee betref, dr Theron (ondervoors), AM Hofmeyr (penningmeester) en FH Grosskopf (sekr), moet ons alleen getuig dat hulle dienste van onskatbare waarde was. Aan entoesiasme het dit nooit ontbreek nie en hulle noukeurigheid het baie sake vergemaklik. Ook die ander lede van die Raad, mej A Schlebusch en mnre WC Malan, C Howell, I Bakker, CM Briers, W Bam en WJM Janson kom ons opregte dank toe. In ons herinnering aan UP sal die gedagte aan hulle ons nie net alleen bybly omdat hulle persoonlike vriende was nie, maar omdat hulle lojale en hartlike Afrikaner-Tukkies is wat die saak van hulle naaste op die hart dra en na die beste van hulle vermoë dien. Met die ondersteuning van sulke lede alleen was dit moontlik om die tuig op te neem en ’n verdere skof in die geskiedenis van UP vooruit te gaan.