Boekbeskouing
Die Kerkbode lxxvi(5), 3 Augustus 1955, p 155
MISTIEKE LIGGAAM EN KERK IN DIE NUWE ROOMS-KATOLIEKE TEOLOGIE, deur dr. W. D. Jonker. Pp. 235. Prys: f. 5.90 (papieromslag). Uitgewers: J. H. Kok, Kampen.
“Nog nooit tevore is daar in die Rooms-Katolieke teologie so veel en so intensief oor die Kerk as die mistieke liggaam van Christus nagedink as in die tydperk tussen die twee Wêreldoorloë nie,” aldus die inleidende woorde van hierdie besonder aktuele akademiese proefskrif. Die outeur stel hom ten doel om ’n waardebepaling van die gedagtes van die jonger geslag van Roomse teoloë te gee. Waar hulle met geesdrif skryf oor die Kerk as mistieke liggaam van Christus, word hulle metterdaad gekonfronteer deur die vraagstuk aangaande die verhouding tussen die Kerk as corpus Christi mysticum en die sigbare Ecclesia catholica. Rome wil nl. tweërlei grondvorm in die ekklesiologie verdedig, wat die skrywer kenskets as die apologetiese of historiese én die dogmatiese. Eersgenoemde handhaaf op apologeties-geskiedkundige gronde : ubi Petrus, ubi papa, ibi ecclesia; laasgenoemde, op dogmaties-geestelike gronde ubi gratia, ibi ecclesia. En juis die strewe om hierdie per slot van rekening onversoenbare standpunte in een sintetiese geheel te beliggaam, beland die Roomse teologie in die onbenydenswaardige impasse.
So aantreklik word hierdie teologiese spyse opgedis dat ’n mens in die versoeking kom om oor soveel wat betragtingswaardig is, uit te wei; maar die perke van die bestek hou jou telkens teë. Derhalwe is ons genoop om ons net by die hoofmomente te bepaal. Veral op voetspoor van Thomas se leer van die gratia capitis Christi (d.i., die genade wat Christus as Hoof van die Kerk ontvang het, en wat Hy kragtens die hipostatiese unie in so ’n oorvloedige mate besit dat Hy dit aan sy lede kan meedeel) word groot klem gelê op die sogenaamde voortsetting van die vleeswording van Christus. Hierdie gedagte van die voortsetting van die inkarnasie word afhanklik gestel van die Thomistiese leer van die instrumentum coniunctum divinitatis, wat behels dat daar ’n regstreekse, eiendomlike, genade-mededelende fisiese werksaamheid van die menslike natuur van Christus in die lede van sy liggaam plaasvind. Met name in die eucharistie word die liggaam van Christus (en wel sy verheerlikte liggaam) ontvang, en só word die Kerk as liggaam weer veroorsaak. (Die konsekwensie van hierdie gedagtegang tree in die werk van Karl Pelz: Der Christ als Christus aan die lig.) Op hierdie eenheid met Christus is die eenheid in Hom gegrond – waarop ons ongelukkig nie nader kan ingaan nie.
Die jonger generasie van teoloë het wel alles in hul vermoë gedoen om die hiaat tussen die mistieke liggaam as genadegemeenskap in Christus en die sigbare Roomse instituut te oorbrug, maar sonder twyfel ten koste van die tradisionele standpunt. Van soveel belang het selfs die pous hierdie saak geag dat hy in die ensikliek Mystici corporis Christi (1943) ’n poging aanwend om die voormelde ekklesiologiese grondvorme met mekaar te versoen. Maar op die keper beskou, lê hy soveel nadruk op die historiese dat die genade geen sine qua non vir lidmaatskap van die mistieke liggaam van Christus is nie, en dat laasgenoemde en die sigbare Roomse instituut onvoorwaardelik vereenselwig word. Hierteen is daar weliswaar besware geopper, en iemand soos Journet aksentueer dan ook die eskatologiese aard van die Kerk, maar faal uiteindelik ook maar weer om, met verdediging van die genade-aspek, die antitetiese opvattings van die Kerk te verenig.
By wyse van kritiese retrospeksie handhaaf die skrywer o a dat die Kerk wel sigbaar is, maar ook dat deelgenootskap aan die mistieke liggaam sonder genade onmoontlik is. Voorts, as Rome die gereformeerde teologie van individualisme beskuldig, tas hy mis. Verder word aangetoon dat die Roomse beskouing van die inkarnasie en van die sakramentele bepaaldheid van die heil aan sy fisiese opvatting van die genade te wyte is.
Heelhartig kan ons ons daarmee vereenselwig dat hierdie fisiese genadebegrip “die sentrale en beheersende faktor is vir die opvatting van die corpus Christi wat Rome daarop nahou” (p. 200); maar juis hier mis ons in die tesis die vraagstelling waarom dit die geval is. M a.w. die kernvraag, wát die besondere cachet op die ganse Roomse teologie, in casu ook die genadeopvatting, afdruk, moes die aandag wat dit verdien in ’n werk soos hierdie geniet het. Van Roomse kant is dié bepalende faktor deur Erich Przywara (en ongetwyfeld tereg) gesignaleer as die analogia entis of syns-analogie – ’n syns-beskouing wat te kort doen ook aan die eie aard en mitsdien die radikaliteit van die genade. Dit wil egter nie sê dat ons nie hoë waardering vir hierdie waarlik voortreflike proefskrif het nie. Inteendeel, dit is tot verlustiging van die teoloog geskryf – deur ’n man wat met gawes bedeel is. Hier is ’n pennevrug van belesenheid, sin vir essensie, kritiese aanleg en, – dit wil ek aanstreep – wat, juis omdat die outeur sy stof beheers, nie in orakeltaal nie, maar met grote helderheid en logiese klem geskryf is. – F.J.M.P.