Die Kerkbode, lxxvii(3), 18 Januarie 1956, 94.
In Memoriam
Ouderling P. D. Roux
Deur dr. W. D. JONKER
DIE gemeente Johannesburg-Wes het op Saterdag, 17 Desember, ‘n groot verlies gely toe sy oudste en een van sy mees geliefde ouderlinge, Pieter Daniel Roux, aan die meeste van ons bekend as Oupa Roux, die ewige rus ingegaan het.
Ons volk het in oupa Roux een van sy stoere helde verloor. Die byna 80 jaar wat deur die Here aan hom op aarde geskenk is, is deur hom uitnemend in die diens van sy volk gebruik. Hy is op 8 Januarie 1876 te Dordrecht gebore. In daardie dae van woeling en gisting het sy geboorte beteken dat daar ’n hulpkrag in die stryd van ons volk bygekom het. Op betreklike jong leeftyd reeds skaar hy hom aan die kant van die mense van Die Patriot en hy voer saam met manne soos S. J. du Toit, C. P. Hoogenhout en ander die stryd vir Afrikaans as taal. Van sy gediggies, het daar verskillende in Die Patriot verskyn. Een daarvan het hy nog kort vóór sy dood weer gereproduseer. Ons haal slegs enkele reëls daaruit aan om te laat sien hoe fel die stryd werklik aangevoel is:
Afrikaanse huise op Engels gebouw
Afrikaanse huise met ’n Engelse vrouw
Afrikaanse taal word deur Engels gebreek
Afrikaanse predikant,- wat Engels moet preek,
Afrikaanse seuns loop op Engelse skoole,
Afrikaanse kinders gaan op Engelse skoole,
Afrikaanse volk wat op Engels wil werk,
Afrikaners die gaan na Engelse Kerk …..
Dit hoef ons dan ook nie te verbaas dat Pieter Roux nie die stryd van die twee Republieke kon aansien sonder om mee te doen nie. As rebel veg hy met die Boere saam, word eenkeer gevang en ter dood veroordeel, maar word weer losgelaat op grond van ’n dreigement van gen. De Wet dat hy al die Engelse gevangenes wat deur hom aangehou word, sou doodskiet indien die Engelse die krygsgevangenes, waaronder dan ook Pieter Roux, sou teregstel. Na die oorlog sit hy die stryd vir Afrikaans en vir die Afrikaanse kultuur voort. As daar alleen Engelse skole bestaan, is hy een van die stigters van die eerste C.N.O.-skooltjies, waarin hy ’n tyd-lank selfs as onderwyser optree.
Ons Kerk het in oupa Roux een van sy lewende en aktiewe lidmate verloor. Met groot getrouheid het hy deur baie jare as lid van die Kerkraad van verkillende gemeentes sy plek volgestaan. Hy was ’n ouderling wat huisbesoek kon doen, wat krankebesoek verstaan het, wat afgedwaaldes kon opspoor en na die kudde terugroep. Ons sal sy plek mis voor in die ouderlingsbanke; ons sal sy stem mis in ons gemeentebiduur, waar hy so gereeld teenwoordig was. Ons sal sy besielende belangstelling in die jeug van ons gemeente mis — Hy was een van die skenkers van die hoeksteen van ons kerksaal waarop die betekenisvolle woorde pryk: „Tot eer van God en tot heil van ons Jeug.” Tog, al sal ons hom mis, gun ons hom die verlossing uit die smartlike lyding van die laaste paar maande van sy lewe. Sy voorbeeld en getrouheid sal n stem bly wat tot ons spreek, ook al is hy nie meer by ons nie.
Onder blyke van groot belangstelling is sy stoflike oorskot ter aarde bestel. By die geleentheid het ds. L. C. Holtzhausen, vorige leraar van ons gemeente, by die graf woorde gespreek wat lank deur die agterblywendes onthou sal word. Ons gebed is dat die Here self sy agterblywende vier kinders sal vertroos, en hierdie roepstem aan hulle, sowel as aan ons gemeente, sal heilig.