Skitterende verweer van Suid-Afrikaanse student teen aanvalle van Roomse priester [1]
OP Vrydag 1 April het mnr. W. D. Jonker (M.A., B.D.) aan die Vrije Universiteit in Amsterdam gepromoveer tot Doktor in die Teologie op ’n proefskrif getitel: “Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie.” ’n Vlaag van voldoening het merkbaar oor die heelwat aanwesige Afrikaners en Nederlanders getrek toe die Rektor, Prof, J. Waterink, aankondig dat die graad “met lof” toegeken word. Daarna het Prof. G. C. Berkouwer as promotor die doktorsbul aan die jong doktor oorhandig met sowel woorde van lot vir sy vlyt en deursetting op akademiese gebied as heilwense vir sy toekoms as voornemende predikant in die N. G. Kerke in Suid-Afrika.
Met hierdie mylpaal het mnr. Jonker die kroon geplaas op ’n skool- en akademiese loopbaan wat seldsaam uitmuntend was. As seun van mnr., en mev. W. Jonker van Biesjesvlei, distrik Lichtenburg, het Willie Jonker in sy standerd VI-eksamen die hoogste punte in sy distrik behaal. In 1945 matrikuleer hy aan die Lichtenburgse Hoërskool met onderskeiding in vier vakke. Aan die Universiteit van Pretoria behaal hy in 1948 die B.A.- graad (met lof) en die B.D. (met lof) in die Fakulteit van die N. H. of G. Kerk in 1951. Gelyktydig met die B.D.-kursus het hy ook ’n kursus in Afrikaans-Nederlands voortgesit en in 1952 die M.A. (met lof) daarin behaal. Intussen het mnr. Jonker ook deeltyds lesings in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria gegee. Aan studente-aktiwiteite het hy ook ruimskoots deelgeneem; die studente-koerant en studente -jaar blad het hy agtereenvolgens geredigeer en in 1952 ook gedien as Voorsitter van die Studenteraad van die Universiteit van Pretoria.
In September 1952 vertrek mnr. Jonker na Nederland met ’n Unie-beurs, behaal die doktoraal-eksamen (teologie) ’n jaar later (met lof) en tans anderhalfjaar later ook die doktorstitel (met lof).
Mnr. Jonker is in 1952 kort voor sy vertrek na Nederland getroud met mej. Elizabeth Rossouw (B.A.), onderwyseres aan die Heidelbergse Hoërskool en oudstudente van die Universiteit en Normaalkollege te Pretoria. Uit die huwelik is een dogter in Nederland gebore. Dr. en mev. Jonker vertrek op 14 Julie na Kaapstad. Doktor Jonker hoop om in Junie die proponentseksamen af te lê, gelegitimeer en beroepbaar gestel te word in die gefedereerde N.G. Kerke.
In sy dissertasie wat lui: “Mistieke liggaam en kerk in die Nuwe Rooms Katolieke Teologie” gaan die skrywer in op ’n groot hoeveelheid literatuur wat sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog van Rooms-Katolieke kant oor die Kerk, en dan veral oor die Kerk as die liggaam van Christus, verskyn het. Hy toon aan hoedat die na-oorlogse tyd daarin geslaag het om ook in die Katolieke teologie ’n begeerte te laat ontbrand om die Kerk te sien as innig verbonde met Christus (soos die hoof en die liggaam), en as ’n lewende gemeenskap waarvan die lede deur liefde en die gemeenskaplike deelname in die heil onderling een is (soos die lede van die liggaam). Die Kerk word op hierdie wyse geteken as die gemeenskap van die heiliges of verlostes.
Hierdie opvatting van die Kerk is egter moeilik rymbaar met die eeu-oue opvatting van die Roomse Kerk dat die sigbare Rooms-Katolieke Kerk as sodanig en sonder meer die ware Kerk van Christus is. Volgens die Rooms-Katolieke teologie wat sedert die tyd van die Hervorming veral daarop uit was om teenoor die Protestantse opvatting dat die ware Kerk die “onsigbare” Kerk van ware Christus-gelowiges is, te verdedig dat die sigbare Rooms-Katolieke Kerk die ware kerk van Christus is, word iemand nie lid van die Kerk deur sy persoonlike verlossing as sodanig nie, maar deur sy lidmaatskap aan die Roomse Kerk. Dat iemand wat lid van die Roomse Kerk is, ook werklik gered word, word wel veronderstel, maar kan tog nie met sekerheid aanvaar word nie.
Daarom wil Rome die grense van die Kerk nie stel in die verlossing van die lidmate nie, maar slegs dit laat saamval met die sigbare lidmaatskap aan die Roomse Kerk, en daarby word dan die vraag of iemand werklik gered word of nie, as van minder belang beskou by die vraag of hy werklik tot die kerk behoort of nie.
Teen hierdie standpunt kom die jonger geslag wat die Kerk as die liggaam van Christus, en dus as die gemeenskap van verlostes verstaan, in reaksie. Op min of meer dieselfde wyse as die Protestantse teologie verstaan hulle die persoonlike deelname in die heil as voorwaarde vir die toebehoort tot die liggaam van Christus en onderskei dan hierdie toebehoort van die lede tot die liggaam van Christus van die sigbare lidmaatskap aan die Roomse Kerk, wat vir hulle nie vanselfsprekend die besit van die heil meebring nie.
Hierdie onderskeiding lê in die rigting van die Protestantse onderskeiding tussen ’n sigbare en onsigbare Kerk. Teen hierdie opvatting ontstaan heftige reaksie in die Rooms-Katolieke teologie, omdat verskillende Katolieke teoloë, en veral die pous self ook, daarin ’n bedreiging sien van die absolute gelykstelling van die sigbare Rooms-Katolieke Kerk met die ware Kerk van Christus. Op die diskussies rondom hieraan vraag het die skrywer ingegaan en hy sien in hierdie diskusies vrae na vore kom wat die Rooms Katolieke teologie deur al eeue besig gehou het, maar n steeds onopgelos is.
Sy konklusie is dan ook dat Rome nog altyd twee teenstrydige dinge in sy kerkbegrip wil versoen: enersyds die idee dat die kerk die gemeenskap van verlostes is, andersyds die idee dat die Kerk sonder meer die histories-geworde Roomse Kerk is.
In ’n slothoofstuk kyk hy krities terug oor die uitwerking wat elkeen van hierdie twee gesigspunte in die nuwe Rooms-Katolieke teologie te beurt geval het, en hy kom tot die gevolgtrekking dat daar in eintlike sin geen sprake kan van enige ooreenstemming tussen die Katolieke en die Protestantse opvattings van die Kerk nie, selfs al word eie Kerk ook deur die jonger geslag Katolieke as die liggaam van Christus verstaan.
Tydens die verdediging van sy proefskrif is mnr. Jonker hewig aangeval deur ’n hooggeleerde priester uit die Katolieke Kerk, dog mnr. Jonker het ’n moedige en waardige verweer opgewerp. Sy proefskrif vorm ’n loflike drae tot die literatuur van Protestantse teologie wat die soeklig werp op teologiese strominge in die Roomse-Katolisisme, veral sedert die eerste wêreldoorlog. Met sy kennis van resente Rooms Katolieke vakliteratuur en sy indringende besinning oor die Rooms-Katolieke denke oor die leer van die kerk, kan dr. Jonker die Protestantisme in sy Suid-Afrikaanse verskyningsvorm veel diens wees.
[1] Die Voorligter, vol. xviii(6), 15 Mei 1955, 18. Die Voorligter vermeld nie wie die skrywer is nie.