Gedagtes oor die Kerklike Tug: Deel 2

Gedagtes oor die Kerklike Tug: Deel 2
WD Jonker
Die Kerkbode, lxxviii(16), 17 Oktober 1956, 701 – 702

In ons vorige artikeltjie het ons stilgestaan by die vraag of die tug werklik vir die Kerk noodsaaklik is, en tot die slotsom gekom dat dit vir die Kerk ’n saak van gehoorsaamheid aan God is om naarstiglik toe te sien dat die tug gehandhaaf word.  Ons wil hierdie week stilstaan by die vraag: Is die kerklike tug werklik moontlik?  Dit is tog immers so dat die Kerk as stelreël erken dat nie oor die innerlike van mense geoordeel kan word nie, en is die Kerk nou nie tóg besig om oor die innerlike van mense te oordeel wanneer hy die tug toepas nie?

Buitendien, is dit nie onbillik dat die Kerk alleen maar die tug toepas wanneer dit gaan oor sekere ergerlike, aanstootlike sondes nie, terwyl die talle geheime sondes van die gemeente en die duisende slegte begeertes – wat tog volgens die woord van Christus nie minder skuldig is as die daad self nie – ongestraf bly?  Maak die Kerk nie langs daardie weg die fout dat hy mense onder die indruk bring dat alleen growwe uiterlike dinge sonde is nie, en dat iets toelaatbaar is as dit maar net nie uitgevind word nie?  En eindelik: Christus het tog gesê: Laat die een wat geen sonde het nie, die eerste klip werp … wel, hoe kan die Kerkraad, wat tog bestaan uit mense wat self sondig is, ja miskien, as ’n mens so kan sê, sondiger is as die lidmaat wat geval het, dit oor sy hart kry om klippe op ander te werp?  Is dit, met die oog op al hierdie vrae, moontlik om die tug in die gemeente toe te pas, anders as langs die weg van die prediking en miskien selfs die persoonlike vermaning op huisbesoek?

As antwoord op al hierdie vrae moet ons op verskillende dinge wys.

Oordeel nie oor innerlike lewe nie

Dit is volkome waar dat die Kerk nie oor die innerlike van die mens oordeel nie, en hy doen dit ook nie wanneer hy die tug toepas nie.  Want wanneer die Kerk die tug toepas, oordeel hy juis nie oor die innerlike nie, maar, laat ons dit by wyse van kontras só sê, oor die uiterlike.  Wanneer iemand sy geloof bely, aanvaar die Kerk dit en reken met dié belydenis.  Dit is egter goed moontlik dat daar in die lewe van so ’n belydende persoon talle dinge oorbly wat in stryd is met sy belydenis: nee, dit is nie net moontlik nie, dit is in die lewe van elke gelowige belyder van Christus altyd tot aan die dood ‘n werklikheid dat daar baie swakhede in hom oorbly.

Dit is juis die stryd van die gelowige – dink maar aan Romeine 7 – dat daar nog soveel in sy lewe is wat nie pas by sy status as kind van God nie.  Wel, solank die gelowige oor dergelike dinge van harte berou het en voortdurend blyke gee van sy bewoënheid oor dergelike sondes wat teen sy wil nog in hom is, is daar geen sprake van die toepassing van die kerklike tug in eintlike sin op hom nie, en nog minder is daar sprake van dat die Kerk oor sy innerlike anders oordeel as wat sy belydenis is.  So is daar dikwels by die gelowige ernstige karakter-swakhede, ydelheid, ’n slegte humeur, allerlei (onbedoelde) afwykinge in die leer en ander swakhede in lewe.  Veral bly daar in die gelowige dikwels ’n groot stuk onbekeerlike hart vassit, en dit dra voortdurend allerlei slegte vrugte in sy lewe.

Al hierdie dinge is voor God deur-en-deur sondig.  God háát die kwaad – ook in die lewe van Sy kinders.  Maar, al is dergelike dinge voor God volstrek sondig, solank as wat hulle nie in die lewe van die gelowige ‘n openbare, ergerlike aard aanneem en aanstoot gee nie, val hulle nie onder die tug in eintlike sin nie.  Wel moet voortdurend in die prediking en persoonlike vermaning teen dergelike dinge gewaarsku word, en daarin is ook al ’n vorm van tug geleë, maar oor dergelike (relatief) verborge dinge word die tug in eintlike sin nie toegepas nie, omdat van die veronderstelling uitgegaan word dat ons daarin te doen het met dinge wat teen die wil van die gelowige nog in hom oorgebly het en langsamerhand deur die groei van die heiligmaking in hom oorwin sal word.  Die Kerk reken dus met die persoon se belydenis en oordeel glad nie oor sy innerlike nie.

Openbare sondes

Kom daar egter in die lewe van ’n lidmaat van die Kerk dinge voor wat in stryd met sy belydenis is, en dit neem ’n openbare ergerlike aard aan, dan spreek die Kerk hom deur die tug aan, nie om hom te oordeel nie, maar om hom daarop te wys dat sy lewe in stryd met sy belydenis is.  So ’n persoon word dan eers vermaan om hom van sy bose weg te bekeer.  Blyk dit dat daar werklik innige berou by hom bestaan, dan hou die tug in eintlike sin op om te fungeer.  Hoogstens kan dan nog van die betrokke lidmaat verwag word om duidelike blyke van sy berou te gee, bv. deur in die openbaar (voor die Kerkraad) belydenis te doen van sy dwaling en om hom vir ’n tyd soos deur die Kerkraad bepaal, van die sakramente te onthou.  Volhard hy egter teen alle vermaning in op sy dwaalweg, dan het die Kerk geen ander keuse nie as om te besluit dat sy belydenis nie meer vir hom erns is nie, want dan sou hy óf gebreek het met sy sonde, óf ten minste in diepe ootmoed sy skuld erken het en sy stryd daarteen bely het.  Waar in alle beskeidenheid en na lang beraad deur ’n Kerkraad tot hierdie konklusie gekom word, dáár tree die tug in eintlike sin op om langs ’n meer drastiese weg tot bekering te roep.

Ons kan dus sê dat die Kerk in sy uitoefening van die tug geensins oordeel oor die innerlike van die mens nie, maar dat hy slegs daarop uit is om in sy verkondiging van die erns daarvan dat Christus Sy genade aan ons wil skenk, konkreet te word, en te waarsku teen ’n onbewoë, ergerlike verset teen dié genade.  Daarom kan ook nie gesê word dat die uitoefening van die tug die indruk wek dat slegs growwe uiterlike dinge sondig is nie, want dit is nie die idee van die tug dat álle sonde onder die tug in eintlike sin behandel moet word nie, maar slegs dat die vinger gelê moet word op die eintlike kern van die sonde: die onbewoë, ergerlike verset teen Gods genade.  Dié onbewoë verset mag daar ook al wees in die verborge sondes van die hart, maar omdat die Kerk nie oor die innerlike oordeel nie, kán hy dergelike sondes nie reeds tugwaardig verklaar nie.  Slegs wanneer dié verset sigbaar en aanstootlik na vore tree, tree die kerklike tug in eintlike sin in.

Niemand is goed nie

Dit is waar dat Christus gesê het dat die een wat sonder sonde is, die eerste klip moet gooi op die arme, sondige vrou, en daarmee het Hy vir eens en altyd aan ons getoon hoe ontsettend dit is as ’n mens hom oor ’n ander mens verhef en hom verbeel dat hy beter of heiliger as die ander is.  Daarmee het Christus die heimlike en openlike genot wat mense dikwels het wanneer hulle ander se swakheid hekel – of dit nou in ‘n skinderpraatjie om die teepot is, of by ’n vergadering van die Kerkraad – blootgelê as ’n stuk geveinsde hardheid van hart.

Maar Christus het met hierdie uitspraak glad nie die kerklike tug veroordeel nie.  Want in die kerklike tug is mense nie in hul privaat hoedanigheid besig om andere te veroordeel en te beskimp nie, en veral is hulle nie besig om te probeer voorgee dat hulle self baie beter mense as die arme gevalle persoon is nie, maar hulle is as gemeente van Christus, en in die besonder as die ampsdraers van die gemeente van Christus besig om in liefde die afgedwaalde na die kudde terug te roep.  Daarom is dit verkeerd om van die tug as straf te spreek.  Die doel van die tug is nie om mense te straf of te “laat boet” vir hul sondes nie – Christus het immers ons straf gedra, het vir ons geboet – maar die deel van die tug is om die sondaar tot bekering te roep.  Alle tug is dáárop gemik dat die één afgedwaalde skaap terug moet kom na die orige nege-en-negentig.  Waar dit gebeur, word Gods eer in die gemeente gehandhaaf en word dit ook duidelik dat die gemeente heilig moet wees soos God heilig is.  Dit is nie die doel van die tug om ’n persoon af te ransel, uit te sluit en weg te drywe nie, maar juis om tot sy eie beswil hom vermaan:  Word wat jy in Christus op grond van jou belydenis is!  ’n Persoon wat dus onder tug geplaas word, word nie weggejaag nie, maar is deur sy verset teen die genade reeds ver van Christus, en die bedoeling van die tug is om dit aan sy verstand te bring en by hom te pleit:  Kom tog terug, jy hoort hier by die kudde, nie daar by die wêreld saam met wie jy nou leef nie!  Die bedoeling van die tug is dus om ‘n lidmaat eerlik te behandel en daarin die voorbeeld van Christus te volg.  Wanneer ons dit eers besef, val baie ongegronde besware teen die tug vanself weg.

In Naam van Christus

Wanneer die Kerkraad dus besig is met die tug, is die vraag nie of daar onder die lede van die Kerkraad mense is wat self miskien heimlik sondiger is as die persoon op wie die tug toegepas word nie, want hulle sit nie daar om klippe te gooi nie, maar om in Naam van Christus hul ampsplig te vervul.  Christus het ampte in Sy Kerk ingestel om Sy kudde te versorg, en een van die verpligtinge by die versorging van die kudde is om die afgedwaaldes op te soek en na die kudde terug te bring.  Soms is dit nodig om ’n moedswillige skaap met die herderstaf hard te slaan voordat hy gewillig is om teruggekeer te word, en soms hardloop dié moedswillige dier in sy dwaasheid nog verder weg as hy merk dat die herder hom soek.  Maar dit mag die herder nie ontmoedig nie: hy moet sy plig doen.  Christus het die sleutelmag nie net opgedra aan Petrus nie (Matteus 16: 18-19), maar ook aan die ander apostels (Johannes 20: 21-23), en aan die apostels tesame met die gemeente (Matteus 18: 15-18).

Dit beteken dat die gemeente, en in die besonder sy ampsdraers, van Christus die gesag ontvang om in gehoorsaamheid aan die Woord van Christus uit te maak hoe Christus in ‘n bepaalde geval oor die doen en late van mense sou oordeel.  En daarom is dit vir ‘n Kerkraad nie net moontlik nie, maar ook ’n dure plig om voortdurend en nougeset die sleutelmag te hanteer.  Daarin doen die Kerkraad dan ook niks “onbilliks” nie, want hy handel daarin nie net in gehoorsaamheid aan die opdrag van Christus nie, maar hy voer ook ’n versoek uit wat elke lidmaat by sy openbare belydenis aan hom rig:  Laat my tog nie alleen nie, en as ek af mag dwaal, roep my tog terug, want ek onderwerp my graag en gewilliglik aan die kerklike opsig, en, indien ek my mag misgaan – mag God dit verhoed! – aan die kerklike tug!